Charlize Berg straal innerlike krag uit met nuwe enkelsnit en video!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

“Dit gaan oor innerlike krag, selfliefde en –aanvaarding en selfvertroue om net jouself te wees, ten spyte van wat die samelewing verwag,” verklap die bekroonde sangsensasie, Charlize Berg, oor die betekenis agter haar splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, YSTER IN DIE VUUR, wat pas vrygestel is en reeds oud en jonk gaande het.

Hierdie treffende popsnit, wat sy saam met haar tweelingbroer Jake Burg geskryf het, is een van daardie liedjies wat jou dwing om stil te staan en na die lirieke te luister. Nie net omdat jy verstom is deur haar pragtige stem en die emosie wat duidelik teenwoordig is nie, maar ook omdat die wysie jou dadelik meevoer. “Die boodskap van hierdie lied lê my na aan die hart. Ek hoop dat dit luisteraars sal inspireer om weer in hulle self te glo en krag te kry om bo enige uitdaging uit te styg. Om innerlike krag uit te straal, net soos yster wat gloei wanneer dit verhit en gevorm word deur die vuur,” sê sy. “Almal gaan soms deur moeilike tye en het motivering nodig om aan te hou veg om daar deur te kom. Om in jouself te glo, is al hoe jy hierdie struikelblokke kan oorkom.”

Die musiekvideo is in Follicle Hair Atelier se Hazeldean Photographic Studio verfilm deur Pierre Smith en die idee was om die storie, wat saam met haar vriendin Sue-Marie geskep is, so eenvoudig en eerlik as moontlik te hou. “Ons het begin deur grimering en hare te doen en soos wat die liedjie vorder, word alles verwyder en skep dit ’n oomblik van vryheid en verlossing vir die vroue om te wees wie hulle regtig is en weg te breek van die samelewing se vooropgestelde idees,” verduidelik die sangeres. “’n Groepie pragtige vroue en meisies het saam met my deel gevorm van hierdie sterk boodskap, met Follicle Hair se Walter Wurth wat hare en Alicia van Ubella wat grimering gedoen het.”

Kyk die video hier:  https://youtu.be/tVeLiRGrAa0

Haar nuutste enkelsnit volg in die suksesvolle voetspore van vorige suksesvolle treffers, waaronder As Jy Weet Dis Liefde, My Hart Myne, Braaf, You & I, Hallo Hallo, Waar is jy Romeo? en vele meer.

Charlize Berg, haar debuut-album, is in 2011 vrygestel en is in 2013 gevolg deur Deluxe Weergawe, ’n verwerking van haar debuutalbum wat agt nuwe treffers ingesluit het. Sy het in 2013 ook ’n Engelse album in Los Angeles opgeneem, waar sy ook aan die Musexpo-musiekfees deelgeneem het.

In 2016 is haar Ghoema-bekroonde derde album, As Jy Weet Dis Liefde, uitgereik wat verskeie nommer een-treffers opgelewer het en steeds baie goed verkoop. A Magical Christmas With Charlize Berg, die eerste album van ’n reeks vrystellings wat sy beplan, het die rakke in Desember 2018 getref en is dadelik deur aanhangers opgeraap. Nog ’n album, in hierdie reeks, word vir later vanjaar beplan.

As jy haar uitvra oor waar haar musiekinspirasie vandaan kom, sê sy: “Sodra ’n instrument speel, soos ’n klavier of kitaar, lei dit my na ’n plek van inspirasie. Ek sing slegs dit waarby ek aanklank vind en wat by my stem pas. Om opreg te wees in my vertolking van liedjies, veral ballades, moet ek baie van myself in die boodskap sien. Dit is vir my belangrik om oomblikke van eerlikheid en weerloosheid in my musiek te hê, veral tydens lewendige optredes.”

Wanneer Charlize nie op die verhoog is nie, is sy ook die ma van ’n pragtige babadogtertjie en werk sy aan die ontwikkeling van haar eie velsorgreeks, LeBerg Prestine Skincare, wat vanjaar bekendgestel word. Sy fokus ook hard daarop om gesond te leef, omdat sy gebore is met ’n siektetoestand wat al baie uitdagings veroorsaak het in die verlede. Dit is daarom ook glad nie vreemd dat sy erken dat sy graag ’n sielkundige sou wou wees as sy nie ’n musikant was nie. “Dit sal lekker wees om ander te kan help met emosionele probleme, omdat ek baie daarmee identifiseer. Min mense weet dat ek soms sukkel om my loopbaan en gesondheid te balanseer. Ek is gebore met ’n toestand wat my lewe op tye onderstebo draai en partykeer gaan dit maar moeilik, fisies en emosioneel. Gelukkig loop ek ’n pad met God en is ek geseënd met ’n goeie ondersteuningsnetwerk,” vertel sy.

Ikoniese legendes met groot stemme soos Celine Dion, Whitney Houston, Adel, Barbra Streisand, Amy Winehouse en Mariah Carey inspireer haar omdat hulle so talentvol is en sy sou nog graag eendag saam met sterre soos David Foster of David Guetta wou werk en in ’n Broadway-musiekblyspel wou optree. Maar vir nou werk sy hard aan haar passie en hou sy die dinge wat regtig saakmaak in die lewe naby aan haar hart.

Charlize Berg wil graag permanente voetspore in die harte van luisteraars los en met uitstaande gehalte liedjies soos YSTER IN DIE VUUR kan ’n mens sien hoekom sy dit so maklik en moeiteloos regkry. Die enkelsnit is uniek en outentiek en word perfek gekomplementeer deur haar sterk klassieke stem en onblusbare passie vir musiek.

YSTER IN DIE VUUR is beskikbaar op alle digitale platforms.  Kry die liedjie nou hier:

ITunes link: https://itunes.apple.com/za/album/yster-in-die-vuur-single/1456704168

Deezer Link: http://www.deezer.com/track/650770062

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://web.facebook.com/CharlizeBergArtist/

Twitter: @charlizeberg

Instragram: @charlizeberg

Webblad: www.charlizeberg.co.za

BESPREKINGS

Marnus Bishoff

Sel: 066 346 2036

E-pos: info@mangoenter.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Alani Coetsee – PUBLICISTalani@starburstmusic.co.za / 072 442 6918

Starburst Promotions 
   Office: 083 635 4717 
http://www.starburstmusic.co.za

Related posts