

Elke vrou het ’n vriendin nodig. Iemand saam met wie jy kan lag, huil of net jou lewe kan deel. Dít is wie die drie VRINNE vir elke vrou wil wees.
1 Augustus word die eerste VRINNE video vrygestel op hul YouTube-kanaal (vrinne.co.za). Dit is ’n humoristiese blik op die tipes vriendinne wat ons in ons vriendekringe het. Die VRINNE se hoop is dat vroue hierdeur opnuut die uniekheid en diversiteit van vriendskap saam sal vier.
Met die viering van Vrouemaand
in Augustus stel mediapersoonlikhede in die inspirasiemark en boesemvriendinne,
Karien Basson, Benescke Janse van Rensburg en Rouchelle Liedemann VRINNE
bekend. Dit is ‘n platform op sosiale media waar vriendskappe,
entrepreneurs en vroue gevier word.
VRINNE is nie net ’n produk nie, maar ’n beweging waarby vroue op
sosiale media (YouTube, Facebook en Instagram) kan aanhaak. Hulle beplan ook om
op ’n gereëlde basis geleenthede aan te bied waartydens vriendinne kan
saamkuier.
“Ons glo vroue het soms net ’n uitlaatklep nodig. ’n Plek vir asemhaal
en ontspan. Dit is wat VRINNE vir vroue wil bied,” vertel die sprankelende
Karien wat ’n paar van die grootste vroueoggende in die Kaapse Skiereiland op
haar kerfstok het.
Radio-persoonlikheid by Radio Tygerberg 104FM, Benescke stem met Karien en sê
dat ons land ryk is aan kreatiewe vroulike entrepreneurs. “Die uitdaging vir
heelwat entrepreneurs van klein tot mediumgrootte besighede is dat hulle nie
tyd of geld het om hul produk te bemark nie. VRINNE wil daardie gaping vul. Ons
wil entrepreneurs vier.” Om dít te doen beplan die VRINNE om elke Donderdag
’n resensie-episode op hul YouTube kanaal te laai waartydens hulle gesels oor
van die produkte of dienste wat hulle gaan uitprobeer het. “Ons wil dit
interaktief hou,” sê Benescke. “Vroue moet voel dat hulle seggenskap het
en dat ons namens hulle produkte of dienste kan uitprobeer om eerlike terugvoer
te gee.” VRINNE behoort dus onder meer ’n lekker netwerkgeleentheid te wees
waar besigheidsidees uitgeruil kan word.
“Buiten vir die besigheidswenke, wil VRINNE vroue vermaak,” voeg
Rouchelle by. “Ek hou van lag en dit is wat ons saam met die vroue wil doen.
Ons wil saam lag vir ons eie tekortkominge, maar ook gesels oor dinge wat die
hart raak – kinders, ons huwelike, seks, ons gesondheid. En ons drie saam is
baie eerlik oor ons eie tekortkominge wat altyd snaaks is.”
“Die drie VRINNE verteenwoordig die hele spektrum,” vertel Benescke. “Ek
het twee klein kindertjies, Rouchelle het tieners in die huis en Karien het
geen kinders nie – net 3 katte!” Sy lag. “En tussen ons drie het ons al
‘n hele paar uitdagings kafgedraf so ons het baie materiaal om oor te gesels.”
Wie is die drie VRINNE?
Elkeen van die drie VRINNE het ’n unieke groep volgelinge op sosiale media in die Afrikaanse media-industrie.
· Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper by Radio Tygerberg 104FM in Kaapstad, topverkoper-outeur in die inspirasiemark, spreker, en televisie-aanbieder by RoepTV.com;
· Rouchelle Liedemann is ’n sangeres, rubriekskrywer vir Finesse en Kaapse korrespondent vir Die Groot Ontbyt-program op KykNet en aanbieder van Liedemann raak lieries op RoepTV.com;
· Karien Basson is redaktrise van Vroue wat Glo, lewensafrigter, topverkoper-outeur in die inspirasiemark, spreker en televisie-aanbieder by RoepTV.com.
Media navrae : Benescke [0732288114] | Karien [0823788657] | Rouchelle [0762459207]
Volg Vrinne op die sosiale media skakels:
Facebook : https://www.facebook.com/vrinne.co.za/
Instagram : https://www.instagram.com/vrinne.co.za/
Webblad : www.vrinne.co.za
E-pos : vrinnevrinne@gmail.com
Webblad : www.vrinne.co.za
VRINNE is hier! Klik en kyk die VRINNE VIDEO hier: https://www.facebook.com/vrinne.co.za/videos/644151779423576/|https://www.youtube.com/channel/UCSA95gAThs2EBGzpIjGR9mw