
Liani Reynolds is een van daardie kunstenaars wat jou beïndruk wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing… en nog meer wanneer jy haar diepdeurdagte storievertellerslirieke onder oë kry. Daar is ’n hartroerende opregtheid en meesleurende melodie in haar stem wat jou aangryp en by jou bly lank nadat sy klaar gesing het. Dit is dan ook hierdie eienskappe wat haar debuut-album so onvergeetlik maak.
Haar eerste enkelsnit, MOSSIE, is reeds aan radiostasies landswyd uitgereik en haar debuut-album LIGSOOM is ook nou op alle digitale platforms landswyd beskikbaar. Kry die album hier:

Spotify: https://open.spotify.com/track/5nGrB8mjIPqj1EVbRLRJTY?si=9AVnuEkZTNCDArYsIyajLg
Deezer: http://www.deezer.com/track/666307642
iTunes: https://itunes.apple.com/za/album/mossie/1459990850?i=1459990851
MOSSIE, wat deur die kunstenaar self geskryf is, beloof om sommer dadelik in musiekliefhebbers se harte te kom nesskrop. Dit spog met ’n meesleurende wysie wat strelend is op die oor… net soos haar stem wat hierdie nommertjie perfek komplementeer. Die beste deel van hierdie kontemporêre snit, is egter die aangrypende lirieke wat nie net – soos ’n goeie boek – die luisteraar se aandag gevange sal hou nie, maar moontlik ook sal sorg vir ’n traan of twee in die oog.
“MOSSIE gaan oor iemand wat op die agtergrond of op ’n ongesiende plekkie leef ter wille van iemand anders, sodat hulle die beste deel kan hê en wees wie hulle moet wees. Dit is ’n verhaal oor opoffering en naasteliefde,” som die talentvolle sangeres kortliks op. “Ek het grootgeword saam met ’n gestremde kind, Mossie. Sy was my Ouma Botha se jongste kind van vier. My ouma het besluit om haar self te versorg en het dit vir nege-en-veertig-jaar gedoen. Die liedjie is ’n jaar nadat Mossie oorlede is geskryf en twee dae daarna is my ouma ook onverwags oorlede.”

Liani, wat hierdie gekies het as eerste enkelsnitvrystelling omdat sy nog altyd baie persoonlike inspirasie uit dié verhaal geput het, vertel verder: “Om na Mossie om te sien was nie altyd maklik nie en het baie opoffering geverg. Ouma Botha het ’n mossiekarossie, ’n onsienlike manteltjie, aangetrek ter wille van haar dogter. As ons voëls kyk soek ons die troupante en die arende, maar ’n mossie is mos maar ’n voëltjie wat ongesiens verbygaan. My ouma het so ’n mossie geword ter wille van haar geliefde Mossie.” ’n Musiekvideo van hierdie emosionele treffer word ook binnekort vrygestel.
LIGSOOM kan beskryf word as ’n unieke kontemporêre musiekalbum, wat jou soos ’n sprokiesverhaal sal vergesel op ’n baie persoonlike reis deur die sangeres se lewe. “Die album is saamgestel uit liedjies oor persoonlike belewenisse en odes aan geliefdes. Mense wat in my lewe baie vir my beteken het,” verklap sy. “Die titel is ’n samevattende konsep van ’n tema waaroor byna al die snitte handel. Ons het almal in ons kop ’n idee van hoe ons wil hê dit moet lyk as iets goed is. Nie aangeplak-goed of versier met allerhande blinkers nie, net vry. Soos wat dit nog altyd bedoel was om te wees. Party mense noem dit die lig of hemel, maar vir my is daardie plek die LIGSOOM. As jy mooi van naby kyk, sal jy sien dat daar mossies binne-in woon. Hulle wat onsienlik sweef en nie al die aandag vir hulleself wil toeëien nie, sodat ander in die lig kan wees en asemhaal.”

Agt van die elf snitte op die album is oorspronklike Afrikaanse werke, uit haar eie pen, wat elkeen sorgvuldig aanmekaargeweef is met die mooiste klanke en lirieke om uit die staanspoor gehore se harte vas te vang. ’n Duet saam met Joshua na die Reën, Vlieërs, kan ook op dié CD verwag word, asook skeppings deur Amanda Strydom (Pelgrimsgebed) en Bittereinder se Jaco van der Merwe (Gewoond). “Die liedjies is stories. Ek kan maar net hoop dat die storie vir iemand iets sal beteken wat daarna luister. Met die uiteensetting van die volgorde het ek probeer dat die storie begin en afsluit met die twee snitte wat albei verwys na ’n gebeurtenis in die LIGSOOM… die gebeurtenis waar mens aanhou soek na die lig wat weggesteek is in die realiteit van nou. Verder is snitte wat die luisteraar vat na ’n stiller plek saamgegroepeer met ander wat hierdie atmosfeer steun. Die samestelling was eintlik maklik aangsien, as jy mooi kyk, jy die tema van die weggesteekte lig oral vind binne elke lied se lirieke,” verduidelik sy.
As jy haar vra watter liedjies op die komende album haar gunsteling is, sê sy: “Dis so moelik vir my om net een enkele snit as my gunsteling uit te sonder, want elke liedjie het sy eie storie in my hart en sentiment. Die liedjies wat baie naby aan my hart lê is Mossie, Groen, Herontmoeting, Skuiling en Vlieërs. Ons het almal maar net ons stories. Ek hoop hierdie album moedig elkeen wat daarna luister aan om ook hulle stories te skryf en te deel.” Die eerste enkelsnit en musiekvideo vanaf dié splinternuwe vrystelling, sal ook binnekort beskikbaar wees.
Joshua na die Reën beskryf Liani Reynolds se stem as as ryk en vol kleur. “Die hoekies en draaitjies daarin help die prentjies skets wat sy ook in haar lirieke beskryf.” Volgens dié veelsydige plaasmeisie, is sy al omring met musiek vir solank as wat sy kan onthou, omdat haar ouers en ander familielede self ook instrumente speel. “Ek is die jongste van drie kinders en die enigste dogter. My ouers, en die manier en omstandighede waarin ek grootgeword het op ons plaas in Piet Plessis, het ’n groot rol gespeel in wie ek is en hoe ek my musiek skep,” vertel die sangeres. Sy is nou al vir twee jaar professioneel doenig met musiek en is na ’n lofprysingsgeleentheid deur Ronel Brink aangemoedig om haar musiektalent te ontgin. So het haar paadjie met Joshua na die Reën gekruis, by wie sy dadelik aanklank gevind het. Hy het toe aangebied om haar te help met die verwerkings en produksie van haar liedjies en so het daar toe ’n mooi vriendskap ontstaan.
Die kunstenaar volg haar hart en luister graag na musiek met ’n opregte boodskap wat eksperimenteer met klanke. Sy sê: “Ek bewonder musikante wat die moed het om te wees wie hulle is. Musikante wat ’n invloed gehad het op my musiekstyl of my manier van dink oor musiek, is Jubal’s Kin, Tom Odell, Efterklang, Björk, Joshua na die Reën, Coldplay en Tracy Chapman.”
As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat stories oor mense en wie hulle is haar verbeelding prikkel. “’n Liedjie wat vir ’n spesifieke persoon geskryf is, of uit ’n sekere situasie, laat my altyd weer ’n keer na dit wil luister. Die lirieke kom lê dan sommer in my hart en ek kan beleef wat die liriekskrywer gevoel het toe hy dit neergepen het,” deel sy.
Daar is baie ander drome en planne wat sy graag wil verwesenlik, wat nog liedjies en albums insluit, maar vir nou fokus sy eers op die geleenthede voor haar. Sy oefen hard vir toekomstige optredes en gaan ook deel wees van die Musiek Soos Grond-konsertreeks wat vir later vanjaar beplan is. ’n Volledige webblad, met met ’n skatkis van stories uit haar lewe, sal ook binnekort beskikbaar wees.
LIGSOOM het ’n emosionele en nostalgiese styl wat verweef is met ander sterk musiekelemente en ’n indrukwekkende stem wat nie net vir Liani Reynolds ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers gaan losslaan nie, maar ook ’n versamelstuk gaan word waarin luisteraars aspekte van hulleself stuk-stuk gaan ontdek.
“Niks op hierdie album is gekies om mense te probeer oortuig om van my en die musiek te hou nie. Dit is maar net wat dit is. Ek dink almal kan uitsien na lirieke wat ’n prentjie in jou kop skilder en wat jou sal meesleur as deel van die storie. Ek hoop dat mense wat daarna luister met ’n ligter gemoed sal wegstap,” sluit sy af.
SNITTE OP DIE ALBUM
Sterredigter (geskryf deur Liani Reynolds)
Mossie (geskryf deur Liani Reynolds)
Swaeltjie (geskryf deur Liani Reynolds)
Skuiling (geskryf deur Liani Reynolds)
Pelgrimsgebed (geskryf deur Amanda Strydom)
Ruimte (geskryf deur Liani Reynolds)
Gewoond (duet saam met en geskryf deur Jaco van der Merwe)
So baie dinge (geskryf deur Liani Reynolds)
Vlieërs (duet saam met en geskryf in samewerking met Jacques de Villiers)
Herontmoeting (geskryf deur Liani Reynolds)
Groen (geskryf deur Liani Reynolds)
Liani is ook deel van die MUSIEK SOOS GROND kunstenaars wat deur unieke en betowerende musiekkonserte beloof om die mees aangrypende musiek en van die beste talent in Suid-Afrika ten toon te stel!
Saam met haar vriende Joshua na die Reën, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Kaleidoskoop gaan hulle die verhoog deel en nie net hulle eie verwerkings opvoer nie, maar ook saam musiek maak en mekaar begelei.
Die eerste MUSIEK SOOS GROND konsert vind reeds hierdie naweek plaas by Villa Avianto (Bloemfontein) op 27 April en die tweede konsert vind plaas op die 4de Mei in Pretoria by he Big Red Barn.
KONSERTDATUMS
27 April 2019 – Villa Avianto, Bloemfontein
4 Mei 2019 – The Big Red Barn, Pretoria
Deure open om 17h00 en sluit weer om 22h00. Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier.
Kaartjies sal beskikbaar wees by www.musieksoosgrond.co.za en sal wissel tussen R200 en R250 per persoon.
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://web.facebook.com/LianiReynoldsOfficial/
Instagram: @lianireynolds
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST
DATUM: 25 APRIL 2019