“Ek glo in my hart dat almal foute maak en al ’n tweede of selfs ’n derde kans wou hê, of vir iemand nog ’n kans moes gee, al het jy nie noodwendig op daardie stadium gedink dat jy (of die ander party) dit verdien nie. Die feit dat daardie kans wel gegee word, is wat die verhouding gered het,” sê Louis Geldenhuys oor die betekenis agter die tweede enkelsnitvrystelling vanaf sy debuut-album wat pas uitgereik is.
ENGEL is ’n popliedjie uit die pen van Warren Gray Elliott en gaan oor ’n keerpunt in ’n stormagtige verhouding, waar liefde en vergifnis oorwin. “Hierdie lied is een van my persoonlike gunstelinge en doen ook goed tydens vertonings,” vertel die sanger. “Ek dink gehore vind daarby aanklank omdat dit oor liefde, hartseer en vergifnis gaan en dit emosies is wat almal ervaar. Woorde kan diep sny, maar dis jou keuse hoe jy daarop reageer. Soms moet jy iemand die voordeel van die twyfel gee, al voel jy dat hy of sy dit nie verdien nie.”
Die musiekvideo, wat deur Fathom Media in Randburg verfilm is, is nie net besonders omdat dit in wit en swart geskiet is nie, maar ook omdat dit puik toneelspel insluit deur Handré Kritzinger en Getroud met Rugby-aktrise en VIA TV se realiteitsprogram, Ster-Status-deelnemer wat tweede (Silwer-toekenning) geëindig in die finaal, enine Grobler. “Dit gaan oor ’n getroude paartjie wat deur ’n moeilike tyd gaan en baie baklei. Een aand, na nog ’n argument, besluit hy om te loop en die vrou se hart is gebreek. Sy kan aan niemand anders dink as aan hom nie. Terwyl hy wegstap, voel dit vir hom asof hy besig is om sy kop te verloor. Elke woord van die aand brand soos ’n vuur deur hom. Wanneer hy egter stop en terugkyk, besef hy dat hy eerder hulle verhouding wil red omdat hy lief is vir haar en homself nie ’n lewe sonder sy vrou kan indink nie,” verduidelik die ster.
Kyk die video hier: https://youtu.be/Agfipyo0OL4
ENGEL volg in die suksesvolle voetspore van Louis se eerste Country-treffer en die titelsnit van sy eerste album, Harte in die Lug, wat deur Dennis East geskryf is. Hierdie opgewekte, meesleurende lekkerluister-nommertjie is baie hartlik deur die publiek ontvang by die KKNK en Die Boer in die Kaap en is reeds ’n groot gunsteling op die dansvloer.
Net soos die titelsnit, is die album slim saamgestel om die mooiste lirieke en wysies te kombineer om ’n hoendervleismooi eindresultaat te verseker. Dit bestaan uit elf oorspronklike snitte, wat wissel tussen opgewekte dansmusiek en dieper liefdes- en gospelliedjies.
Volgens hom, is ENGEL ookbo-aan sy kinders se lys van gunsteling-snitte op die album, terwyl vriende en familie Vlamme die meeste geniet. “Ek wil graag hê dat mense my moet leer ken vir wie ek is, deur middel van my musiek – ’n pa wat graag sy droom wil uitleef, sodat sy kinders kan trots wees op hom,” sê hy.
Hierdie talentvolle sangsensasie, met sy gesofistikeerde stem, kom van Welkom af en is al versot op musiek vandat hy kan onthou. Buiten vir koorsing, het Louis geen formele sangopleiding gehad nie, maar hy was vasberade om sy passie om mense te vermaak ’n realteit te maak. Na skool het hy gereeld by funksies en kroeë opgetree en is toe vir twee jaar Europa toe. Daarna het hy Drama gaan studeer by Nortlink College onder leiding van Nicole Holm en Albert Maritz.
Alhoewel sy pa se skielike afsterwe hom genoodsaak het om die familiebesigheid in Welkom oor te neem, het hy oor die jare nooit ophou droom van ’n sangloopbaan nie. Met die liefdevolle ondersteuning van sy vrou en kinders, het hy so ’n paar jaar terug weer begin optredes doen.
Sedertdien het hy al by verskeie feeste, soos die KKNK en die kykNET Buite Ekspo opgetree, en in 2018 ’n konsert gereël vir groot name in Mosselbaai, soos Nádine, Manie Jackson, Rudi Claase, Pieter Koen, Monique Steyn waartydens hy ook die geleentheid gehad het om saam met hulle te sing.
Louis het groot waardering vir musiek met betekenis en meen dat dit geïnspireer is deur die sangers waarmee hy grootgeword het soos Bles Bridges, BZN, Jim Reeves en Albert Hummond.
ENGEL is ’n besonderse verwerking, wat ’n treffende wysie met sielvolle lirieke kombineer. Dit pas die sanger se stem soos ’n handskoen en is net nog ’n bewys dat Louis Geldenhuys bestem is om sy musiektalent met luisteraars te deel en dat hy dit nog vir baie lank gaan doen.
Hierdie enkelsnit verskyn ook op Louis se debuut-album HARTE IN DIE LUG en is beskikbaar op alle digitale platforms hier: https://music.apple.com/za/album/harte-in-die-lug/1469362230
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/Louis-Geldenhuys-201436030619778/
Twitter: @L_Geldenhuys
Instagram: @louisrealll
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST