Wees Lief –nuwe Album van Cordelia

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Cordelia het kort na die vrystelling van haar nuutste enkelsnit en  musiek video, “Wees Lief” ook  ‘’n splinter nuwe album  uitgereik met dieselfde titel.  Hierdie sangsensasie wat alreeds die hart en siel van verskeie luisteraars aangeraak  het, is beslis oorgehaal om een van die lekkerste musiek verrassings van 2018 te wees.

“Wees Lief” is ’n album wat oorloop van lewenslus en plesier en is ’n viering van die lewe, die liefde, ’n positiewe ingesteldheid en genade van Bo.

Bekend vir haar treffer liedjie “Mal in jou kop”, het ‘hierdie glansryke sangeres ’n  nuwe klank wat roerend, propvol emosie en opreg die oor bereik. “Wees Lief”  is nie net ’n doodgewone album nie, maar bring ’n diepgaande boodskap van liefde na vore wat in ’n  besonderse mooi musikale pakkie verpak is!

Haar nuwe album bevat 13 oorspronklike Afrikaanse snitte wat beloof om eerste klas luister genot te verskaf aan ieder en elk.  Luisteraars kan uitsien na komposisies met sterk en impakvolle lirieke,  voetstamp-lekker ritmes, polsende baslyne, dawerende harmonieë en progressies wat hart, siel en dansskoene ewe veel sal  aanpor.

Met ’n popmusiek aanslag, versterk deur die geklank van elektriese kitare en techno-ondertone, afgewissel met akoestiese klanke, simfonie-elemente, ’n tikkie country en self ’n titseltjie reggae, maak van “Wees Lief”  ’n diverse boeket van topgehalte musiek.

Hoë tempo snitte onder andere “Verlang jy na my”, “Lepel in die dak weggesteek”, “Draai om”, “Vreesloos” en “ Tussen die Duiwel en die diep blou see” word afgewissel met rustige snitte soos “Nader aan jou”, “Volmaak” en “ Dryfsand” – perfek vir diegene wat bietjie wil asem skep op die dansvloer.

“Sewe dae van die week” is nog ’n indrukwekkende snit wat uitblink as ’n  onbeskaamde en kragdadige uitbasuining van ’n onstuitbare geloofsoortuiging – ’n geloof wat gevul is met vreugde en dankbaarheid vir  genade gawes uit die Vader se hand.

Hiermee saam is “Wees lief” ‘n snit waar Cordelia sing van ’n liefde wat verstaan, bly staan, saamstaan deur alles ten spyte van omstandighede, ander bemoedig en verlos uit hulle donkerste ure met ’n “water van liefde”. Cordelia vertel die volgende oor haar enkel snit “Wees Lief”: “Dit gaan oor ’n liefde wat op ’n amper kinderlik eenvoudige manier enige uitdaging, hoe kompleks ook al, te bowe kan kom. Dit gaan oor liefde vir jouself en liefde vir jou naaste wat uiteindelik uiting kry in goeie dade. Dade wat die lewens van ander ten goede te verander, en hulle weer op hul beurt te help om lief te hê.”

Volgens Cordelia het die konsep van Wees Lief al ’n geruime tyd begin aanvang neem in haar binneste: “Ek wil nog altyd meer as net sing en optree. Ek wil ’n verskil maak”, sê sy. “Die tipe verskil wat mense inspireer om hoop en liefde in alle omstandighede te kies en te lééf.”

“Wees Lief” as album is nie net verruklik  op die oor nie, maar die boodskap van liefde wat deurentyd reflekteer is ’n inspirasie vir ander om te bly hoop en glo in liefde en om te kies om te leef. Die album op sigself is sorgvuldig aanmekaargesit, keurig verwerk en uitstekend uitgevoer. ’n Album wat elke luisteraar op ’n besonder manier sal inspireer en die vuur van lewe met oorgawe in jou wese sal in sing!

Wees lief,net lief, so lief!

Cordelia is ook later vanjaar in aksie by Krone 5 in Pretoria en Kaapstad.

Deur: Elizaan De Koker

Related posts