Grant-Pierre

Uiteindelik! ‘n Bloedjonk, aantreklike seun – vars uit die skool, wat hopelik die nuwe generasie gaan wys dat musiek tydloos is. Luister jy na sy warm stem en volwasse lirieke oor die lewe en die liefde, kan jy byna glo daardie musiek pas by die seunsgesig op die albumomslag.

As jong seun is hy blootgestel deur sy ouers aan die goue oues soos Don Williams, Elvis en Bles. Op 12 jarige ouderdom begin sy familie en skooljuffrou aan hom knaag om te begin met sanglesse. Dit vat moed vir ‘n tiener, maar nadat hy sy sangoudisie afgelê het, het die deure oopgebars vir Grant-Pierre. Van lewendige uitsendings op RSG tot Musiek Roulette op SABC 2. Al 2 keer! Sy pa het ‘n advertensie gesien vir oudisies vir Musiek Roulette en hom ingeskryf. Lang storie, kort; toe hy klaar gesing het, het Johan Stemmet vir hom gesê: “Seun, jy gaan ‘happen.’” En ons almal weet, Stemmet weet wat die volk soek!

En hier is hy met sy tweede album. Luister jy na die lirieke kan jy skaars glo hy het meestal self geskryf. Liedjies oor die lewe, die liefde en ervaring wat net uit ‘n ou-siel se pen kan vloei, verbaas hy jou.

Die produksie is gedoen deur Riaan Steyn, ‘n man wat al ‘n lang pad kom, maar besig is om ‘n nuwe klank te skep wat oud en jonk sal waardeer. Uitstaande gehalte produksie met mooi verwerkings waar daar altyd ‘n verrassingselement erens vir jou wag.

Hierdie album gaan jou asem wegslaan. Ek dink Grant-Pierre het die water raakgeboor wat gaan oorspoel van die ouer geslag tot die jonges. Sy stem is warm en ryk, maar sy lirieke gepas vir oud en jonk. Die verwerkings is ouskool-styl gedoen, maar vars en nuut – luister, dan sal hierdie kontrasterende sin, sin maak.

Hierdie jongman gaan harte steel en dis nou maar eers die begin vir hom. Mag ek my verstout om hom die Dean Martin van Suid-Afrika te noem. Met sy donker hare, sjarme en slaapkameroë – gaan hy jou hart steel en jy gaan plakkate van hom teen mure sien – van koshuiskamers tot ouetehuise.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →