Marcato stel hul tweede album, ‘Vrede vir almal’ bekend

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Marcato se tweede album, Vrede vir almal… wat onlangs bekend gestel is, beloof om hulle aanhangers met ’n splinternuwe klank en introspektiewe lirieke sowel as ’n stewige dosis sosiale kommentaar te verras. ’n Uiteenlopende verskeidenheid van temas soos identiteit, vriendskap, verhoudings, geldgierigheid, misdaad, oorlog, droogte en besoedeling word op dié album aangespreek deur ’n alomteenwoordige derdepersoonsverteller wat op al tien die snitte aan die woord is. Dit volg na die sukses wat Marcato aanvanklik as ’n drieledige groep oor die afgelope tien jaar reeds met hul debuutalbum, When his whistle blows bereik het.

Die titelsnit, Vrede vir almal… beklemtoon dat mense ten spyte van al die lewe se uitdagings slegs vrede sal kan vind deur hoop uit die verlede vir die hede sowel as die toekoms te put.

Die eerste enkelsnit vanaf dié album, Silhoeëtte beskryf algehele verlatenheid waartydens mense met die foute van hul verlede gekonfronteer word as een van hul heel diepste vrese. Land van Sand is ’n aangrypende ballade wat ’n soldaat se verlange na sy geliefde gebruik om die sinneloosheid van die destydse Grensoorlog te beklemtoon. Bom in die nag wat ’n intertekstuele verwysing na Vier Seisoene Kind bevat, maak van dié gewilde Gian Groen treffer as ’n metafoor van hoop teen die Kaapse droogte gebruik. Ander potensiële treffers sluit in Staan net by my, Jy’s die een, Maak dit tel en Sal ek.

Jake Odendaal van Maven Productions se ferm regisseurshand is baie duidelik hoorbaar in die produksie, finale meng en programmering van dié alternatiewe album. Al die musikante, Pieter Marcato op kitaar, Ben van Zyl op kitaar en klavier, Jerry Spangenberg op elektriese kitaar, Erik Swart op baskitaar en Euan Nel op dromme toon ook almal uitsonderlike talent. Die oorhoofse tema is die kontras tussen lig en donker oftewel goed en kwaad waarin die mens hom- of haarself te midde van sy voortdurende soeke na vrede, geluk en liefde bevind.

Marcato se logo

Hierdie kontras vind met die straatlig se verligting teen die onheilspellendheid van algehele donkerte ook neerslag in die byna skilderagtige album omslag. Die rotsformasie waarop die vyf lede met hulle peinsende gesigte hoog bo in die lug sit, suggereer nie net die mens se verganklikheid nie, maar tref ook ’n duidelike onderskeid tussen hemel en aarde. Die wit duif wat dien as ’n simbool van die vrede wat hulle vir almal in die titelsnit toewens, is vreesloos en vry in die hemel terwyl diegene op aarde bekommerd en bedruk lyk.

Vrede vir almal… bied ’n interessante samevoeging van folk, country en bluegrass asook akoestiese rock style wat onwillekeurig aan die klanke van Mumford & Sons sowel as Bob Dylan en Cold Play herinner. Marcato wat na die Italiaanse musikale term vir die betekenis van ’n klem op note verwys, lewer beslis ’n belangrike bydrae tot die effens beperkte aanbod van alternatiewe Afrikaanse musiek. Dié album wat nie maklik binne enige vooropgestelde boksie pas nie, sal ongetwyfeld aanklank vind by enigeen met die behoefte om die status quo van die moderne hedendaagse samelewing te bevraagteken.

Pieter Marcato 082 567 2792
pieter@legatoartists.co.za

Related posts