Dis Saterdag!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Saterdae in die 70tigs was langer en lekkerder as nou se Saterdae. Somer of winter, my ma het altyd ‘n plan gehad en ons het die wêreld rooi geverf in haar groen 1967 Ford Anglia.

Wanneer dit somer was in die Kaap gedurende die vroeë 70tiger jare het my ma meeste Saterdae oggende ‘n groot koelsak gepak met toebroodjies, ‘n paar bottels coke en koue water in daardie reghoekige plastiese waterbottels. Swembroeke en handdoeke en ons drie kinders het in haar groen 1967 Ford Anglia gebondel om van Bellville af met die N1 Seepunt se swembad toe te ry.

Jare later het ons uitgevind dat my ma en pa mekaar in 1950 juis daar ontmoet het, sy ‘n skrale 20 jaartjies oud, vars van Van Wyksvlei in die Noord-Kaap en hy ‘n 26-jarige jong man gebore en getoë in die Kaap.

By die swembad aangekom het dit nie saak gemaak of die wind gewaai het nie, want daar is baie hoekies om in te skuil en mens kry altyd ‘n warm kolletjie water in een van die vier swembaddens. Die reuk van die see het oor die swembad gehang en ek kon (vir wat gevoel het soos ure) by die draad staan en verlore raak in die wonder wie dit nou eintlik was wat op Robben eiland in die tronk is.

Ma het soos ‘n regte plaaskind die die beste van die stadslewe aangegryp en die son en die see ingedrink. Sy het vir ure lê en tan, terwyl ons van die kleinste swembadjie tot by die groot duikswembad gespeel, gespring en geskree het… en wanneer mens honger geword het, het jy die koelsak uit die skaduwee aan die een band getrek en oop gezip vir die lekkerste witbrood met kaas en appelkoosjam.

Soms het ons by die wye trappe afgehardloop en bietjie by die see gaan speel (mens moes jou kaartjie onthou om weer in te kon gaan), maar die gebreekte skulpies wat mens se voete seergemaak het op die sand en die koue seewater en skerp rotse was nie so verwelkomend soos die skoon grasperke, die warm swembadwater en natuurlik die roomys verkoper wat net ‘n paar meter van ons swemplek geduldig gewag het vir sy kliente om hul ouers te oortuig dat Seepunt nie Seepunt is sonder ‘n roomys nie.

Aan seer brand het ons ons min gestuur, want badtyd het ma Engelse sout en wit asyn in die badwater gegooi om die seer uit te trek, terwyl sy haar eie tan opgepiep het met olietjies en spesiale roompies.

Wanneer die somer verby was en ons drie kinders al vele maal afgedop het, was Ma gereed met Plan B vir die winter: fliek. In die vroeë 70tigs was daar nog nie flieks in Bellville nie en het ons in die groen Anglia Claremont toe gery of soms het ons by die Monte Carlo in Roggebaai op die Foreshore gaan fliek. Die opwinding toe die een groot fliek in twee kleiner sale geskei was, kan ek steeds onthou, selfs Pa het die keer saamgegaan om die nuwe ding te beleef (dit was‘n Paul Newman fliek wat hom finaal oorgehaal het).

Ons het byna elke musiekprent gesien en Ma het dan die volgende week die fliek se langspeler gekoop ‒ ek ken nou nog elke woord uit Man of La Mancha, Camelot, Hello Dolly, Fiddler on the Roof en vele ander musiekprente soos Mary Poppins en The Sound of Music wat steeds nie hul fleur verloor het nie. As daar ‘n opvolg fliek was, was ons daar!

Na Hello Dolly was ek die grootste Barbara Steisand aanhanger ooit en mis ons tot vandag toe nie ons nie een van haar flieks nie! Nadat ons Funny Girl gaan kyk het ek op ‘n reënerige Saterdagmiddag in Claremont, het ek vir die bestuurder by die fliek gevra of ek die lewensgrootte kaartbord Barbara Streisand kon huis toe neem. My mede passasiers agter in die Anglia was nie so beindruk met my nie, maar Barbara het vir die res van die jaar by my bed gewaak en ons twee het baie geheime gedeel! Soms het ons saamgesing, maar sy het my vining agtergelaat as dit by die hoë note gekom het.

Soos ons ouer geword het daar meer flieks in Bellville opgeskiet en kon ons ook met die trein stad toe ry om ons eie ding te gaan doen, wat natuurlik ‘n fliek en ‘n besoek aan die Wimpie en die hippiemark ingesluit het.

Laat in die 70tigs het Bellville het ook sy eie openbare swembad gekry en het Pa die Saterdag swem pligte oorgeneem  ̶ dit het beteken vieruur Saterdagmiddag nadat hy rolbal gespeel het, het ons by Bellville gaan swem. In tan het hy glad nie belanggestel nie, maar hy was soos ‘n vis in die water en het lekker saam gewem.

My beste Saterdag ooit was die een van die groen Anglia. My broer het vir die naweek van die koshuis afgekom en soos gewoonlik het hy elke verlore siel van oor die land en Suidwes-Afrika saam huis toe gebring, want Ma het eenvoudig net ‘n groot kermisbed in die sitkamer vir hulle gemaak.

Die Saterdagoggend sit die swerm seuns en koffie drink op die stoep. Oppad kombuis toe hoor ek hoe my broer sy vriende toespreek, “My ma se kar is eintlik myne, sy gebruik dit net in die week, maar naweke kan ek ry net waar ek wil”. (Moenie onder die indruk verkeer dat die knaap ‘n lisensie gehad het nie!) Terwyl hy nog so spog, “vanaand gaan ons lekker stad toe ry” sien ek hoe kom die groen Anglia hik-hik en hop-hop reg voor die stoep verby. Suster aan die wiel.

Sy ry hik-hik, hop-hop, tot op die hoek van die straat en daar maak sy ewe spoggerig ‘n u-draai. Hop-hop kom sy weer by die stoep verby, voordat sy vol selfvertroue die flicker aansit en in die garagepad intrek.

In die afgelope vyftig jaar het ek nog nie weer daardie uitdrukking op my broer se gesig gesien nie. Toe sy stilhou en ewe nonchalant uitklim, storm hy op haar af en sis-vra,”Hoekom het jy nie die ratte verander nie?”

Sy het hom verbaas aangekyk en aangestap stoep toe, “Want ek weet nie hoe nie”. En daarmee was die saak afgehandel.

(Fotos is slegs ter illustrasie deur redakteur)

Related posts

Leave a Comment