KING’S COLLECTIVE – KAMERLIEDJIE

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

GOSPELGROEP KING’S COLLECTIVE REIK AFRIKAANSE ENKELSNIT UIT

Daar is min musikante wat dit regkry om gehore behoorlik te laat stilsit en luister na die boodskap wat hulle met die wêreld wil deel. Die Gospelgroep, KING’S COLLECTIVE, se debuutalbum, Humbly We Come, het in 2017 reeds bewys dat hulle dié kuns bemeester het en nou is hulle terug met ’n splinernuwe Afrikaanse enkelsnit wat diep tref.

KAMERLIEDJIE is geskryf deur Reinhard Herbst en Dewet Bothma en bevat die mooiste lirieke, wat gekombineer is met vioolmusiek deur die talentvolle vioolspeler Evert van Niekerk. Dit is ’n baie intieme liedjie, uit die hart van twee gelowige mense, wat geskep is uit hulle liefde vir God. “Vir ons gaan die lied oor daardie geheime plek in jou binnekamer waar dit net jy en die Vader is en jy kan als met Hom kan deel en Sy hart kan leer ken,” verklap die musikantpaar. “Ons is die laaste jaar deur ’n baie donker tyd met baie toetse. Dit was ’n tyd waarin ons moes God moes aanroep en vasklou aan Sy woord. So in plaas daarvan dat ons op die negatiewe fokus, het ons besluit om die lied te gebruik as ’n geleentheid om vir mense meer van die Sy goedheid te vertel en vir diegene wat self sukkel moed in te praat.” ’n Musiekvideo van hierdie liedjie, sal ook later vanjaar beskikbaar wees.

Volgens die groep wou hulle ’n video maak wat die boodskap oordra van om die Vader vanuit jou binnekamer te aanbid. Hulle het self beheer geneem van die produksie van die video en het besluit om dit in twee verskillende dele en op twee verskillende plekke te skiet. Heidi se dele is by Hertford Country Estate verfilm, terwyl Renier se stuk in ’n buitevertrek by ’n vriend se huis. “Die idee het gespruit uit ’n vorige video – waarop ons nogsteeds baie trots is. Ons wou net iets doen wat nader aan ons hart lê; en dit is om minder maskers op te sit en net aanbidding vas te vang op kamera. Dit was eers nogal ongemaklik om soveel van jou persoonlike lewe te deel met die kamera, maar ons voel dis die regte stap vir ons in hierdie seisoen van ons lewe,” sê Renier. “Wat dit anders maak is dat ons nie die mees uitspattigste plekke gekry het nie, ons wou juis die alle daagse uitbeeld op die beste moontlike manier.”

Hulle nuutste enkelsnit, volg in die voetspore van Fountains Of My Heart wat baie goed ontvang is en selfs vir hulle ’n onderhoud in die Radio Kansel-ateljee verseker het. Die liedjie is geneem vanaf hulle album, Humbly We Come, wat bestaan uit nege oorspronklike en sielvolle snitte, wat op ’n moderne manier verwerk is om aanklank te vind by gehore van alle ouderdomme. Sewe van die liedjies kom uit Renier en Heidi se eie pen, terwyl As We Sing Holy deur Awive geskryf en Fall Afresh ’n Jeremy Riddle-liedjie is.

Ander enkelsnitvrystellings deur die groep, sluit in Hold Me In Your Arms, wat in 2015 op iTunes gelys is, asook die Afrikaanse treffer, U Is Vir My, wat in 2016 uitgereik is. Laasgenoemde se musiekvideo het groot opslae gemaak in Gospelkringe en word gereeld op kykNET NOU! gespeel. Dit is ook reeds deur meer as ’n duisend mense op YouTube gekyk. 

