
FOTO KREDIET: Hendri Skoll Photography
Villa Avianto (Bloemfontein) en The Big Red Barn (Pretoria) gaan binnekort die tuistes wees van twee baie unieke en betowerende musiekkonserte, wat beloof om die mees aangrypende musiek en van die beste talent in Suid-Afrika ten toon te stel!

MUSIEK SOOS GROND is die heel eerste van sy soort in die land en gaan sorg vir ’n musiekervaring wat jy beslis nie wil misloop nie. Dié twee konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle hoendervleismooi lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel. “Die idee om ‘n platform vir onafhanklike Afrikaanse kunstenaars te skep waar hulle unieke musiek en woorde ten toon gestel kan word, broei al ‘n paar jaar in my hart. Toe Joshua na die Reën vir my vra om saam met hom hierdie platform te skep kon ek nie vinnig genoeg ja sê nie. Elke MUSIEK SOOS GROND aand gaan uniek, kosbaar en onvergeetlik wees. Dit is ‘n voorreg om die pad te kan stap saam met hierdie dinamiese groep kunstenaars”, sê Besturende Direkteur, Rupert van Vuuren.
Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds gaan almal die verhoog deel en nie net hulle eie verwerkings opvoer nie, maar ook saam musiek maak en mekaar begelei.
“Ek het eendag besef dat mense in die gehoor, by konserte, soos grond is waarop musiek val. Elkeen ervaar dit anders en uit daardie belewenis groei daar iets uniek. Daarom wil ons by elke vertoning ’n afwagting, eerder as ’n verwagting skep, sodat almal saam met ons kan kom ervaar hoe die aand uitdraai,” sê Joshua na die Reën wat die musiekproduksie gaan behartig. “Vertonings gaan ’n baie vloeibare formaat hê en hopenlik ’n geleentheid skep vir luisteraars om weer die dieper aspekte van musiek en lirieke te waardeer,” voeg hy by.

Alhoewel die basiese idee agter elke geleentheid dieselfde is, kan diegene wat dit bywoon uitsien daarna om aangenaam verras te word, want nie een van die twee gemengde konserte gaan dieselfde wees nie.
“Die idee het ontstaan toe ’n paar van ons begin gesels het oor die feit dat daar nie regtig ’n platform is vir ‘dieper’ Afrikaanse musiek, sonder balrokke en vuurwerke en met meer vleis om die lirieke, nie. Die konsep van die vertonings is om iets vars, outentiek, eg, organies, akoesties en eerlik op die planke te bring. Daar sal geen agtergrondmusiek wees nie, net lewendige instrumente, stemme en opregte harte,” verduidelik Kaleidoskoop se Anique Jordaan wat betrokke is by die samestelling van dié besonderse projek. “Ons wil vir mense wys dat daar iets anders is as wat die hoofstroom bied en wil opkomende onafhanklike kunstenaars inspireer en aanmoedig om getrou te bly aan hulself en hulle musiek.”
“Die kunstenaars wat betrokke is by die projek, is almal mense met dieselfde hart vir musiek wat as gevolg van ’n sameloop van omstandighede paaie gekruis het, en die doelwit is om hierdie konsep te groei sodat daar in die toekoms meer musikante betrokke kan wees,” sê Joshua na die Reën verder.
Om dit nog meer besonders te maak, gaan dié groep musikante ook saam ’n splinternuwe enkelsnit opneem. LUGBALLON is ’n pragtige kontemporêre hartsliedjie, met die boodskap dat jou uitkyk op die lewe dikwels bepaal hoe jy situasies hanteer. “Ons is almal saam met ’n groep mense op reis deur die lewe. Maar wat sien jy wanneer jy van bo af kyk? As jy in ’n spesifieke situasie is, voel jy soms oorweldig. Wanneer jy dit egter van bo af ervaar, lyk jou probleme klein en kan jy die positiewe raaksien,” vertel Joshua na die Reën. “Daar is baie negatiwiteit in ons land, maar as ons bereid is om dit uit ’n ander hoek te beskou, sal ons sien hoe mooi dit is en hoe ons soms die mooi in ander mense mis.” Dié enkelsnit en ’n musiekvideo sal gedurende Maart 2019 bekendgestel word.
Buiten vir hoë gehalte musiek, sal gaste ook bederf word met gourmet-geregte, lekker wyn en goeie koffie om die geleentheid mee af te rond.
KONSERTDATUMS
27 April 2019 – Villa Avianto, Bloemfontein
4 Mei 2019 – The Big Red Barn, Pretoria
Oor die keuse van konsertlokale, sê Anique: “Ons het venues probeer kies waar die natuur alleen as agtergrond vir die verhoog dien. Plekke waar mense lekker kan piekniek hou en ontspan, hulle skoene uitskop en die grond onder hulle voete kan voel.”
Deure open om 17h00 en sluit weer om 22h00. Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier.
Kaartjies sal beskikbaar wees by www.musieksoosgrond.co.za en sal wissel tussen R200 en R250 per persoon.
RAAK BETROKKE!
Indien jy of jou besigheid ’n stalletjie by een van die vertonings wil hê of jy graag op ’n ander manier wil bydra of betrokke raak, stuur ’n e-pos na musieksoosgrond@gmail.com
Ek word stil.
Ek word stil as my siel onder jou voete soos ’n oop, omgeploegde land lê.
Jy met jou musiek soos reën oor my… met ’n Kaleidoskoop van kleur laat dit iets wat
versteek is binne my uit sy nate bars en dan word dit skielik groen,
’n grasvlakte, ’n boom, ’n woud.
En ek word stil,
stil tevrede as my siel te midde van jou melodieë ontkiem.
– Musiek Soos Grond –
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: @MusiekSoosGrond
Instagram: @musieksoosgrond
Twitter: @musieksoosgrond
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC3WN4kHoL_c-XLGdLTNsMZg/
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
Alani Coetsee – PUBLICIST alani@starburstmusic.co.za / 072 442 6918
Starburst Promotions Office: 083 635 4717 http://www.starburstmusic.co.za