ANDERS dra nuwe enkelsnit op aan die Jakarandastad!

FOTO KREDIET:                                                                  Yolandi Jacobsz

Die sangpaar, Wynand and Lindi Delport, van die musiekgroep ANDERS is beslis enig in hulle soort – ’n feit wat net weereens bevestig word met hulle splinternuwe enkelsnit, PRETORIA.  

Hierdie ode aan die Jakarandastad, waar hulle woon, is deur die duo self geskryf en spog met ’n lekkerluister 80’s pop-rockklank. Maar hoekom nou juis ’n liedjie oor hierdie stad?

Baie mense het op ’n stadium in hulle lewe in Pretoria gebly, gewerk of goeie tye gehad. Dit is die een stad in Suid-Afrika waar die meeste blywende herinneringe geskep word. Die liedjie gaan oor Lindi se grootwordjare in Pretoria – oor die goeie en slegte tye,” verduidelik Wynand. “Dit maak regtig nie saak waar ons op die ou einde van die dag opeindig nie, maar Pretoria sal altyd ’n spesiale plek in ons harte hê, met herinneringe wat ons vir altyd sal koester.

Lindi voeg by: “Die snit maak my nostalgies oor die verlede, opgewonde oor die toekoms en dankbaar oor die hede. Ek het in Pretoria grootgeword en nou maak ons ook ons dogter hier groot.”

ANDERS voel dat hulle nuwe enkelsnit ’n tipe kreet of temalied kan wees vir die Jakarandastad. “Ons hoop dat die lied mense se herinneringe oor Pretoria sal laat opvlam en dat dit diegene wat daar bly sal trots en lief maak vir die stad,” sê Wynand. “Ons glo dat wanneer luisteraars PRETORIA vir die eerste keer hoor, dit hulle vir ’n lang ruk sal bybly.” 

Die duo som die musiekvideo van die snit in een woord – “Pret!”

Ons was bevoorreg genoeg om saam met die bekroonde regisseur, André Velts, en Werner Nortje aan die musiekvideo te maak. Ons doel was nie regtig om ’n storie te vertel nie, maar eerder om met Pretoria te spog. Die liedjie vertel reeds die storie en die video moes net Pretoria se skoonheid vasvang,” verduidelik Wynand. “Ons het die orkes by die video ingesluit omdat daar so baie instrumente betrokke was om hierdie fantastiese rockklank te skep. Omdat dit Lindi se storie is, het ons besluit dat sy op haar fiets deur die stad moes ry – verby die plekke wat deel vorm van haar storie.” 

Kyk die video hier:  http://www.youtube.com/watch?v=9R-7rdI3BGU

Hierdie talentvolle groep het al verskeie trefferliedjies, albums en drie Ghoema-toekennings (Beste Duo, Groep van die Jaar en Beste Geestelike Album) op hulle kerfstok. “Ons is trots op ons Ghoema-toekennings en baie dankbaar dat ons musiek gereeld oor die radio gehoor kan word. Die geleentheid om die temalied vir die fliek, Knysna, te skryf en die feit dat ons liedjie, Die Pad, gekies is as die temalied van die romantiese komedie, Vrou soek boer, is beslis loopbaanhoogtepunte. Die Pad is steeds vandag nog ’n gewilde liedjie by troues. Om ons musiek te kan deel met ons aanhangers, bly altyd vir ons ’n groot voorreg.”

Wynand en Lindi het ontmoet toe hulle sestien was, begin uitgaan op sewentien en die res is geskiedenis. “Ons het by die kerk ontmoet en dit was ons passie vir musiek wat ons na mekaar toe aangetrek het. Ons is getroud, het ’n paar liedjies geskryf en so het ANDERS, wat oorspronklik ’n geestelike groep was, begin. Die naam van ons groep is geïnspireer deur ’n Bybelvers wat sê dat ons anders moet wees as die wêreld,” deel Wynand.

Hulle eerste album, Dink en Leef, is baie goed ontvang in gospelkringe en hulle weergawe van Juanita du Plessis se Ons Koning Kom is steeds vandag baie gewild. Drie suksesvolle albums het sedertdien gevolg.

Die paartjie – wat onderskeidelik daarvan sou hou om in die mode- en restaurantbedryf te werk as hulle nie musikante was nie – put inspirasie uit die liefde. “Liefde het so baie kante. Goed, sleg en moeilik. Ons liefde vir mekaar inspireer ons. Om vir twaalf jaar getroud te wees, vat harde werk, doelgerigtheid en passie en ons hou daarvan om daaroor te skryf. Die geboorte van ons dogter, Karmin, het ’n nuwe tipe liefde en inspirasie in ons lewens ingebring.

Beide Wynand en Lindi is al hulle hele lewe lank versot op rockmusiek, en het eers meer onlangs ’n liefde vir country-musiek ontwikkel. Hulle lys Queen, Toto, Keith Urban, Kelly Clarkson, Tim McGraw en Ed Sheeran as van die musikante wat ’n groot invloed het op hulle eie werk. Plaaslik sal hulle nog graag eendag die verhoog wil deel met kunstenaars soos Elvis Blue, Riana Nel, Ricus Nel en Monique Steyn.

Alhoewel ANDERS al baie sukses behaal het in die musiekbedryf oor die afgelope twaalf jaar, was die nie sonder uitdagings nie. “Die musiekbedryf is nie altyd die mooiste plek om in te werk nie. Ons moes besluit om onsself doof te hou vir die geraas en musiek te maak waarvan ons hou. Daar was baie moeilike tye, maar ons het positief gebly en aanhou fokus op die rede hoekom ons musiek maak. Harde werk en passie kan jou ver vat, maar niemand het die finale sê oor waar jy gaan opeindig nie. Dit is God se besluit,” meen hulle.

Wat is volgende ANDERS? “Ons werk tans aan die verhoogproduksie vir die Finesse Net Girls-bootreis 2020 – ons vervaardig die materiaal vir die hoofverhoog-optredes tydens die bootreis,” sê Wynand.

Hierdie dinamiese duo het nog baie drome vir die toekoms en probeer altyd om hulleself te verbeter en te vernuwe. PRETORIA is nie net ’n bewys van hoeveel hulle as kunstenaars gegroei het nie, maar is ook ’n versamelstuk vir enige musiekliefhebber se speellys – veral vir diegene wat ook verlief is op die Jakarandastad.

PRETORIA is nou beskikbaar op alle digitale platforms: https://umgafrica.lnk.to/Pretoria

VOLG HULLE AANLYN OP

Facebook: www.facebook.com/andersorkes

Twitter: @Anders_Orkes

Instagram: @anders_orkes

Webblad: www.andersorkes.co.za 

Vriendelike groete

STARBURST PROMOTIONS
Alishia van Deventer – HEAD OF PUBLICITY & MARKETING

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →