
“As jy bly opstaan, maar ook bly val. As die slaap jou roep, maar jou nooit kom haal. As die trane bly oor jou wange rol, kom skuil by my…”
Die gewilde popsangeres Chané Valentine is terug met die mooiste melodie en lirieke wat beloof om direk met die siel (en ook met die voete) te praat.
Kom skuil by my is haar eerste enkelsnitvrystelling sedert sy in 2017 haar tweede album Die Verkiesing bekendgestel het. Dié liedjie bou voort op die kontemporêre-pop wenresep waarvoor sy bekendheid verwerf het, maar splinternuwe popopskop- en danselemente is in die liedjjie verweef wat sterk aan Selena Gomez se klanke en ritme herinner.
Dié enkelsnit, uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Vaughan Gardiner, is geïnsprieer deur Chane se menswees. Vaughan het al voorheen verskeie liedjies vir haar geskryf en met Kom skuil by my het hy weer bewys dat hy volgens die kunstenaar se stem en persoonlikheid skryf.
Chané, wat al deur die lief-en-leed van die lewe gevorm is, is ‘n warm mens wat altyd haar “vlerke oophou sodat mense onder dit kan skuil.”
“Ek is ‘n mense-mens en ek wil hê mense moet die liefde wat uit my straal kan sien. AL kan ek net aan een hartseer mens se lewe ‘n verskil maak, is ek dankbaar,” vertel sy.
Om die rede het sy nie net aanklank by die lirieke gevind nie, maar dit ook op ‘n unieke manier geïinterpreteer sodat aanhangers die volle oorgawe van haar sterk, ritmiese sopraanstem kan ervaar.
Chané vertel: “Daar is soveel hartseer in die wêreld. Soveel mense rondom ons is alleen en het niemand om na uit te reik nie. Soveel mense skuil agter maskers, want hulle wil nie hê ander moet hul pyn sien nie. Teleurstellings kom op jou pad. Leer daar uit en beweeg aan. Moet nooit ophou droom nie. Werk elke dag hard en gun almal ‘n plekkie in die son.”
Kom skuil by my het ’n opbouende wysie wat verweef is met ander sterk musiekelemente en betekenisvolle lirieke wat by gehore van alle ouderdomme sal byval vind.
Kom skuil by my is op pad na radiostasies landswyd en ’n musiekvideo van dié liedjie sal ook binnekort beskikbaar wees.
Uitgereik deur: Artists Village
Kunstenaar: Chané Valentine
Liedjie: Kom skuil by my
Opname en produksie: Byron Kuntz
Geskryf deur: Vaughan Gardiner Media navrae: Ferdi Steyn
Tel: (012) 753 2242
E-pos: ferdi@artistvillage.co.za
