MUSIEKROEP, GnT, SE EERSTE KUIER-ALBUM IS HIER!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Dit is allermins moeilik om lekker te kuier op Eugene ‘Gino’ Prinsloo en Thys Beukes, van die groep GnT, se splinternuwe album, KUIER SAAM, wat binnekort op die rak beskikbaar is. Dit was immers die doelwit met dié vrystelling… wat letterlik aan elke oor se musieksmaak sal voldoen.

Hierdie CD, wat hoofsaaklik Afrikaans is, kan beskryf word as ’n lekkerluister versameling wat enige partytjie aan die gang kan kry, maar jou ook soms diep sal laat nadink. Die sangpaar beklemtoon dan ook: “Die idee van die album is om lekker te kuier, luiddrigtig saam te sing, maar ook om te vereenselwig met die liedjies wat wel ’n ernstiger kant het. Dit gaan oor gewone dinge wat elke dag gebeur soos daardie spesiale iemand, die braaivleisvuur en kuier met familie en vriende. Elke liedjie het ’n storie en ons het probeer om dit so te vertel, dat die luisteraars dit in hulle geestesoog kan ervaar.”

KUIER SAAM het ’n bietjie langer as ’n jaar geneem om op te neem, omdat hulle oorspronklike materiaal versamel het met ’n lekker atmosfeer, wat ook goed sou klink om op te voer. “GnT gaan oor kuier en lekker tye, so ons het iets gesoek om by ons beeld te pas. Daar is ook so ’n hoendervleismooi liefdesliedjie of twee vir spesiale mense in ons lewens. Ons moes snitte kry wat ons altwee se sterkpunte uitwys, want alhoewel ons stemme baie goed bymekaar pas, kan ons dit individueel ook gebruik om ’n bietjie verskeidenheid te skep,” verklap hulle.

Alhoewel hulle nou nie gunstelinge wil uitsonder nie, erken Thys dat hy baie van Dis ’n Manneding hou omdat hy ’n boerseun is wat dit geniet om rondom die vuur te kuier saam met goeie vriende, terwyl Gino weer Dit Klap So en Liefde Is In Beheer die meeste geniet. “Ons het regtig probeer om elke tipe genre in te sluit, van country tot pop, en wysies te skep wat luisteraars in die toekoms sal herken,” sê die sangers. Aanhangers kan ook uitsien na unieke verwerkings van drie bekende snitte, waarmee GnT tydens hulle vertonings bekendheid verwerf het oor die afgelope paar jaar.

Die duo, wat self ook ’n paar liedjies neergepen het, het by groot name in die bedryf aangeklop vir hulp en daar is heelwat potensiële treffers op die nuwe vrystelling. Langsaan Mekaar Wakker Word, die eerste enkelsnit, is geskryf deur Rouxhan Cloete en is ’n polsende popliedjie wat ook lekker gaan werk vir die radio. Dit is ’n treffer waarmee almal kan vereenselwig en gaan oor ons elkeen se soeke na die een en vertel dat almal op ’n kol vir iemand ogies maak in ’n kuierplek, wat soms tot iets lei en ander kere tot niks. ’n Musiekvideo, wat saamgestel is uit lewendige optredes, word ook binnekort uitgereik.

Gino en Thys kom albei van Kimberley af en het een aand in ’n kuierplek ontmoet waar Thys opgetree en Gino klank gedoen het. Hulle het onmiddellik gekliek en gespot dat hulle dalk iets moet saamdoen en so is die idee vir GnT gebore. Beide van hulle put inspirasie uit kunstenaars wat hard moes werk om sukses te behaal. “Baie van ons plaaslike sangers moes hard woeker met hulle talent en wilskrag om dit te maak in hierdie uiters kompeterende bedryf, maar ’n aanhouer wen,” meen hulle.

Die duo het nog baie planne vir die toekoms, waaronder ’n lekker gospelvertoning vir later vanjaar, ’n landswye toer, optredes by ’n paar musiekfeeste en kuierplekke en natuurlik later nog ’n album. Hulle probeer ook altyd om saam met bekende kunstenaars te werk en het groot bewondering vir Theuns Jordaan, Jo Black, Armand Joubert en Bobby van Jaarsveld se musiek.

KUIER SAAM is nie net ’n bewys van dié musiekgroep se talent en passie nie, maar gaan beslis ook koning kraai op die dansvloer van elke partytjie en die agtergrondmusiekkeuse wees wanneer vriende en familie saamkom. Dit is die perfekte keuse vir enige musiekversameling en gaan vir GnT ’n stewige plek in die Afrikaanse Musiekbedryf vestig.

VOLG HULLE OP

Facebook – https://www.facebook.com/GandTmusicians/

GnT – KUIER SAAM

LANGSAAM MEKAAR WAKKER WORD

ISRC  :  ZA-8BN-18-00006

ROUZAN CLOETE / UNIVERSAL PUBLISHING

     Vir enige navrae  kontak Lydia Winchester / lydiaw@mweb.co.za

Related posts