Smag- Deur Yolanda Wessels -Vir elke vrou wat kies om nié ‘n slagoffer te wees nie, maar ‘n survivor

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Dit is vir ons lekker om aan te kondig dat gesoute joernalis en skrywer, Yolanda Wessels, se debuut-roman eersdaags (Maart 2019) beskikbaar sal wees.

Dit sal vir ons ’n riem onder die hart wees as julle ’n moontlike plasing of resensie hieroor sal oorweeg. Ons kan ook ’n eksemplaar verskaf om weg te gee.

Alhoewel die boek op die oog af as baie kontroversieël voorkom, het dit ’n diep boodskap en is dit ’n ontdekkingsreis van seer, berou en woede. Dit dra ook die sterk boodskap dat jy eers jouself moet aanvaar en liefhê voordat jy dit van enigiemand anders kan verwag. Dat ongeag van wat in die verlede gebeur het, God se genade genoeg is.

STORIELYN

’n Vrou wat wil gee, maar ’n slagoffer raak van haar omstandighede totdat sy besluit om ‘n survivor te wees. Nika neem reg in eie hande en begin neem van dié wat haar nog altyd te na gekom het. Mans. Sy neem hulle lewens en dit lei tot haar eie ineensorting, maar dit gee die lewe en adrenalien waarna sy smag. Die kinkel is in die slot wanneer dit duidelik word dat dinge nie eintlik is presies soos wat dit voorkom nie.

OOR DIE SKRYF VAN DIE BOEK

“Een aand was ek geestelik en liggaamlik rusteloos. My gedagtes het bly dwarrel oor hoe eensaamheid soms so verswelgend kan wees. En erger nog, hoe ’n mens eensaam tussen mense kan wees.

Ek het gedink aan hoe seer die lewe soms kan maak, liefdesteleurstellings, dinge wat in mens se lewe gebeur wat onverstaanbaar is en ek glo altyd sal bly. Dit het die gedagte laat posvat, wat as ’n mens ’n soortgelyke situasie kon skep en reg in eie hande neem? Selfs al is dit op ’n ander plek, ’n ander persoon… Sou dit verligting en berusting bring? Sou dit ’n mens laat voel dat reg en geregtigheid geskied het? Of sou skuldgevoel, daardie alomteenwoordige gewete dié planne onderdruk en op die einde in die wiele ry?

Ek dink die sterkste drang wat mense dryf en wat daar sekerlik is, is liefde, en naas dit, haat. Dis dalk makliker gesê as gedaan om iemand te na te kom wie jy haat, maar wat bereik jy daardeur? En wat as liefde tussenbeide tree en jou verhoed dat vergelding plaasvind? Watter gevoel sal hier in jou binneste posvat ná so daad? Wat nou maar eens is, dit wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Dit waarna jy na smag, dit waaraan jy dink, twyfel, wraakgedagtes, vergane liefde, verbrokkelende vriendskap, mishandeling, verkragting, verwerping… dit alles bepaal hoe jou dag verloop, maar dit hoef nie jou lot te bepaal nie. Die mens wat jy is, die gedagtesrigtings wat koers neem. Watter drang is die sterkste, want dit is die een wat gaan oorwin.

Ek dink enige vrou, dalk selfs mans, kan identifiseer met een of meer vorme van seer in die lewe. Wát jy daarmee doen en waarheen jy daardie emosies kanaliseer is van die uiterste belang. Dit is die bepalende faktor van jou bui en tot ook of jy vandag vry is of in ’n tronk (dalk selfs letterlik) opeindig en so misrabel jou lewe uitwag. Maar ieder en elk van ons ís meer werd as dit. Moenie dat jou uurglas leegloop voordat jy jou roeping gevind en vrede gemaak het met die demone in jou verlede nie. Dit is nie die moeite werd nie. Draai jou rug vir oulaas op gister en plaas jou fokus slegs op wat voor (en bo) jou is.

Met die skrywe van Smag, het ek self wipplank gery deur die emosies van Nika, ek kon dikwels identifiseer daarmee en het ek saam geworstel deur haar besluite en aksies.

