Bennie Fourie speel onwaarskynlike held in nuwe Quentin Krog-rolprent

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

VRYSTELLING IN TEATERS LANDSWYD:                   23 Augustus 2019

Een les wat die lewe graag vir ’n mens wil leer, is dat niks ooit so eenvoudig is as wat dit mag voorkom nie. ’n Feit wat bevestig word deur regisseur Quentin Krog (Ballade vir ’n EnkelingVir die Voëls) se splinternuwe rolprent, ANDER MENS, wat net soos die hoofkarakter glad nie volgens ’n standaard-formule beoordeel kan word nie. 

Die fliek word aangebied vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger, van die getuiebeskermingsprogram in die Kaap, en is gebaseer op die bekroonde skrywer – Zirk van den Berg – se topverkoperroman wat in 2014 bekroon is met die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie. 

“Alhoewel die basiese storielyn dieselfde is, verskil die film drasties van die boek,” verklap Krog oor dié draaiboekverwerking wat hy met behulp van Sean Robert Daniels, Herman Binge en Frannie van der Walt aangepak het. “Die gebeure en agtergrondstories van die karakters is aangepas om beter by die formaat en tydsduur van die rolprent te pas.” 

ANDER MENS vertel, met oorgenoeg aksie en donkerhumor om kykers op die punte van hulle stoele te hou, die spanningsvolle verhaal van ’n doodgewone en baie vervelige boekhouer, Daniël Niemand, wie se lewe onherroeplik verander nadat ’n reeks misverstande sy bestaan heeltemal omvergooi. Alhoewel die chaos tot groot tragedie lei, help dit hom ook om ’n belangrike persoonlike oorwinning te behaal. 

“Hierdie is regtig ’n vars genre, waaraan Suid-Afrikaners nog nie baie blootgestel is nie. ’n Aksieprent, met droë ernstige omstandighede, vermeng met humor. Dit is ook nie aldag wat jy die kans kry om vir Frank Opperman in die rol van ’n skelm te sien nie en dinge raak rof – maar dit is snaaks ook. Dis beslis ’n fliek wat almal moet sien,” sê Bennie Fourie (Vuil WasgoedMooirivier, Hotel) oor dié fliek waarin hy sy eerste hoofrol speel. 

Kyk die lokprent hier:   https://youtu.be/NM7zUkjcZ2c

Die meeste van die aksiebelaaide gebeure speel af teen die prentjiemooi berglandskap van Du Toitskloof in die Kaap. Omdat die film ook grense verskuif in terme van styl en genre op plaaslike bodem, is daar gebruik gemaak van dieselfde tipe kameralens as wat daar vir die 70’s-treffer, The Godfather, gebruik is en wat heel gepas is vir dié moderne aksieriller.

Bennie is briljant in die rol van die bleeksiel, Daniël, wat sy hele lewe lank deur die mense rondom hom geboelie word. Sy saai bestaan verander egter gou in ’n nagmerrie wanneer ’n konfrontasie met sy huweliksberader (Tim Theron) skeefloop en sy skelm werkgewer en misdaadbaas, Frank Redelinghuys (Frank Opperman), hom help om die gemors skoon te maak. 

Wanneer nuwe inligting Frank se aardsvyand, die polisieman Johannes Ackermann (James Borthwick), die perfekte geleentheid gee om uiteindelik hierdie krimineel en sy broer Hansie (André Weideman) vas te trek, word Daniël onwetend as lokaas gebruik en onder die toesig van Erica Kruger (Marlee van der Merwe) geplaas wat ’n paar donker geheime en agendas van haar eie het. 

Oor sy karakter sê Bennie: “Daniël is ’n ou vir wie alles skeefloop. Om lewe te gee aan hierdie man, wat so ongelukkig is in sy bestaan, het ek 16 kg opgetel. Hierdie transformasie het baie gehelp om my in die karakters se skoene te plaas, omdat ek naderhand nie eers meer soos myself gevoel het nie, my bewegings was meer beperk en ek het ook gouer moeg geraak.” 

Ander sterre soos Jana Cilliers, Lika Berning, Clyde Berning, Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg en meer is ook in die fliek te sien.

“Ons het van die begin af geweet watter akteur perfek vir elke rol sou werk, wat die proses makliker gemaak het,” verklap die regisseur. 

Om die rolprent nog meer geloofwaardig te maak, moes Marlee van der Merwe (Getroud met Rugby) hard saam met ’n opgeleide choreograaf werk om haar intense vegtonele realisties te vertolk. 

