Esmond – 24/7

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Esmond het al vroeg af geweet, sing is sy ding. Op die ouderdom wanneer ander seuns nog bloedrooi bloos as hul net moet opstaan, toe raap Esmond al die een na die ander medaljes op by al wat ‘n kunswedstryd en kompetisie is. Wanneer jy die groot musiekwêreld betree, dink mense soms dat al daardie klein kompetisies en medaljes dalk nie veel werd is nie, maar die grootste daarvan is die selfvertroue en ondervinding wat dit jou gee. Vrees vir ‘n verhoog is daar nie meer, en hy weet hoe om sy gehoor te betower.

Esmond het pas sy 4e album vrygestel getiteld 24/7, wat beslis op die treffersperades gaan boer dag en nag.

Mag ek my verstout om hom die Justin Bieber van Suid-Afrika te noem? Nie net kan hy sing nie, maar met sy slaapkamer-oë gaan hy harte van oud en jong sag maak soos wolkies.

Sy nuwe album is gelaai met treffers soos EVERGREEN van Will Young, ons Idols-man wat net soveel harte gesteel het. SPEEL DIE MUSIEK gaan jou voete laat jeuk! Dan is daar die groot treffer van die Kelly-family, BECAUSE IT’S LOVE wat hy smeulend oor die note sweef. MY HELE HART is ‘n Hollandse treffer wat Romanz hier by ons bekend gemaak het, en Esmond gee dit ‘n heel nuwe geur. Verrassend was dit nie om CRAZY van Willie Nelson te hoor; ‘n liedjie wat dekades ouer as die sanger self is nie. En dan pak Esmond twee reuse aan; BED OF ROSES en SOUND OF SILENCE van Paul Simon. Wanneer ‘n sanger laasgenoemdes kán sing, dan moet jy weet hulle het wat dit vat.

Esmond het ook al gaan draai, soos baie ander bekende sangers, by die bekende World Championships of Performing Arts kompetisie waar net die room Los Angeles toe gestuur word – hy was deel daarvan!   Ons geliefde Christa Steyn het hom gebruik in haar produksie, Die Houtkruis.

Die plek is te min om die rye en rye medaljes en kompetisies op te noem wat hy al gewen het nie. Dít alles, om hom gereed te maak vir die groot bedryf. Hy sing met ‘n moderne, internasionale aanslag; is smeulend op die oog en gaan ‘n paar se harte so effens vinniger laat klop.

Verdwaal in sy oë en laat sy stem jou ore bederf.

Related posts