
DATUM: 28 Maart 2019
Die musikant, Joshua na die Reën, wat bekend is vir sy rustige fluweelstem, se langverwagte nuwe album, SOMERAARDE, sal vanaf 12 April op alle digitale platforms landswyd beskikbaar wees. Die album kan reeds nou vooraf bestel word by www.jndr.co.za
Hy sal ook dié nuwe vrystellling van hom wat sy derde ateljee-album is en wat hy hierdie rondte self vervaardig het amptelik bekendstel by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria op 12 April 2019 by La Rochelle Girls’ High School in die Paarl op 14 April 2019.
Die eerste enkelsnit, SOOS IN NOU, wat voortbou op die kontemporêre wenresep waarvoor hy bekendheid verwerf het en wat ‘n splinternuwe pop-element in sy musiek bekendstel is vroeg in Maart 2019 uitgereik en het in ‘n oogwink die trefferparades van radiostasies soos onder andere Jacaranda FM, Maroela Media, Groot FM, 90.6 VCR en SFM, landswyd betree en is vinnig besig om sy pad na die Nr. 1 posissie te klim.
Die talentvolle musikant wat ook pas benoem is vir BESTE KONTEMPORêRE MUSIEK: BESTE SOLO-KUNSTENAAR vir SOMERAARDE by die Woordfees sê: “Die titel van my nuwe album, is SOMERAARDE. Dit is gebaseer op die titelsnit wat ek vir my ouboet, Pierre, geskryf het. Vandat ek kan onthou, was sy hoop vir die wêreld dat almal genoeg sal hê om van te leef en dat daar vrede sal wees. Dat mense hulle volle potensiaal sal ontdek. Ek het besef dat jy daardie plek net binne jouself kan vind, en as dit ’n naam gehad het, sou myne SOMERAARDE gewees het”.
Met SOMERAARDE se noukeurige samestelling en sielvolle inhoud, voldoen hy nie net aan sy nuutste doelwit nie, maar verstewig hy ook sy plek as musikant in die bedryf. Sy nuutste vrystelling sal sommer blitsvinnig in luisteraars se harte te kruip en is ’n aanwins vir enige albumversameling.
Saam met hom bring hy nuweling, Liani Reynolds vanuit die Karoo. Sy is een van daardie kunstenaars wat jou beïndruk wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing… en nog meer wanneer jy haar diepdeurdagte storievertellerslirieke onder oë kry. Daar is ’n hartroerende opregtheid en meesleurende melodie in haar stem wat jou aangryp en by jou bly lank nadat sy klaar gesing het. Dit is dan ook hierdie eienskappe wat haar debuut-album, LIGSOOM, wat ook op 12 April landswyd op alle digitale platforms beskikbaar sal wees, en by beide bekendstellings (12 April 2019 in Pretoria en 14 April 2019 in die Paarl) saam met Joshua na die Reën se album bekendgestel sal word, onvergeetlik gaan maak. LIGSOOM sal ook binnekort beskikbaar wees om vooraf bestel te word op www.jndr.co.za
MOSSIE, die eerste enkelsnit vanaf haar opkomende album wat sy ook self geskryf het, sal op 15 April 2019 uitgereik word en dit beloof om sommer dadelik in musiekliefhebbers se harte te kom nesskrop. Hierdie kontemporêre snit met aangrypende lirieke sal die luisteraar se aandag gevange hou en is emosioneel belaai.
“MOSSIE gaan oor iemand wat op die agtergrond of op ’n onsienlike plekkie leef ter wille van iemand anders, sodat hulle die beste deel kan hê en wees wie hulle moet wees. Dit is ’n verhaal oor opoffering en naasteliefde,” som die talentvolle sangeres kortliks op. “Ek het grootgeword saam met ’n gestremde kind, Mossie. Sy was my Ouma Botha se jongste kind van vier. My ouma het besluit om haar self te versorg en het dit vir nege-en-veertig-jaar gedoen. Die liedjie is ’n jaar nadat Mossie oorlede is geskryf en twee dae daarna is my ouma ook onverwags oorlede.”
Liani, wat hierdie gekies het as eerste enkelsnitvrystelling omdat sy nog altyd baie persoonlike inspirasie uit dié verhaal geput het, vertel verder: “Om na Mossie om te sien was nie altyd maklik nie en het baie opoffering geverg. Ouma Botha het ’n mossiekarossie, ’n onsienlike manteltjie, aangetrek ter wille van haar dogter. As ons voëls kyk soek ons die troupante en die arende, maar ’n mossie is mos maar ’n voëltjie wat ongesiens verbygaan. My ouma het so ’n mossie geword ter wille van haar geliefde Mossie.”
Joshua na die Reën beskryf Liani Reynolds se stem as as ryk en vol kleur. “Die hoekies en draaitjies daarin help die prentjies skets wat sy ook in haar lirieke beskryf.”
SOSIALE MEDIA:
JOSHUA NA DIE REËN
Facebook: https://www.facebook.com/JoshuaNaDieReen
Twitter: @JoshuaNaDieReen
Instagram: @joshuanadiereen
Webblad: www.jndr.co.za
LIANI REYNOLDS
Facebook: https://web.facebook.com/LianiReynoldsOfficial/
Instagram: @lianireynolds
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Alani Coetsee – PUBLICIST alani@starburstmusic.co.za / 072 442 6918
Starburst Promotions Office: 083 635 4717 http://www.starburstmusic.co.za