“Ek was agt maande swanger toe Quentin Krog my van die rol vertel het. Dit was ’n groot, maar lekker uitdaging om van my babagewig ontslae te raak en myself te omskep in ’n sluipmoordenaar met bogemiddelde fisiese vaardighede. Verder het ek dit ook geniet om ’n karakter te speel wat baie verskil van die waaraan ek gewoond is,” vertel sy oor die voorbereiding vir haar karakter. “Dit was ’n belewenis om in die geselskap te wees van legendes soos Frank Opperman, James Borthwick en Jana Cilliers en om saam met Bennie Fourie te werk, was ’n fees! Ons het saam koud gekry, baie tyd in die Land Rover spandeer en mekaar beter leerken. Ek het met tye regtig gesukkel om nie vir hom te lag in van sy tonele nie. Sy improvisasie is baie skerp.”

As regisseur, was Quentin ook baie oop vir kreatiewe voorstelle en verklap hy dat verskeie tonele op die laaste oomblik spontaan aangepas is as gevolg van die akteurs se interessante interpretasie daarvan.

“Wanneer jy die kans kry om saam met Quentin Krog te werk, gryp jy dit aan. Buiten vir die feit dat hy ’n wonderlike mens en regisseur is, met ’n passie vir wat hy doen, het hy ook ’n ongelooflike oog vir detail en is hy baie noukeurig met sy beplanning,” vertel Bennie. “Omdat hy sy huiswerk so goed doen voor die tyd, kan die akteurs so lekker werk op stel. Die lekker ding is dat wanneer hy jou kies vir ’n rol, hy jou die vryheid gee om keuses te maak oor jou karakter en die vertolking daarvan en dis iets wat ek baie waardeer.” 

Tussendie bloed en konsternasie deur, sal die kyker beslis gekonfronteer word met baie stereotipes, maar ook gou besef dat ANDER MENS dieper temas soos afknouery, selfbeeld, respek, verhoudings, familiebande, geweld en misdaad aan die kaak stel, wys dat selfs die mees geharde persoonlikheid ook soms weerloos kan wees én dat ’n Niemand op die ou einde ook kan ontwikkel in ’n Iemand wat kan opstaan vir homself. Die rolprent beloof om gehore met tye te laat skaterlag as gevolg van spitsvondige dialoog en donker humor, asook te laat naels kou soos wat die gebeure ontvou en hulle besef dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om sy eie identiteit in die lewe te bepaal.

“Ons wou ’n fliek maak wat die gehoor intrek en deel maak van die spanningsvolle, en soms komiese, gebeure op die skerm. Dit kom egter saam met die belangrike boodskap dat die wêreld jou sal vernietig as jy nie bereid is om aan te pas nie; en dat jy nie moet wag totdat jou lewe uitmekaar uit val om ’n verandering te maak nie,”sê Krog. 

ANDER MENS is vervaardig deur Marche Media (Die SeemeeuKanarie) in samewerking met kykNET Films, M-Net Movies en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 23 Augustus 2019. 

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:https://www.facebook.com/AnderMens2019/
Twitter:@marche_media
Instagram:@Ander_Mens_Film

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela101@gmail.com

www.starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Vriendelik groete

STARBURST PROMOTIONS


Alani Coetsee – PUBLICIST

DANIEL NIEMAND is een van die lewe se slaansakke. Sy vrou los hom vir hulle huweliksberader, dan vind hy uit sy baas is die hoof van ‘n bende – en dít is die beste gedeelte van sy week…

SINOPSIS

Daniel Niemand is een van daardie mense wie van die een mislukking tot die volgende teleurstelling lewe, en dis op ‘n goeie dag. Hy weet dit nog nie, maar dit gaan alles binnekort verander…

Die moeilikheid begin wanneer sy vrou hom vir ‘n ander man los, wie toevallig hulle huweliksberader is. In ‘n wanhopige poging om sy eer te herwin, bring Daniel per ongeluk sy eks-huweliksberader se lewe tot ‘n einde. Gelukkig (of óngelukkig) vir hom, ontdek hy dat sy baas, Frank, en dié se broer Hansie, nie bloot die onskuldige eienaars van ‘n konstruksiemaatskappy is nie, maar ook die ongenaakbare leiers van ‘n plaaslike sindikaat.

Alhoewel hulle intensies effe verdag en onduidelik voorkom, bied Frank en Hansie aan om vir Daniel te help om van die lyk ontslae te raak – maar dit is nie lank voor die polisie aan Daniel se deur kom klop en hom arresteer nie. Inspekteur Acker soek al jare lank ‘n rede om vir Frank toe te sluit, en Daniel mag dalk net die perfekte geleentheid daarvoor wees, op die vooraand van sy aftrede. Daniel, wat soos altyd net die regte ding wil doen, gee vir Acker die inligting wat hy nodig het om Frank uiteindelik vas te trek.

Bewus van die teiken op Daniel se rug, kontak Acker die Getuienis-beskermingseenheid en Daniel word in die sorg van Erica Kruger geplaas, die beste in haar veld. Vir Daniel lyk dit asof sy lot uiteindelik ietwat meer rooskleurig voorkom – min weet hy dat Acker hom as lokaas gebruik om vir Frank vas te trek, wie nou kort op sy hakke is.

