Hier is witwarm feestydklanke!

Sedert die KannieWarriesDansorkes in 2000 gestig is, was daar verskeie orkeslid-skuiwe deur die jare, maar die orkes het sy nuwerwetse snaarklank met ‘n outydse lekkerkry behou!
Die orkes se eerste album is in 2007 uitgereik. Daarna het die titels Kom skoffel saam!, Vaalrivier se wakker snare, Vaalrivier se opskopsnare en Vaalrivier se boogie-snare gevolg. En hier is die komkommerlose orkes se splinternuwe album, Witwarm kitaarklanke, vervaardig deur die bekroonde sanger, musikant en regisseur Ernie Bates vir Sweepslag Studios.
Bekroonde eiesoortigheid
Die KannieWarries se eiesoortige snaarklank is deur die jare blink gepoets en geslyp en het ontwikkel tot een van die bestes in die land. Hulle spog met talle Bobaas-Boere-toekennings en Ghoemabenoemings. Hul grootste trots is egter die feit dat hulle gereeld die kitaar-legende, oom Sollie Marx, by sy optredes begelei het.
Die musikante
Die huidige vyftal – Jurg Basson (banjo), Ria Best (ritmiese kitaar), Rudi Jooste (leierkitaar), Danie Heunis (baskitaar) en Nico Heunis (tromme)- spog graag met hul sesde album, wat deur die kundiges as hul beste nóg bestempel word.
Die danstreffers
Daar is ‘n heerlike voetjeuk-vrolike versameling liedjies in die uiteenlopende omvang van die Boeremusiekspektrum: walse en setiese, vastrappe en kwêlas. Tussen die balke-toe-dansgenietinge is ‘n aantal oorspronklike komposisies: Witwarm, Lieflike Linzunè, Mandie se Vastrap en Ernie se tokkel (genoem na hul nuwe opname-regisseur).
Gryp die ritme ook met Sonop, Wipneusie, Veldskoenwals, Sharpeville kwêla, Swartturfsetees en Rivier van trane. Twee geliefde country-gunstelinge, Your Old Love Letters en A Couple More Years kry ‘n snaar-inspuiting en die tydlose Kalfiewals herleef byderwets.
Maak dié feestyd ‘n witwarm snaarplesier!
MEDIA-UITREIKING
Datum: November 2017
Kontak Lydia Winchester vir meer inligting
Tel: (011) 475 2187 – Sel: 082 554 8453 – E-pos: lydiaw@mweb.co.za