Namibiese ster stel eerste Afrikaanse enkelsnit vry!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

                                                                                    Foto Krediet: Reinor Von Hatten (Nautilus Studios)

Joharetha beskryf haar eerste solo-enkelsnit, 40 DAE, as ’n eerlike moderne country-popverwerking, met ’n geestelike boodskap en dit pas perfek by haar unieke stem, wat spesiaal vir hierdie genre gemaak is. Dit is die eerste vrystelling vanaf haar opkomende album, waarmee sy oor ’n paar maande nog meer musiekharte gaan verower as wat sy reeds het in die tien jaar wat sy al op die verhoog is. 

40 DAE gaan daaroor om nie tou op te gooi wanneer dinge binne ’n verhouding gekompliseerd raak nie en vir liefde te veg. Hierdie inspirerende treffer kom uit haar eie pen en die sangeres meen dat mense van alle ouderdomme hierby sal aanklank vind. “40 DAE is simbolies oor wat in die Bybel staan van die tydperk wat nodig is om regtig ’n verandering in jou lewe te maak,” verduidelik sy. “Dit beteken vir my baie, want ek glo elke woord wat ek sing. Ons is vanjaar ses jaar getroud en het al meer as sewe sakke sout saam opgeëet. Maar ons is lief vir mekaar en as dinge moeilik raak, sal ek ook die raad in my liedjie volg. Ek voel dat God die woorde vir hierdie enkelsnit vir my gegee het.”

Die musiekvideo is reeds aanlyn uitgereik en vul die bestaande storielyn in die lirieke aan met die emosie wat die kunstenaar weergee wanneer sy dit self sing. Gernot Fritze, Rainer Von Hatten en Zanele Mzinyati van Nautilus Studios was verantwoordelik vir die opname en vervaardiging van die snit en video. “Nadia van den Heever het ons gehelp beplan en om die perfekte plek te kry. Die video is by Villa Maji in Swakopmund verfilm. Dis prentjiemooi daar en ek wou die emosie van die liedjie vasvang teen hierdie skoon oop agtergrond,” verklapdie musikant.

Kyk die video hier:  https://www.youtube.com/watch?v=rUneeDsmfY8

Joharetha Nel, wat in Pretoria gebore is, woon tans in Namibië saam met haar man en vierjarige seuntjie. Haar liefde vir sing is op ’n jong ouderdom gebore en sy vermaak gehore reeds vanaf haar kleuterskooldae. Sy is ’n groot dromer en sonder haar debuut-album uit as een van die grootste hoogtepunte van haar loopbaan sover. Die brunet is al vir tien jaar amptelik doenig in die musiekbedryf, maar is nog haar hele lewe lank besig om aan haar musiekvernuf te timmer en spog daarom met ’n Graad 5-musiek- en Graad 3-musiekkwalifikasie van Unisa. 

Oor die jare, het sy verskeie suksesse behaal waaronder die vroulike hoofrol in die teaterstuk – The Carnival Variety Show – by die Cadillac Theatre & Nightclub in Pretoria, ’n eersteplek in die Musiek & Liriek-radiostasiekompetisie en ’n derde plek in die The Voice of Namibia-sangkompetisie. In 2016 is sy ook aangewys as Mevrou Namibië en kon sy so ook waardevolle kontakte in die vermaakbedryf opbou en ’n verskil maak in haar gemeenskap.

Omdat sy en haar man en mede-musikant, Len Nel, agt jaar terug hulle eie suksesvolle musiekfees – die Walvisbaai Oester Fees – begin het, het hulle al die voorreg gehad om die verhoog met verskeie groot kunstenaars te deel, soos Steve Hofmeyr, Jakkie Louw, Die Broers, Pieter Smith, Ray Dylan, Dozi, Charlize Berg, Jo Black en vele meer. Hulle is ook bevoorreg genoeg om elke naweek besig te wees met optredes, funksies en feeste, soos die Outjo Wildsfees, regoor Namibië en voel geseënd dat aanhangers hulle so getrou ondersteun.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, bestuur sy ook haar eie besigheid, Joharetha Nel Makeup and Photography, en geniet sy dit om die mooi kant van die lewe uit te beeld. As sy nie kon musiek maak vir ’n lewe nie, sou sy graag ’n aktrise wou word omdat sy haarself vreeslik inleef in ander mense se stories en baie empatie het met haar medemens. “Mense, flieks en persoonlike omstandighede insprireer my wanneer ek skryf en my gedagtes slaap nooit nie,” deel sy.

Die sangeres het groot bewondering vir plaaslike sangers soos Riana Nel, Corlea Botha, Liezel Pieters en Jo Black en meen dat internasionale sterre soos Chris Stapleton, Carrie Underwood, Celine Dion, Miranda Lambert, Blake Shelton, Little Big Town, Kelsea Ballerini en Keith Urban almal ’n invloed gehad het op haar eie musiekstyl.

Joharetha glo dat jy hard moet werk vir wat jy wil hê in die lewe en dat jy nooit moet opgee op jou droom nie. Sy het nog baie planne vir die toekoms en hoop dat luisteraars hulleself sal vind in die stories van haar musiek. 40 DAE is maar net die begin van ’n lang, kleurvolle loopbaan wat op hierdie talentvolle kunstenaar wag.

Kry 40 DAE hier:

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/joharethashows/

Twitter: @joharetha

Instagram: @Joharetha

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCW-NZXyp3_krhogoHrChQMQ  

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

STARBURST PROMOTIONS


Alani Coetsee – PUBLICIST

Related posts

Leave a Comment