Welkom by die aakligste week in Daniel Niemand se lewe.

Genre: Aksie-komedie

Regie: Quentin Krog

Met: Bennie Fourie, Marlee van der Merwe, Frank Opperman, James Borthwick, Laudo Liebenberg, André Weideman, Jana Cilliers, Roeline Daneel.

Tydsduur: 94min

Hier is ‘n paar skermskote uit die rolprent.

Regisseur  |  QUENTIN KROG

Quentin Krog is gebore in Springs, het grootgeword in Benoni, en toe graad gevang in Stellenbosch. Op die ouderdom van 19 het Quentin tydens sy studies begin speel met ‘n rekenaar, sy pa se digitale videokamera en baie eenvoudige redigering-sagteware. 

Na afloop van sy studies word Quentin die mede-stigter van Firestorm Production, ‘n kleinskaalse produksiemaatskappy in Kaapstad. Tussen speelgeleenthede het Quentin sy vernuf geslyp in die skryf, vervaardiging, regie, en redigering van ‘n verskeidenheid film-formate.

Na ‘n geruime tyd by Firestorm, verlaat Quentin die Kaap met die oog op die film- en televisiebedryf in Johannesburg. Quentin het vinnig as assistent-regisseur naam gemaak en was deel van verskeie dramareekse en films, wat toe vir hom deure oopmaak om uiteindelik sy debuut te maak as regisseur op die kykNET dramareeks Sterlopers – Seisoen 1 (2013).

Sedertdien het Quentin die regie van vier vollengte films behartig asook vele episodes van dramareekse, ondermeer Ballade vir ’n Enkeling (2014), Die Boekklub – Seisoen 1(2015), High Rollers (2015/16), Vir die Voëls (2017), Thys & Trix (2018).Sy vierde vollengte film, Ander Mens, word in 2019 vrygestel.

MARCHE MEDIA

Marche Media is ‘n Kaapstad-gebaseerde film- en televisie-produksiemaatskappy, in 2017 gestig deur die samekoms van twee bedryfsreuse: Lion’s Head Productions en Human Capital Films. Hierdie twee maatskappye spog met oor die 30 jaar se ervaring in die bedryf, en van die land se beste talent wat deel vorm van die span.

Onlangse televisie-projekte sluit die kykNET en Showmax Dramareeks Waterfront, die uiters suksesvolle Boer soek ‘n Vrou, asook Claire Wiese-Wentzel se gedaanteverwisselingprogram Mooimaak, in. Marche Media is trots om met plaaslike vollengte films oorsee te spog, waarvan projekte soos Nobody’s died laughing (2015), Johnny is nie dood nie (2016), Kanarie (2018) en Die Seemeeu (2018) tans opspraak maak in Europa, Kanada, Noord-Amerika en selfs China.

Marche Media se volgende projek wat die lig sien is ‘n vollengte film, Ander Mens (2018/9), met Quentin Krog (Ballade vir ‘n Enkeling & Vir die Voëls) in die regisseursstoel.       

 Ander Mens het verskeie groot name in die plaaslike bedryf in die rolverdeling en word beskryf as ‘n donker komedie / aksiefilm. Die teks is gebaseer op die bekroonde roman       ‘n Ander Mens,deur Zirk van den Berg, wat die eerste kykNET / Rapport Boekprys vir verwerking van roman tot film gewen het.

“Ons is opgewonde om voortdurend die vermaaklikheidssektor in Suid-Afrika uit te brei. Ons soek voortdurend na kommersiële vennootskappe om hierdie groeiende bedryf te laat seëvier, en die voordele in die betrokkenheid van die bedryfs- en privaatsektore uit te wys en bekend te maak. Ons is trots Suid-Afrikaanse inhoudsvervaardigers, gefokus op die bou van verhoudinge met rolspelers in die internasionale mark om die verkope en verspreiding van ons werk in verskeie gebiede in die wêreld aan te moedig.”

Jaco Smit

Hoof Uitvoerende Beampte

Marche Media

KONTAKBESONDERHEDE

Adres: 129 Breestraat, Kaapstad, 8001

Posadress: 129 Breestraat, Kaapstad, 8001

Webtuiste: www.marche.media  |  www.andermensfilm.com

Epos: info@marche.media

Publisiteit & Bemarking: jacon@marche.media

Tel: +27 (0)71 955 4793  |. +27 (0) 21 205 0777

Facebook: www.facebook.com/AnderMensFilm/  @AnderMensFilm

Twitter: https://twitter.com/marche_media  /  @marche_media

Instagram: https://www.instagram.com/andermensfilm  /  @AnderMensFilm

Hutsmerke:  #AnderMensFilm  #marchemedia

Related posts

Leave a Comment