
Die manne van DZL word daaraan geken dat hulle nie iets op die gewone, tradisionele manier doen nie. Dit blyk duidelik met die bekendstelling van hulle nuwe enkelsnit ‘Het Jy Al Gelewe’ wat vandag, 23 Maart 2018, op radiostasies regoor die land vrygestel word. Die manne het ook ‘n lekker verrassing vir hulle ondersteuners; die publiek kan ook ‘n avontuur saam met Andries en Wiaan wen.
Lede van die publiek word uitgenooi om hulle stories te vertel waartydens hulle die lewe as te waar by die horings gepak het. Die beste stories wen dan ‘n avontuurlustige uitstappie met die twee manne.
‘Ons hou mos
daarvan om altyd iets mal aan te vang wat die bloed deur jou are laat bruis en
daarom gee ons lede van die publiek die geleentheid om so ‘n avontuur met ons
mee te maak,’ vertel Andries.
‘Het jy al gelewe’, die eerste enkelsnit vanaf DZL se nuwe album, is ’n
lekkerluister country-popdanstreffer wat gaan oor die vreugde van die lewe en
om elke oomblik saam jou beste pêl of geliefde te geniet.
Die musiekvideo, wat ook eerskomende Maandag op SABC 2 se Kliphard-program
bekendgestel word, is in Thailand verfilm en sal aanhangers inspireer om ’n
tassie te pak en te gaan kyk wat die lewe het om te bied.
‘Die lewe is ernstig en ons almal is op
soek na iets wat jou ’n wegbreekkans kan gee. Hierdie is daardie tipe liedjie
wat jou vir ’n oomblik kan wegvoer na ’n plek van ontsnapping en jou sal
uitnooi om lighartig saam te sing,’ verduidelik Wiaan.
Suid-Afrika se aantreklikste sangduo is terug met ’n splinternuwe album, REALITEIT,
wat nie net gaan voortbou op die unieke alternatiewe country-popklank waarvoor
hulle bekendheid verwerf het nie, maar ook die kieskeurigste musiek-oor tevrede
sal stel. Die album is kan reeds op iTunes bestel word en is 6 April in
musiekwinkels regoor die land beskikbaar.
DZL, wat bestaan uit Andries
Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie, se tweede album bestaan uit ‘n kombinasie
van opgewekte deuntjies en hartroerende ballades en beloof om aanklank te vind
by oud en jonk. Die cd bestaan uit tien oorspronklike liedjies, waarvan twee
deur die sangpaar self geskryf is, en sluit ook drie duette asook verwerkings
van ou gunstelinge in.
‘So baie van wat ons doen is in ons
musiek en dit is ’n realiteit vir ons, want ons is wat ons sing en sing oor wat
ons ervaar. Ek wil hê luisteraars moet hulself in ons liedjies herken. Dit gaan
oor die daaglikse goed in die lewe, soos geloof, emosie, groei, uitdagings en
opgewondenheid, wat ons almal elke dag ervaar,’ verklap die groep se
stigterslid, Andries.
‘Ek en Andries het so ’n passie vir die
bos, die natuur en die lewe en daarom wou ons dit in ’n album vervat wat ons
lewenspaadjie uitbeeld. Geen voorgee, net realilteit,’ voeg Wiaan by.
Ses van die nuwe vrystelling se liedjies kom uit die pen
van bekende liedjieskrywer, Roux Cloete, terwyl Rhino in Our Blood deur
die oorlede kwaito-ster, Mandoza, geskryf is. Hierdie hoendervleismooi-snit is
deur Daniel Baron vervaardig en sluit dele in waarin die musieklegende,
Mandoza, self sing. Wees Iemand, is ’n duet saam met ‘n jong sangeres
en is gebruik in ’n boeliebewusmakingsveldtog.
Alhoewel nie een van die manne graag ’n gunsteling-liedjie wil uitsonder nie,
meen Andries dat Bloei hom na aan die hart lê.
‘Ons almal is soms te trots om te erken
dat daar goed in jou lewe is wat seermaak en die feit dat jy daaroor kan
oopmaak en praat bring eintlik die genesing,’ sê hy.
Omdat Wiaan mal is oor country-musiek, hou hy persoonlik baie van Jonk en
Mal en Die Hele Wêreld,
en meen dat eersgenoemde beslis die potensiaal het om ’n radiotreffer te wees.
Elkeen van die album se musiekvideos word ook in ’n verskillende land geskiet. Die Hele Wêreld se tonele is in Kenia verfilm waar die twee manne met ’n strooppoging op ’n olifantbul bystand verleen het.
DZL, wat teen die einde van 2015 gestig is, is nie jou gewone manssangroep nie, want hierdie twee talentvolle manne kan iets van alles doen. Beide is professionele modelle en het ’n groot hart vir die natuur en renosters. Die musikante se paaie het gekruis toe Wiaan moes instaan vir Andries se gewone kitaarspeler en die res is geskiedenis. Hulle selfgetitelde debuut-album, wat vanaf 2016 op die rak is, is baie goed ontvang en is benoem vir twee Ghoema-musiektoekennings vir Beste Country-album en Beste Groep of Duo. Die cd het verskeie radiotreffers en suksesvolle musiekvideos opgelewer, waaronder Langpad, Vind jou Pad, Een Kans en Ek Laaik Dit, en verseker dat hulle gereeld genooi word vir optredes by feeste en funksies.
