n Nuwe roman uit Stefan Enslin se pen oppad!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

                                         

Bekroonde Suid-Afrikaanse vervaardiger, roman- en draaiboekskrywer en stigter van die produksiemaatskappy, Faith in Motion Productions, Stefan Enslin het die aap uit die mou gelaat en verklap dat hy besig is om aan sy derde roman, Opsoek na Reënboë te skryf.  Dié Vrystater wat studeer het aan die Noordwes Universiteit is baie opgewonde hieroor, maar wil nog nie te veel deel op die stadium nie.  ‘n Datum vir uitreiking is nog nie bekend nie.

Dit handel oor ‘n getroude paartjie wat, in ‘n poging om hulle huwelik te red, na ‘n afgeleë plaas trek waar hulle dit op eie stoom en krag probeer doen, maar dit vererger net hulle situasie.  Opsoek na Reënboë wys hoe die huwelik harde werk verg om gesond te bly en dat dit partykeer deur die swaarkry is wat ‘n huwelik sterker word.  Op die ou einde is dit ‘n storie van hoop in ‘n tyd waar huwelike ‘n maklike teiken vir die vyand geword het.

Om te skryf is vrek harde werk, baie eensaamheid, laat aande, opofferings en kritiek wat ‘n mens verduur om ‘n roman uit te gee.  Maar ek weet dit is deel van die lewe.  My eerste liefde is om stories te vertel en om te skryf. Stories van hoop wat met mense se harte praat.  Opsoek na Reënboë is ‘n boek waaroor ek bitter opgewonde is en ek weet dat dit die lesers gaan inspireer”, sê Stefan.

Stefan werk al sedert 2011 in die vermaakbedryf en is veral bekend vir sy betrokkenheid by rolprente soos Klein Karoo (draaiboekredigeerder en konsultant-vervaardiger – 2013), Strikdas (mede-skrywer en vervaardiger – 2015), Verskietende Ster (draaiboekskrywer en vervaardiger – 2015), Nul Is Nie Niks Nie (vervaardiger – 2017) en Liewe Kersfeesvader (vervaardiger – 2017); die televisiereekse NoupadFM (2018) en Kern (skrywer en vervaardiger – 2019); asook internasionaal bekroonde kortfilms getiteld, The Love Bombs (uitvoerende vervaardiger – 2012). Dié veelsydige storieverteller is onlangs aangestel as vervaardigingshoof van die aanlyn digitale Christelike-televisiekanaal, RoepTV.com. 

Verskietende Ster, sy eerste roman, waarop die rolprentweergawe gebaseer is, is in 2013 uitgegee en sy tweede roman, Tweede Kanse is in April 2018 deur Naledi uitgegee.

BIOGRAFIE VAN STEFAN ENSLIN – NOVEMBER 2018

Stefan Enslin is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse vervaardiger, roman- en draaiboekskrywer en die stigter van die produksiemaatskappy, Faith in Motion Productions. Hy werk al sedert 2011 in die vermaakbedryf en is veral bekend vir sy betrokkenheid by rolprente soos Klein Karoo (draaiboekredigeerder en konsultant-vervaardiger – 2013), Strikdas (mede-skrywer en vervaardiger – 2015), Verskietende Ster (draaiboekskrywer en vervaardiger – 2015), Nul Is Nie Niks Nie (vervaardiger – 2017) en Liewe Kersfeesvader (vervaardiger – 2017); die televisiereekse NoupadFM (2018) en Kern (skrywer en vervaardiger – 2019); asook internasionaal bekroonde kortfilms getiteld, The Love Bombs (uitvoerende vervaardiger – 2012). Dié veelsydige storieverteller is onlangs aangestel as vervaardigingshoof van die aanlyn digitale Christelike-televisiekanaal, RoepTV.com en spog verder ook met ’n splinternuwe roman, Tweede Kanse, op die rak. Verskietende Ster, die roman waarop die rolprentweergawe gebaseer is, is in 2013 uitgegee.

Alhoewel Stefan nog altyd lief was daarvoor om mense met toneelspel en sang te vermaak, het dié Vrystater besluit om na skool Teologie te gaan studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het gou besef dat dominee-wees nie vir hom is nie en daarna oorgeslaan na Argitektuur. Op die ou einde, het hy sy graad in Stad-en-Streeksbeplanning verwerf aan die Noordwes-Universiteit, waarna hy talle opsies beproef het om ’n suksesvolle besigheid op die been te bring wat hom meer gelukkig sou maak as dit waarvoor hy studeer het. Na ’n groot keerpunt in sy lewe, het hy as draaiboekskrywer gekwalifiseer en besluit om sy droom, om in die vermaakbedryf te werk, te verwesenlik. ’n Lang tydperk van werkloosheid en onsekerheid het gevolg, totdat hy uiteindelik die geleentheid gekry het om ’n dokumentêr te verfilm en kort daarna betrokke te raak by die fliek, Klein Karoo, wat sy loopbaan amptelik laat vlam vat het. Dit het ook gelei tot die ontstaan van Faith in Motion Productions. “God het my letterlik na die bedryf toe geroep weens die talente wat hy my gegee het en ek was gehoorsaam. Ek loop elke dag op water saam met Hom, maar dit is absoluut die moeite werd,” sê hy.  

