Hierdie is wat gebeur wanneer ‘n boer van die Noord-Kaap sy hart, rou en eerlik, oopmaak en lirieke en note neerpen terwyl die stof laag oor die werf seil en die hoop nie beskaam vir elke wolkie wat aankom in die verte nie. Sonder om stereotipies te word, kan jy wegskuil agter die waarheid dat die hart van ‘n boer afhanklik en oorgelewer is aan genade en hoop en wanneer ‘n boer sy hart oopmaak, dit eerlik en opreg is.
Na sy ‘eerste kans’ wat hy die musiekbedryf aangepak het met sy debuut album, LAASTE KANS en toe die sukses van sy tweede album, OPGE-RHAAP, is hy terug met ‘n splinternuwe album, WAT IS MENS?
Weereens sing hierdie plaasseun in jou hart in met sy sterk stem, eerlike lirieke, goeie verwerkings en oorspronklike liedjies. Dis verkeerd om mense te vergelyk, maar hierdie voel amper soos ‘n moderne weergawe van Koos Dup. Musiek wat nog lank in ons harte gaan boer.
Weereens ‘n album vol gelaai soos ‘n skaaplorrie met oorspronklike musiek. RAMSKILPAD is ‘n tong-in-die-kies liedjie wat die vrouens (kamtig) nie mag hoor nie wat oor ‘n mannesamekoms handel. BYT VAS en RUK DIE PLEISTER AF maak Jan sy hart oop en hy sing van moed hou, vasbyt; vir die lewe asook die liefde. PLATTELANDSE DROOM pas nie net perfek op die album nie, maar ook by hom as mens. As jy die Griekwaland se wêreld ken, sal jy weet dat dit reën is wat jou drome waar maak…
Vonk
Musiek
Vonk Musiek Kunstenaars
Vonk Musiek 83 Rietfontein Road
Jansenpark Boksburg, Gauteng 1461, ZA