Volgens die duo kan hulle musiekstyl nie in een spesifieke kategorie vasgevang word nie, omdat dit ’n wye verskeidenheid genres kombineer, wat elemente insluit van Country, Rock, Folk en vele meer. “KAMERLIEDJIE is ’n nuwe begin vir KING’S COLLECTIVE. Ons het regtig probeer om iets nuuts te doen vir onsself. Daar is ook besluit om vir ons handelsmerk ’n splinternuwe baadjie aan te trek. Vir ons is dit ’n teken dat die ou dinge nou verby is en nuwe geleenthede voorlê. As selfs net een persoon aangeraak word hierdeur sal ons dit as ’n sukses beskou,” sê hulle.

OOR DIE DUO

Die groep, wat tans bestaan uit Renier en Heidi Henning, is in 2014 gestig. Hierdie duo het sedertdien gewys dat hulle ’n gedugte span is op die verhoog en ook as egpaar.

Renier is al versot op musiek vandat hy kan onthou en is doenig met instrumente vandat hy twaalf was. Later het hy begin vervaardig en dit is wat hy steeds vandag, na ’n dekade in die musiekbedryf, vir ’n lewe doen. Dit is daarom ook nie vreemd dat hy die rol van kitaarspeler, komponis, vervaardiger en klankingenieur van die groep vervul nie. Hy lys kunstenaars soos I Am They, Keith Urban, Imagine Dragons en Tim McGraw, as van sy huidige gunstelinge. Die musikant glo dat musiek nie gaan oor toertjies en tierlantyntjies nie, maar oor hoeveel jy van jouself in ’n liedjie sit sodat dit opreg is.

Heidi sing reeds vandat sy ’n klein dogtertjie is en het nog altyd ’n natuurlike aanvoeling vir musiek en lirieke gehad. Sy was van jongs af lief vir skryf en het haarself leer kitaarspeel toe sy op hoërskool was. Alhoewel sy reeds op sestien saam met groepe begin optree het, het sy eers op twintig die Gospelmark betree, nadat sy tot bekering gekom het. Sy is die hoofsanger en liedjieskrywer van KING’S COLLECTIVE en put inspirasie uit lewenservaring, mense en musiek. Die groep se debuutalbum en hul eerste musiekvideo (wat tans op die kassie te sien is) is van die hoogtepunte van haar loopbaan sover. Wanneer sy nie op musiek of grafieseontwerp fokus nie, hekel sy komberse en luister sy na ’n wye verskeidenheid musiek, wat wissel van geestelike musiek en Country tot Folk, Rock, Klassieke musiek en Oldies. Sy glo dat musiek meer oor ’n kunstenaar verklap as wat ’n mens dink en dit is beslis waar oor haar, want sy stort hart en siel in elkeen van haar liedjies.   

KING’S COLLECTIVE het groot drome vir die toekoms, wat twee nuwe musiekvideo’s en ’n Afrikaanse album insluit. Dié Gospelgroep wil graag mense se lewens en harte raak met hulle musiek. Die treffende manier waarop hulle dit reggekry het om ’n pragtige stem met verskeie instrumente en klanke te kombineer en dit aan te vul met roerende lirieke, prikkel nie net die hartsnare nie, maar is ook ’n plesier vir elke oor wat daarna luister. Hulle nuutste enkelsnit is waarlik iets besonders en beloof om luisteraars sommer baie opgewonde te maak oor die Gospel-bedryf.

KAMERLIEDJIE IS BESKIKBAAR OP DIE VOLGENDE PLATFORMS:

iTunes, Apple Music, Deezer en Spotify.

Kliek hier vir die aflaaiskakels – https://distrokid.com/hyperfollow/kingscollective/kamerliedjie

SOSIALEMEDISKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/kingscollectiveworship/

Instagram: @kingscollectiveworship

BESPREKINGS EN ALBUMBESTELLINGS:

hello@heidiheartcreative.co.za

MEER INLIGTING OOR DIE ALBUM EN ENKELSNIT:

pr.kingscollective@gmail.com

FOTO’S EN ENKELSNITTE:

https://www.dropbox.com/home/KINGS%20COLLECTIVE

Related posts