Alhoewel hy élke projek waaraan hy werk as ’n hoogtepunt beskou, meen die knap woordkunstenaar dat Verskietende Ster se sukses vir hom baie beteken het. Nie net omdat dit ’n storie is wat hy al van sy skooldae af met hom saamdra nie, maar ook omdat dit aangewys is as die gehoor se gunsteling-speelfilm by die kykNET Silwerskermfees in 2015 en deur Naledi Uitgewers in romanformaat gepubliseer is. Hy erken ook dat die lokettreffer, Strikdas, die lekkerste fliek is waaraan hy gewerk het, bloot weens die feit dat dit sy eerste prent as skrywer en vervaardiger was en ’n droom is wat waar geword het. Daarom het dit vandag steeds ’n spesiale plek in sy hart.

Die talentvolle skrywer en vervaardiger beskryf homself as ’n skaam introvert, wat dit geniet om soms op sy eie te wees. Dit is ook dan wanneer karakters vir nuwe stories in sy kop begin broei en ontkiem. Saam met sy vrou, Louise, en hulle twee dogters, Maya (6) en Mila (3 maande), woon hy tans in die Kaap en geniet hy die uitdagings wat sy werk so gereeld na sy kant toe gooi. Van jongs af, neem hy al video’s op van sy stories en hy is vandag steeds mal daaroor om te help skep aan inspirerende materiaal waarmee gehore kan vereenselwig. As hy nie rolprente gemaak het vir ’n lewe nie, sou hy graag ’n sanger wou wees, omdat dit een van sy talente is wat langs die pad agterweë gebly het. Ervaring het hom ook geleer dat sukses nie maklik is nie en dat jy moet veg, vasbyt en deursettingsvermoë hê om jou plekkie in die vermaak-son te behou.  

Regardt van den Bergh word uitgesonder as een van sy grootste plaaslike rolmodelle in die filmbedryf, terwyl Maretha Maartens uitstaan as skrywer. “Regardt het al diep spore in die bedryf getrap en is nie iemand wat moed opgee nie, selfs in die moeilikste tye. Maretha se boeke spreek die eerlikheid van die lewe aan en die manier hoe sy met haar karakters werk in haar stories het soveel sensitiwiteit. Ek sal graag nog eendag ’n fliek wil maak van haar roman, ‘Gezina en die Bruin Wind’,” verduidelik hy. Internasionaal vind die rolprentmaker aanklank by die werk van regisseur Stephen Daldry, draaiboekskrywer Aaron Sorkin, en romanskrywer en vervaardiger, Nicholas Sparks. Hy sal ook nog eendag graag saam met Marius Weyers wil werk, omdat hy glo dat hy die talent en passie het om enige rol met oorgawe te vertolk.

Tans is hy drukbesig om oorspronklike programme te vervaardig vir RoepTV.com, waarvan een ’n dramareeks is met Frank Rautenbach in die hoofrol en Regardt van den Bergh as regisseur. Verder timmer hy aan die inhoud vir ’n nuwe boek en voel hy bevoorreg om elke dag te kan doen waarvoor hy lief is.

Daar was voorwaar sover baie uitdagings op Stefan se loopbaanpad, wat hom soms in homself laat twyfel het. Maar hy het besef dat sukses slegs moontlik is as jy jou vrese kan oorkom. Dit is juis hierdie oënskynlike ‘onoorkombare uitdagings’, wat hom passievol maak om – as motiveringspreker – ook ander te help. Deesdae voel hy baie gemaklik in sy onderskeie rolle en lewer hy ’n onontbeerlike bydrae tot elke projek waarby hy betrokke raak.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

STEFAN ENSLIN

Facebook: https://www.facebook.com/stefanenslinofficial/

Instagram: @stefanenslin

Twitter: @StefanEnslin

STEFAN ENSLIN/ FAITH IN MOTION PRODUCTIONS

Facebook: https://www.facebook.com/faithinmotion.co.za/

Webblad: www.stefanenslin.com

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za 

Webblad: www.starburstmusic.co.za

 Alani Coetsee – PUBLICISTalani@starburstmusic.co.za / 072 442 6918

Starburst Promotions 
Office: 083 635 4717 
http://www.starburstmusic.co.za

Related posts