
DATUM: 30 November 2018
SALLY WILLIAMS NOUGAT is nie net die treffer wat die bekroonde liedjieskrywer, sanger, rubriekskrywer en digter, Jak de Priester, se musiekloopbaan vyftien jaar gelede amptelik laat vlam vat het nie, maar ook ’n liedjie wat vir hom baie spesiale betekenis het, omdat dit ’n staaltjie is uit sy eie ware liedesverhaal.
“Lank gelede het my meisie my voorgestel aan Sally Williams Nougat by die Groenkloof Spar, nie ver van die tuinwoonstel waar ek destyds gewoon het nie. Ons het dit altyd gaan koop en geëet, ’n bietjie van ’n romantiese ding. Toe besluit sy om Londen toe te gaan vir twee jaar. Ek het baie Sally Williams in haar tas gepak. Daardie aand toe ons haar gaan groet by die lughawe, was vir my erg. Ek het tuisgekom en die liedjie geskryf oor alles wat ons altyd saam gedoen het. Dis waaroor die liedjie handel… dis ’n verlangliedjie,” verklap die Pretorianer oor sy eerste enkelsnit.
Nóú, jare later en ter viering van Jak en sy vrou, Michelle (die meisie van wie hy in die liedjie sing), se tiende huweliksherdenking, word dié liefdesballade weer vrygestel… maar met ’n splinternuwe baadjie en die hulp van die gewilde sanggroep, ADAM.
“My stem het baie ontwikkel sedert ek sestien jaar gelede die lied vir die ATKV-Crescendo-kompetisie opgeneem het, maar dis moontlik een van die liedjies waarvoor ek onthou gaan word en daarom het ek besluit om dit oor op te neem met ’n meer hedendaagse gevoel. Dit is ook my geskenk aan die meisie in die liedjie, saam met wie ek vanjaar ons tiende huweliksherdenking vier,” vertel Jak. “Hugo Ludik en Vaughan Gardiner het die nuwe weergawe verwerk. Hugo is ’n lid van die groep, ADAM. Soos wat ons dit opgeneem het, het ons net besef hoe mooi ’n klomp harmonieë sal werk op die nuwe weergawe en dis iets waarin dié groep spesialiseer. Soos wat dinge gevorder het, het ons agtergekom dat dit eintlik fantasties sal wees as hulle meer doen as net harmoniseer. Toe besluit ons om ADAM deel te maak van die liedjie.”
ADAM, wat bestaan uit Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant, is een van die gewildste mansmusiekgroepe in die land. Drie van hulle albums, ADAM (2011), Vir Jou Gemaak (2012) en Goud (2012), het gouestatus bereik. In 2014 is hulle liedjie, Sal Oorlog Vir Jou Maak, ingesluit as deel van die klankbaan van die plaaslike lokettreffer, Pad Na Jou Hart, en het dit ’n oornagsukses geword. Nie net het die treffer op die nommer een posisie van radiostasies se speellyste gepronk nie, maar dit is ook vereer met ’n Huisgenoot Tempo-benoeming vir Liedjie van die Jaar en ’n Ghoema-toekenning vir Liedjie van die Jaar. Ander Ghoema-musiektoekennings op hulle kerfstok sluit in Beste Nuweling (2011) en Groep van die Jaar (2015). Die album, Hoogtevrees, het in 2017 ook twee Ghoema-toekennings (Groep van die Jaar en Beste Album deur ’n Groep of Duo) en ’n SAMA-toekenning vir Beste Popalbum opgeraap en die titelsnit, wat deur Hugo en Reynardt geskryf is, het verskeie weke bo-aan die treffersparades van groot radiostasies gekuier.
Oor die geleentheid om saam met Jak de Priester te werk aan die hervrystelling van sy grootste treffer, sê Hugo: “Ons al drie het grootgeword met hierdie liedjie, wat ’n belangrike rol iewers in ons lewe gespeel het. Dis vir ons ’n baie groot eer om deel te kan wees van die nuwe vrystelling van een van die grootste liedjies in Afrikaanse geskiedenis. Jak wou ’n weergawe van SALLY WILLIAMS NOUGAT doen wat sou klink asof dit vandag geskryf en vervaardig is – met die klanke en styl van hedendaagse popmusiek. Ons is baie opgewonde oor die klank, emosie en gevoel wat die nuwe weergawe gee en hoop dit skep weer nuwe belangstelling, veral onder die jonger generasie, oor een van die grootste poptreffers van alle tye.” Die groep se nuutste album, Bewe, is aan die begin van die 2018 vrygestel en baie goed ontvang. Hulle werk tans baie hard daaraan om te verseker dat hulle musiek soveel ore as moontlik bereik.
Buiten vir SALLY WILLIAMS NOUGAT, wat in die FAK Sangbundel opgeneem is, is Jak ook bekend as die skrywer en sanger van verskeie temaliedjies vir kykNET-televisiereekse en flieks, waaronder die gewilde sepie, Binnelanders, 10 uit 10, Hoener met die Rooi Skoene en Reis na Gister, waarvan hy ook die aanbieder is. Die reeks wat reeds vir vyf seisoene op die kassie is, het vir hom in 2015 ’n nominasie as Aanbieder van die Jaar besorg.
Ter viering van sy vol en suksesvolle loopbaan, het hy in 2017 sy negende ateljee-album, 15 JAAR, uitgereik, wat opwindende samewerkings met kunstenaar soos Steve Hofmeyr, Dr Victor, Bianca Pelser, Koos Kombuis en Charl du Plessis (die pianis) insluit. Soen die Reën, saam met Steve Hofmeyr, is binne vier-en-twintig-uur na vrystelling deur 107 000 mense geluister op Vimeo en sosialemedia het behoorlik gegons oor die twee sterre se emosionele duet.
Die ster is tans besig met voorbereidings vir sy Geel Jou Hart Vir Liefde-vertoning, wat aan die einde van die jaar in die Kaap en ook in Gauteng plaasvind. “Ons samel dierekos in hierdie Desembermaand vir SPCA. Daar sal vyf konserte in die Kaap wees by Die Boer en ses by Die Blou Hond in Pretoria!,” deel hy. Verder beplan hy ook sy eerste kunsuitstalling vir Februarie 2019, met die titel Op ’n ander planeet, wat twintig van sy eie oorspronklike werke sal insluit.
Jak de Priester en ADAM is baie opgewonde om die nuwe weergawe van SALLY WILLIAMS NOUGAT op 16 November 2018 aan Suid-Afrika bekend te stel en belowe dat dit die hoendervleismooi sukses van die debuut-weergawe sal oortref. “Met die nuwe vrystelling hoop ek dat luisteraars die nostalgie van die ouer weergawe sal ervaar, maar ook die opwinding van dié nuutskepping sal geniet,” voeg Jak by.
Die liedjie is nou op iTunes te koop. Klik hier om dit af te laai: https://itunes.apple.com/za/album/sally-williams-nougat-feat-adam/1444583788?i=1444583790
SOSIALEMEDIASKAKEL
JAK DE PRIESTER
Facebook: https://www.facebook.com/jakdepriester/
Twitter: @JakDePriester
Instagram: @jakdepriester
Webblad: www.jakdepriester.co.za
ADAM
Facebook: https://www.facebook.com/adamgroep/
Twitter: @adamgroep
Web: www.adamband.co.za
Alani Coetsee – PUBLICIST alani@starburstmusic.co.za / 072 442 6918
Starburst Promotions Office: 083 635 4717 http://www.starburstmusic.co.za