Andries Hendrik het sewe jaar gelede die musiekbedryf betree en het met van die land se grootste kunstenaars soos die Grammy-bekroonde, Soweto Gospelorkes en Steve Hofmeyr saamgewerk. Met die nuwe album voeg hy nog ’n legende by die lys naamlik, Mandoza, wat nog nooit voorheen met ’n Afrikaanse sanger kragte gesmee het nie. Andries het ook al oorsee gehore vermaak in Disneyland, New York, Atlanta en Namibië waar sy duet, Woestynroos, met Namibiese sangeres Lize Ehlers, vir ’n Namibiese Musiektoekenning benoem is en die nommer een posisie op verskeie Namibiese radiostasies se treffersparades beklee het. As gesoute model het hy al vir meer as 30 lande se ontwerpers geloop en is ook in 2016 aangewys as Cosmopolitan se Sexyste Man. ’n Gesonde leefstyl is deel van sy raamwerk. Hy hou van musiek met betekenisvolle lirieke en het groot bewondering vir Adam Levine van Maroon 5 en Laurika Rauch. As hy nie ’n sanger was nie, sou hy beslis ’n dierekunsige wou wees en verklap dat hy meer kaalvoet loop as ’n plaasjapie en nie daarvan hou om hare te kam of te skeer nie. Oor die jare het hy geleer om nie sy ore uit te leen vir ander se opinies nie en om net homself te wees, want dit is genoeg.
Wiaan het in ’n musikale familie grootgeword. Sy pa, Louis, was ook in ’n musiekgroep, Night Train. Hy is die skamer een van die twee groeplede en is nou al so vier jaar in die musiekbedryf doenig. Een van sy verskuilde talente is kosmaak en hy was die wenner van die tweede seisoen van die VIA-kookprogram, Lek Jou Lippe Af. Country- en rockmusiek word uitgesonder as sy gunsteling-musiekgenres en hy lys Keith Urban as een van sy grootste rolmodelle. Die afgelope paar jaar, het hy ’n groot liefde vir die natuur ontwikkel en as hy nie kon sing nie, sou hy heelmoontlik ’n loopbaan in daardie rigting oorweeg het. Alhoewel hy baie gesondheidsbewus is, verklap hy dat hy beslis ’n soettand het en maklik sommer twaalf oliebolle sal verober. Tog is hy in 2017 onder die Top 20 vir Men’s Health se voorblad aangewys. Die musiekbedryf het hom geleer om sy voete op die grond te hou, altyd nederig en vriendelik te wees en nooit ander te oordeel nie.
Die sangpaar het nog baie planne en drome en sal graag in die toekoms voor internasionale gehore wil optree. Hulle is ook besig met ’n paar nuwe bewaringsprojekte wat hulle weereens regoor die wêreld sal neem.
‘Ons wil graag hierdie jaar baie fokus op die nuwe album en seker maak hy kom by elke oor uit. Verder wil ons toer en elke natuurbewaringsprojek wat ons na aan die hart lê besoek en aan ander voorstel,’ sê Andries.
Die aanslag van DZL se nuwe album is vars en nuut en is beslis, soos ’n wafferse ontwerpersitem, iets waarsonder geen musiekliefhebber se versameling volledig sal wees nie.
Elmay de Villiers het ‘n paar vrae aan DZL gevra:
°Hoe het julle op die naam DZL belsuit?
Ons was opsoek na ‘n naam vir ons groep en ons platebaas het met die naam vorendag gekom. Ons het sommer dadelik daarvan gehou en nou het ons ‘n motto; DZL in jou tenk; DZL in die bos, DZL op die loopplank en DZL op die verhoog.
° Wanneer het julle betrokke geraak by renosters?
Ons het seker so bietjie meer as twee jaar aktief betrokke begin raak.
°Hoekom het julle besluit om by
renosters betrokke te raak?
Ons is altwee baie lief vir die
natuur en het ‘n naweek op ‘n plaas spandeer waartydens stropers gepoog het om
‘n renoster te stroop. Ons het die trauma en hartseer wat daarmee saamgaan
raakgesien en besef ons sal graag projekte wil aanpak wat bewusmaking vir
renosterbewaring skep. Sedertdien spandeer ons baie tyd saam met hierdie grotes
en staan al bekend as die Renostermanne.
GUNSTELLINGE!!*
°Kos:
Andries – enige hoender of ribs
Wiaan- biryani
°Drankie:
Andries – Ek is nie een vir drank nie maar groot op Coke Zero
Wiaan – Coke Zero of Passion fruit en limonade
°Kleur:
Andries – grys, blou en wit
Wiaan – blou of lemmetjie groen
°Musiek:
Andries – dance, trans en dub-step musiek
Wiaan – country pop
°Fliek:
Andries – The Greatest Showman
Wiaan – Bad Boys
°Sport:
Andries – atletiek
Wiaan – atletiek en rugby
°Tyd van die dag:
Andries – sonsondergang
Wiaan – Laatmiddag
°Vakansie (Bos, See)
Andries – die Kruger Wildtuin is my gunsteling
Wiaan – ek hou van altwee maar as moet kies sal dit bos wees
°Beste present nog gekry:
Andries – ‘n Vakansie Kruger Wildtuin toe
Wiaan – om op vakansie te gaan saam my hartsmense
Onderhoud deur Elmay De Villiers
VOLG HULLE AANLYN OP
Twitter: @DZL_Band
Facebook: @DZL
Instagram: @dzl_band
Webblad: www.dzlband.co.za