Ek hoop dat mense nie net begrip sal toon vir die warrelwind van emosies en gebeure wat plaasvind in die 38 dae nie, maar saam met Nika sal reis en tot dieselfde slotsom kom dat niemand van ons hoef ’n slagoffer te wees nie. Dit is in jou mag en keuse om ’n survivor te wees. Staan op vir jou regte! Veg vir wie en wat jy is en waarvoor jy staan. Gryp die lewe aan wat God aan jou geskenk het en leef ten volle sonder die skaduwees van gister. Carpe diem!”

Agterblad synopsis

Nika Maré is ‘n vrou wat wil gee,maar haar sielestryd lei haar deur diep waters in die soektog na haarself. Sy is bewus- en onbewustelik omring deur haar diepste begeerte, haar smagting om te hoort en behoort – iewers en aan iemand. Sy is siek en sat om naamloos voort te dobber met haar verlede wat swaar op haar skouers rus. Die lewe en sy omstandighede het van haar ’n slagoffer gemaak totdat sy die doelbewuste besluit neem om nié langer ‘n slagoffer te wees nie, maar ’n survivor. Vir háár beteken dit om reg in eie hande te neem en om te neem van dié wat haar nog altyd te na gekom het. Mans. Nika besef dat haar smagting na vervulling slegs beantwoord kan word wanneer sy die vullis uitsif in die samelewing en sodoende haarself die geleentheid gee om tot haar volle reg te kom. Sy wend haar na Tinder, ‘n dating app waar sy haar slagoffers vind. Die reeksmoorde lei tot haar eie ineensorting, maar bied ook die verlossing waarna sy smag. Dag vir dag, een moord op ‘n slag, kry sy haar lewenslus terug. Dít wat van haar gesteel is as kind en dit wat mans skaamteloos van haar as volwassene aanhou steel het. Ten aanskoue van die eindelose blou see, wat haar ontvlugting en redding bly, bied dié bevryde medium haar die platvorm om voetjie vir voetjie deur haar demone te worstel en vrede te maak met die onveranderlike. Tog is Nika se besluit moeiliker gesê as gedaan, want haar gewete bekruip haar stilletjies en dié fluistering word ál harder wat haar al meer tot nadenking bring. Dit plaas die balans tussen goed en kwaad onder die soeklig; watter drang is die sterkste, want dié drang gaan oorwin.

Smag is ‘n ontdekkingsreis van seer, woede, berou, berusting en vertroosting. Dit is ‘n wipwaentjierit van emosies soos Nika gedwing word om vrede te maak met haarself en haar omstandighede. In die resep van die lewe benodig jy selfrespek, selfaanvaarding en selfliefde voordat jy jou naaste so lief soos jouself kan hê, ongeag van jou verlede. Sonder liefde is ons niks en kan jy nie iemand anders liefhê of liefgehê word nie. Sonder God, is dié mylpaal byna onmoontlik en Nika werp haar tot Sy voete vir verlossing, aanvaarding, genesing en die grootste van dit alles, die liefde. En sy besef einde ten laaste, God se genade is genoeg. Sy is genoeg.

Biografie

Yolanda Wessels is gebore in die Kaap en getoë in die laslappielandskap van die prentjiemooi Overberg, wat haar tuiste is. Hier het sy as enigste kind langs die mees suidelike kus grootgeword, met die see, natuur en haar diere as kamerade. Sy het ‘n kursus in joernalistiek voltooi en skryf die afgelope twintig jaar maandeliks vryskutartikels vir verskeie gedrukte en aanlynpublikasies. Sy dek artikels oor ‘n groot verskeidenheid onderwerpe, waarvan haar gunsteling, inspirasionele onderhoude. Haar eerste boek, Katte – ‘n Handleiding vir verantwoordelike kateienaars in Suid-Afrika (Naledi) het in 2013 die lig gesien. Sy was ook betrokke by die skryf van die immergewilde tydskrif, Troukoors, se Klein Swart Boekie wat in 2018 verskyn het.

Sy woon in Bredasdorp saam met haar twee seuns, Wynand en Marius en hul geliefde drie katte. Haar suurstof is skryf en haar passies en liefde musiek, die bewaring van groot katte en die see.

Related posts