

Pas aangeland in die Goudstad, slenter ek verby die Goue akker en besluit om links te draai by die hoek en die suidelike deel van diè wêreld beroemde stad te verken. Eers het ek na die een kant toe gekyk en toe na die anderkant en toe vinnig die besige Goudstraat oorgesteek.
Die eerste mens wat ek aan die anderkant raakloop is die liewe Mollie, sy staan en vergaap haar aan die prag en praal, Ek het my hand om haar skouer gesit en toe sy omdraai was die wedersiens vol vreugde. Dit was ‘n ongelooflike oomblik om mekaar weer te sien, haar oë was nog net so blink en haar glimlag wyer en warmer.
Ons herontmoeting was amper soos in die ou dae op aarde, net een kyk en ons het mekaar heeltemal verstaan. Soos altyd het ons hande vas gehou terwyl ons gepraat het, en toe ek haar wys dat daar ‘n ‘Golden Egg’ wat op die volgende hoek is, het ons binne sekondes by die beste tafel beland. Ons het lekker gelag oor die Golden Egg Restaurant, dit was most die uithangplek vir ons in die 70tigs, en nou sit ons hier by die heel oorspronklike Golden Egg en geniet elkeen ‘n heerlike koppie Heavenly.
“Kan mens dit nou oorvertel?” lag Mollie terwyl sy rondkyk, “ek sê jou, as mens daaronder lewe het mens geen idee van die prag en praal nie, mens kan dit sowaar nie eers uitdink nie.”
“Maar, jy’s so vining daar weg Mol, wat het gebeur?” vra ek toe ek heel onnodig en uit pure gewoonte nog suiker by my reeds volmaakte Heavely gooi.
“Ek het nog gesê ek kom die Woensdag na jou toe. Ek het my tande geslyp vir tee drink, onder die rooi kombers by die heater sit en brei, en gesels soos net jy kon gesels. Die volgende ding hoor ons jy’t die tydelike met die ewige verwissel en almal was verslae. In die dae voor jou troosdiens kon ek al hoe meer deur die seuns se praat uitmaak dat jy die hele ding goed beplan het, en glo my, niemand verdien ‘n vroeë uittrede soos jy nie. Wat ‘n wonderlike besluit om te neem – op 64, aftreede in die Goudstad, hier waar daar net vrede en liefde is. Hier waar mens die kans kry om die hemelse vreugde te smaak en terselfdertyd by elkeen van jou seuns en by Kristin te wees, en om die voorreg te hê om hulle van hieraf te ondersteun op die pad wat hulle nog op aarde loop.
“Haai ek praat nou so baie, en dit terwyl ek jou met vrae peper! Maar ek wil jou eers vertel van die troosdiens wat die seuns vir jou gereël het, daar was meer as honderd mense en nie ‘n droeë oog nie. Jou seuns het so netjies gelyk in hul swart pakke, jou jongste het selfs sy baard afgeskeer! Praat van respek.
Die blomme was asemrowend en hulle het sulke pragtige fotos van jou gewys. Selfs waar jy kleintyd in die bad sit saam met jou ma! Ek en die dominee het darem oor een ding saamgestem, en dit was dat sy teenwoordigheid heeltemal onnodig was, die seuns het baie beter as hy gepraat, hulle was simpatiek teenoor almal, hulle het besef dat die mense wat daar was ook iemand spesiaal verloor het. Hulle het die mense laat lag en huil – meestal huil.
Daar was nou nie eers een vals noot by jou begrafnis nie, dit was net soos jy dit wou hê – vol opregtigheid en vrede. Vol dankbaaarheid dat ons jou lewe vir ‘n oomblik kon deel.
“Jou oudste het so lekker met almal van die preekstoel af gesels, hy het gelyk of hy daar hoort, sy woorde was waar en hy het sy hart met opregtheid bloot gelê. Die brief van jou visserman was hartroerend en die ode wat jou jongste geskryf het almal aangegryp …”
“Jy vertel dit so mooi en dit is so lekker om daarna te luister,” sê Mollie met ‘n laggie, “maar ek was daar. Ek het gesien hoe hulle hul harte oopmaak. Hulle het goed gedoen, ek weet wie elkeen van my seuns is. Ek is trots op hulle. Ek sien uit daarna om hulle hier te hê – ons sal weer saam wees.
“Ai Mol, ek moes dit geweet het! Ek het nogal gedink jy’s daar. As mens, soos jy, jou lewe deurgaan sonder om ‘n ander leed aan te doen, dan is daar geen rede om nie by jou eie begrafnis te wees nie. Dit was net die seuns se pa, hy het nie verniet so sit en snik nie, spyt is darem maar die seerste seer, en soos die ge-eikte spreekwoord sê, dit kom altyd te laat.”
Verder mis ons almal jou teenwoordigheid en die voortdurende ondersteuning wat jy aan almal gegee het. My ma skud net haar kop en fluister, Mollie. Sy het net geknik en die laaste slukkie van haar Heavenly gevat, dit het vir my lyk asof sy op ‘n wolkie van geluk en vrede sweef. Soos die lig op haar hare geval het, het ek gesien daar is pêrels in gevleg.
“Jy was darem maar ‘n vriendin duisend op aarde,” babbel ek voort van pure opgewondenheid om net weer by haar te wees.
“’n Mens kon jou hart uitpak en al wat jy ooit weerspieël het was vergifnis en liefde. Jy’t mos altyd vertel hoe jou ma jou geleer het om met ‘n sagte oog na andere te kyk – en jy het geen mens uitgesonder nie.
“Wag, soos altyd praat ons nou klomp stories gelyk. Ek bestel gou vir ons goudbruin malvatert met spierwit meringue wolkies op, dan vertel jy my van alles wat gebeur het, met diè dat jy so vining vertrek het.”
Mollie breek ‘n stukkie van die meringue af, “Ai, maar die goed is darem lekker! Mense verstaan nie!”
Dan, op ‘n ernstiger noot, “Vir my het dit nie so skielik gebeur nie. Ek was ‘n hele rukkie al daarvan bewus dat ek opgeroep is na hoër diens, want ek het alles wat ek op die aarde moes doen voltooi. Ek was baie gelukkig op aarde, maar op ‘n manier het ek gevoel my seuns en my kleindogter het my nodig, ek het daaraan dink om saam met hulle op Struisbaai af te tree, maar die lekker van die aarde is net ‘n skadu van die geluk en vrede wat mens hier smaak. Hier is mens volmaak en geniet mens ‘n volmaakte bestaan. Hier hoef mens nie na iemand te verlang nie, jy kan net aan iemand dink en word hulle dadelik met liefde en veiligheid omvou, maak nie saak waar op aarde hulle is nie.
“Ja,” stem ek, “mens sal nooit geroep word voordat jy nie jou lewenstaak voltooi het nie, ek is so dankbaar dat ons nou saam hier kan wees. Dis amper asof ons die aarde-skool deurgekom het!”
“Praat jy wat tande het!” lag Mollie, “en nogal met lof geslaag ook, hoor. Mens bekommer jou verniet oor diegene wat mens agterlaat, alles is daar wat elke mens nodig het – hulle moet net uitreik en dit neem – my kinders weet dit. Ek het dit ook van kleintyd af vir Kristin geleer.
“Van hier af kan mens so volkome by elkeen van hulle wees en hul ondersteun. Dit is vir my so wonderlik dat ek nou vir altyd by elkeen van my seuns en by Kristin terselftertyd kan wees. Mens kan nie beskryf watter ongelooflike wondere mens hier ontdek nie!
“Weet jy, die tyd-ding laat my so lag!” val ek haar in die rede, “hoe absurd was tyd nie en nou is ons vry om nie meer in tyd te lewe nie. Dis ‘n heel ander konsep as mens dink hoe tydgebonde mense op aarde is. Ek wens ek het toe al besef dat tyd mens se beste vriend, maar ook jou grootste vyand, kan wees.
“My 64 jaar daar was net ‘n oogwink, maar tog was dit genoeg vir my om my lewenstaak te voltooi, dit was genoeg tyd om my kinders te bewapen met geduld, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
“Ek het kans gehad om hulle te leer om nie verwaand te wees nie, nie ander uit te tart nie, of op mekaar afgunstig wees nie. Daar was genoeg tyd om hulle te laat besef dat vergifnis die gom is wat hulle bymekaar sal hou, dat hulle elkeen hul eie individuele pad het om te loop, maar dat hulle ‘n pad saam loop en dat hulle mekaar nodig het.
“Dit is werklik so dat mens op aarde net ten dele ken, en hier ken ons te volle. Hier lewe ons in die lig, hier waar daar geen trane of hartseer is nie.”
“Ek’s nog steeds nuuskierig oor hoe alles in jou laaste dae inmekaar gepas het. Nadat jy weg is, het ek al hoe meer besef dat jy geweet het dit is tyd om te gaan, en dat jy op jou eie manier elk van jou seuns daarop voorberei het,” karring ek verder.
“Ek het al in die hospital van my ma en pa en van Christoffel gedroom,” antwoord Mollie.
“ Die Maandagaand het Christoffel in my kamerdeur gestaan. Hy het so mooi gelyk en breed geglimlag, soos in die dae voor hy siek geword het. Ek was so bly om hom te sien, en toe hy wink en sê hy wil ‘n draai by sy diere gaan maak, was dit net woeps … en toe is ek saam met hom plaas toe.
“Toe ek die Dinsdagoggend wakker word, het ek gedink dit was net ‘n droom. Toe ek opstaan en badkamer toe gaan het ek ‘n vreeslike steekpyn in my bors gekry, dit het gevoel asof iets deur my longe skiet. Ek het probeer om so bietjie meer regop te sit en toe sien ek my pa en my ma staan by Christoffel tussen die diere en hulle wink my nader.
“Ek het so bietjie getalm en gesien met hoeveel sorg my jongste seun my terug in my bed sit en daar by my waak: ek het gesien hoe sy hart in duisend stukkies oor sy wange rol, maar ek het ook geweet dat hy sy eie lewenspad sal voltooi en dat hy diep binne weet dat hierdie afskeid net tydelik is. Vir ‘n oomblik het ek ver in sy toekoms gesien en ek was tevrede dat hy, gedurende sy tyd op aarde, al hoe sterker en sterker sal word en dat hy ook sy lewenstaak met lof sal volbring.
Toe ons opstaan en besluit om ons verder te gaan verkyk aan die onbeskryflikhede in Goudstraat, vertel Mollie verder.
“Toe ek my ma en pa by Christoffel sien, het ek my arms uitgesteek en my oorgegee aan die mees wonderlikste gevoel van vryheid. Dit was asof ek op liefde kon sweef, omhul deur ‘n warm, goue lig. Soos jy self nou sien, om hier te wees is … mens kan dit nie beskryf nie, want daar is net nie woorde of eers so ‘n konsep op aarde nie.
“Ek sê jou, die beste van alles is dat ek nou altyd by elk van my seuns en by Kristin kan wees. Ek kan hulle ondersteun, sonder om in hul pad te wees. Die ou wêreld se probleme lyk anders as mens ten dele kyk, van hier bo af sien ons ten volle – en dit is volmaak.