Dirk Lazenby – SONSKYNLIEFDE

Die liedjieskrywer-sanger Dirk Lazenby sing al vyftien jaar lank en kry die afgelope paar jaar stemopleiding by die musiekonderwyser Riana van Wyk. Met sy suiwer tenoorstem beweeg hy gemaklik en oortuigend tussen ligte klassieke werk, jazz, blues en country.

Sy debuutalbum, Sonskynliefde, is ‘n romantiese reis met twaalf snitte wat die vreugde van die liefde ontgin.

Dirk het die lirieke van vier (Sonskynliefde, Omdat ek jou lief het, Deel van my en Dit sal wees) van die twaalf snitte geskryf. Die musiekvervaardiger Riaan Steyn het die musiek daarvoor geskryf. Hy het ook twee Eurovisie-inskrywings (We Are The Heroes en Love Is Blind) van 2012 in Afrikaans verwerk as onderskeidelik Ek wil jou held wees en Jy’s die een vir my. Dié progressiewe liedere ontgin Dirk se vokale vermoënsuitdagend.

Die orkestrasie is gestempel met ‘n  stewige klassieke inslag, klankryk gevou in luisterryke konsertsaalswier Dirk se interpretasie van onder meer  Arthur Hamilton se Cry Me A River (wat onder meer deur  Ella Fitzgerald en Michael Bublé opgeneem is) is bewys van sy veelsydigheid en bekoring in die swing-genre.

Min kunstenaars durf werk van Danie Niehaus waag, maar Dirk slaag daarin om die tydlose romantiese treffer Simoné eiesoortig vars en oortuigend te vertolk.

Veral  indrukwekkend is  Dirk se weergawe van Smokey Robinson se Who’s Lovin’ You; ‘n lied wat onder meer ook deur The Jackson 5 opgeneem is Dirk se vaardigheid as soul-sanger word hier blink gepoets. Inteendeel, die geestelike werk – Jesu Joy of Man’s Desiring en Amazing Grace –  is die toonvenster van Dirk se intensiteit as vertolker.

Dis ʼn strelende album met mooi musiek deur ʼn sanger wat kán sing!

LIEDJIELYS

1 Sonskynliefde

2 Ek wil jou held wees

3 Cry Me A River

4 Omdat ek jou lief het

5 Jesu Joy of Man’s Desiring

6 Deel van my

7 Jy’s die een vir my

8 Dit wat sal wees

9 Who’s Lovin’ You?

10 Dans in die reën

11 Simoné

12 Amazing Grace

Vervaardig en verwerk

deur Riaan Steyn

In Maart 2018 uitgereik deur

Traxtudio Worldwide Distribution & Red Revolution

KITSFEITE

Verjaardag: 2 September (1993)

Dié gebore Gautenger woon deesdae in Oakdale, Belville, Kaapstad

Instrumente: Klassieke kitaar

Hoogtepunte: 
Wen verskeie sangkompetisies, onder meer die Barnyard-teatergroep se talentsoektog in die jazz-afdeling.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →