AMOR VITTONE – EK BLY NET ‘N MA

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Natuurlik het Amor toe sy op die ouderdom van 16 Body Beat op TV aanbied en kort daarna Supersport, geweet sy gaan nog vir jare Suid Afrika vermaak. As daar nou een kunstenaar is wat eenvoudig net ALLES het, is dit sy. En dit sluit nie net ‘n see vol talente in nie, maar ook die moed en krag om woestyne kaalvoet te kan aandurf. Amor Vittone gaan lê eenvoudig net nooit! As sy nie dans in van die land se grootste produksies nie, dan be-oordeel sy danskompetisies. As sy nie Zelda in 7deLaan speel nie, bied sy TV-Programme aan soos Legkaart BonanzaMainly for MenTop Billing, In die kryt met Joost en Amor en Droomhuis. As sy nie sing en spog met rye gouestutusplate nie, pruik sy sprankelend op die voorblaaie van die land se bekendste tydskrifte soos HuisgenootYouSarieInsigVrouekeurDe Kat, Fair Lady en Marie Claire. ‘n Superster; asook ‘n superster-ma!

Haar eerste Goue album, VOLUIT het binne ses maande meer as 20 000 eenhede verkoop. Daarna volg die een na die ander album en ons deel haar sukses. Soms moes ons saam met haar trane afdroog, maar by Amor kan ons leer van opstaan en voluit leef.

In 1999 word sy aangestel as aanbieder van Road 2 Riches en ons almal het gedroom dat sy dalk ons drome gaan waar maak as daardie balle val. Maar as jy dalk nou nie een van die gelukkiges was nie, het sy seker gemaak haar drome word waar. En sy is nog lank nie klaar nie…

Benewens die rye en rye toekennings, voorblaaie en TV sukses, is Amor ook Ma. Dalk een van die grootste voorregte wat bo enige talent uitstaan as jy haar sou vra. En met haar nuutste album, EK BLY NET ‘n MA, wys Amor ons dat haar toekennings nie na haar kop toe gegaan het nie, maar sy besing die voorreg van ma-wees met haar groot treffer, EK BLY NET ‘n MA. AS DIE WêRELD GAAN STAAN is ‘n opbouende, positiewe lied. Amor deel haar hart en siel met ons op hierdie album waarvan sy 9 van die liedjies self geskryf het saam met die befaamde Marius Brouwer. Marius was ook die uitvoerende vervaardiger van die album, en ons weet hy is van die meesters in die bedryf.

EK MIS JOU en EK VAL VIR JOU deel sy dalk haar hart, of maak sy joune sag met haar unieke stem wat jy amper versigtig wil na luister, want dis suiwer en skoon soos kristal.

Met NONNO NONNA (ma en pa) en VOGLIO CANTARE kom haar Italiaanse agtergrond na vore en is dit nie die mees sjarmante taal op aarde nie? Natuurlik; daardie sjarme vloei in haar are.

Amor is een van die min mense wat al haar talente inspan om drome waar te maak. Iemand wat ander inspireer en wat regtig voluit leef. Nie net vir wêreldse drome nie, maar ook leef vir haar familie en haar kinders. Jy kan dit duidelik hoor in elke woord van elke lied.

Amor word net mooier, wyser en kruip dieper onder elkeen se vel in met tyd. Hierdie is ‘n goedvoel album en een van daardie wat jy moet hê.

Sy gaan jou inspireer om la dolce vita te leef!

MEDIAVRYSTELLING

Datum: Oktober 2018

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Tel: 011 475 2187; Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Related posts