DATUM: 4 Maart 2019

Die bekroonde ware verhaal van Ellen Pakkies se lewe, ELLEN, DIE ELLEN PAKKIES STORIE, wat die harte van kykers regoor die wêreld aangegryp het, het die afgelope naweek met vier pryse by die dertiende jaarlikse Suid–Afrikaanse Film- en Televisie–toekenningseremonie (SAFTAS) by Sun City weggestap.
Jill Levenberg (Genadekans, Noem my Skollie, Suidooster), wat die rol speel van Ellen – ’n ma wat uit desperaatheid haar dwelmverslaafde seun se lewe geneem het, is aangewys as Beste Aktrise in ’n Rolprent, terwyl Jarrid Geduld (A Lucky Man, A Boy Called Twist, Black Sails) wat Abie Pakkies speel ook aangewys is as Beste Akteur in ’n Rolprent.
Bekroonde regisseur Daryne Joshua (Noem my Skollie, Suidooster), wat ook tydens dié glansgeleentheid aangewys is as Beste Regisseur, sê: “Ons het nie hierdie fliek gemaak met die doel om toekennings te wen nie. Maar noudat dit met vier SAFTAS vereer is, skep dit ekstra blootstelling en help dit om die fokus te rig op dit waaroor ELLEN, DIE ELLEN PAKKIES STORIE regtig gaan. Hiervoor is ons ongelooflik dankbaar. Baie dankie aan die SAFTAS en NFVF vir die vertroue in ons projek.”

“Vanuit ’n kunstige oogpunt, is ek nooit seker of ek in die regte rigting beweeg wanneer die kom by die maak van rolprente nie. Om dus die SAFTA-toekenning te wen vir Beste Regisseur, gee vir my bevestiging dat ek wel besig is om iets reg te doen. Ek is baie dankbaar vir die erkenning wat my werk kry en deel dit met elke lid van die span, wat hard gewerk het om lewe te blaas in my visie,” voeg Joshua by.
Quinn Lubbe het ook ’n SAFTA-beeldjie ontvang vir Beste Oorspronklike Musiek of Klankbaan in ’n Rolprent en Jean Niemandt was benoem in die kategorie Beste Prestasie in Klankontwerp in ’n Rolprent.

Ander bekroonde akteurs wat ook te sien is in dié treffende film, wat delf in die innerlike psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word in een van die gevaarlikste plaaslike gemeenskappe in die land, is Clint Brink (Binnelanders), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo), Elton Landrew (Suidooster, Dryfsand) en Russel Savadier (The Wild, Isidingo, Black Sails).
Ellen se verhaal is vervaardig deur TMPBC (The Moving Billboard Picture Company) se Paulo Areal en Schalk-Willem Burger, in samewerking met M-Net, kykNET Films en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit is tans op DVD beskikbaar en word deur Filmfinity (Edms) Bpk. versprei.
Vir meer inligting oor die ander wenners, besoek https://www.facebook.com/saftassa/
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/Die-Ellen-Pakkies-Storie-208819606253993/
Instagram: @ellenpakkies
Twitter: @EllenPakkies
Hutsmerke: #DieEllenPakkiesStorie
Lokprent: https://youtu.be/lS_Ly1svS_M