kykNET is opgewonde om aan te kondig dat die gewilde sepie, Getroud met Rugby, in Julie ‘n splinternuwe tydsgleuf kry. Aanhangers van dié sepie kan vanaf Maandag 1 Julie om 18:00 inskakel om uit te vind wat in die lewens van Die Stryders en hul familie en vriende gebeur.
*Kyk hier wat lê voor in seisoen 4 van Getroud met Rugby.

Dit is nie al goeie nuus nie – twee van kykNET se aktuele programme kry ook vanaf Julie nuwe tydsgleuwe. Prontuit saai vanaf 8 Julie om 21:00 uit en KN Verslag in Gesprek skuif vanaf 3 Julie na 21:00.
Beide dié programme is reeds sedert 2015 gewild by kykers. Prontuit, watvroeër vanjaar ‘n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie, Beste nuus- of aktualiteitsprogram gewen het, ondersoek stories deur gesprek, ná dit nuus was. Aanbieder Kabous Meiring, wat vroeër vanjaar met ‘n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie, Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram, bekroon is, verwelkom elke week kenners, leiers en opiniemakers op die program om gewigtige kwessies te bespreek.
KN Verslag in Gesprek bied weekliks ’n oorsig van nuusgebeure en aktuele politieke kwessies. Aanbieder Waldimar Pelser, wat in 2018 met ‘n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie, Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram, weggestap het, skroom nie om kontroversiële kwessies met sy gaste te bespreek nie.
Kykers kan ook uitsien na ‘n paar splinternuwe reekse, sowel as nuwe seisoene van gewilde reekse op kykNET in Julie.
Die nuwe reekse wat begin is:

- Elders Japan, ‘n reisjoernaalprogram met Erns Grundling as aanbieder, op Dinsdag 2 Julie om 21:00.
- Lui maar op, Belinda, ‘n sitkom met onder meer Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland en Eric Nobbs, begin op Maandag 8 Julie om 20:30 op kykNET.
- Alles Malan, ‘n dramareeks met onder meer Nadia Valvekens, Ivan Zimmermann, Albert Maritz en Elsabé Daneel in die rolverdeling, begin op Dinsdag 9 Julie om 20:00 op kykNET.
- Kokkedoor begin Donderdag 18 Julie om 20:00 op kykNET.


