DIE-anner-LEWE: ‘n Teater aand met spookstorie vertellings en sang!

Die spoke wag vir jou in Potch . . .

Verbeel jou, dit is ‘n donker aand daar buite. Jy en ‘n paar gaste sit langs ‘n etenstafel in ‘n spookagtige historiese gebou wat terug dateer na die 1930’s. Aandete is bedien en jou wynglas is vol, maar onderlangs hou jy die vreemde skaduwee’s dop wat die kerslig teen die afgeskilferde mure teken.

“Hoe lyk dit, gaan iemand vir ons ‘n spookstorie vertel?” vra een van die gaste uit die bloute.

Almal kyk verbaas na hom. Spookstories? Vanaand? In hierdie plek?

Dan staan daar ‘n lang, skraal man aan die punt van die tafel op. “Ek sal,” sê hy. “My naam is Jaco Hough-Coetzee en ek het ‘n paar stories in my storieboek wat ek vanaand saamgebring het.”

Hy dra ‘n geplooide wit hemp wat herinner aan die Victoriaanse tydperk. Sy langerige swart-grys hare hang effens slierterig oor sy ore en af in sy nek.

Nee! dink jy. Maar dan begin hy te vertel.  

Is hierdie net jou verbeelding, of is dit ‘n realiteit, wonder jy . . .

Wel, jou verbeelding kan in die werklikheid omskep word indien jy die verhoogproduksie DIE-anner-LEWE op 24 Augustus by die Snowflake Venue in Potchefstroom bywoon. ‘n Aand gelaai met storievertellings en sang.

Dit word aan jou gebring deur SPOOKSTORIE-produksies wat die baie suksesvolle Pretoria Spookbus-uitstappie reeds vir die afgelope 15 jaar onafgebroke maandeliks in die Jakarandastad aanbied. En net soos in Pretoria, is jou storieverteller in Potchefstroom natuurlik ook Jaco Hough-Coetzee. Hy is ook die skrywer van die roman Van Skoolbank Tot Bordeelbed wat vier jaar gelede ‘n topverkoper was en steeds in boekwinkels beskikbaar is.

Jaco sê hy onthou ‘n tyd – lank, lank gelede – toe mense nog nie aan TV- of selfoonskerms verslaaf was nie. “Toe families en vriende saans in die kuierkamer, op die stoep of langs die kampvuur bymekaar gekom en die heerlikste spookstories, aangrypende staaltjies en bo-natuurlike legendes uit die verlede met mekaar gedeel het. Tussendeur die stories is daar ook langspeel-plate op die draaitafel gesit en na nostalgiese musiek geluister. Dit is presies wat die verhoogproduksie DIE-anner-LEWE nou aan mense bring. ‘n Aand van spookstorievertellings wat afgewissel word met die musiek van die sangpaar DIE VENSTER met tydlose treffers en goue oues deur die jare.”

Die tenoor Charl Erasmus, lid van DIE VENSTER, vertel toe hulle die produksie se musiek-repertoire saamgestel het, het hulle spesifiek welbekende liedjies gekies wat almal ondertone van die spookverhaal-genre het. “Dit sluit in klassieke musiektreffers soos onder andere No more talk of darkness en Music of the night van Andrew Loyd Webber, asook Afrikaanse gewildes soos Koos du Plessis se Sprokie van ‘n Stadskind en Kinders van die Wind. Dit is alles liedjies wat die vertellings aanvul.”

Jaco verduidelik die stories wat op die gehoor wag is nie fiksie of uit die duim gesuig nie.

“Enige skrywer kan grusame spookverhale fabriseer. Die stories wat ons egter na die Snowflake-verhoog bring is ware verhale wat deur gewone mense, soos ek en jy, waargeneem is. Baie van hierdie stories is in boeke, koerante en tydskrifte gepubliseer. Ander is weer persoonlik aan my vertel. Dit is alles stories van hiérdie ander lewe.”

Jaco beskryf die aanbieding as ‘n unieke verhoog-ervaring deurweef met die interessante geskiedenis van Potchefstroom.
“Dit is ‘n aand uit wanneer ons terug stap in tyd; terug op die voetspore van hulle wat lank voor ons hier gewoon, gewerk en geleef het – maar waarvan sommiges vergeet het om te vertrek.”

Albert Bothma, eienaar van die Snowflake Venue, sê toe hy van die produksie DIE-anner-LEWE hoor het hy dadelik besef dit is iets uniek wat eenvoudig in Potchefstroom opgevoer sal moet word. “Die vertoning pas perfek in by die geskiedkundige atmosfeer van die Snowflake Venue. Die gebou is immers een van die oudste historiese plekke in Potchefstroom en die dorp is verder ook een van die eerste vestings wat in die destydse Transvaal in die laat 1800’s gestig is.” 

Die hoofborg van die vertoning is NB Car Sales in Potchefstroom. Hul senior verkoopsman, Willem Pretorius, vertel die dorp is kultuur en teatergedrewe. “Ek kom dit daagliks agter in gesprekke met kliënte wat in een van die talle motors op ons vloere belangstel. Dan maak dit ook mos net sin om terug te ploeg in die gemeenskap wat ons deur die jare ondersteun, deur ‘n verhoogvertoning soos hierdie te borg.”         

Jaco nooi mense uit: “Kom beleef dié spookstorie-vertellings-ondervinding . . . anders sal jy dit nooit verstaan nie.”

Maar hy waarsku: “Nadat jy aangesit het by die tafel, die saalligte afgeskakel is en die ligte op die verhoog aangaan, is daar geen omdraaikans meer nie. Indien jy dan reeds huiwerig raak en verkies om eerder huis toe te gaan, het ek ongelukkig slegte nuus. Want dan is die deure agter jou reeds dig gesluit. Dan kan jy nêrens heen gaan nie. Soos in nêrens nie.”  

KONTAK:

Samantha Cronjé (Spookstorie-produksies): spookbus@gmail.com

Jaco Hough-Coetzee (storieverteller): 082 404 7229

Albert Bothma (Snowflake): 082 850 1202

STARBURST PROMOTIONS


Alani Coetsee – PUBLICIST

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →