
Alhoewel die wenner van VIA (kanaal 147) en Apprentesses SA se realiteitsprogram, STER-STATUS, reeds op 10 Augustus 2019 tydens ’n glansryke rooitapyt-geleentheid by die Atterbury Teater in Pretoria aangekondig is, is die finale episode waar kykers die glansgeleentheid saam kon beleef eers Maandagaand, 9 Septemmber 2019 op nasionale televisie uitgesaai.

JAENETTE JACOBS van Pretoria is amptelik gekroon as die eerste wenner van hierdie wonderlike vrouebemagtigingsprojek en neem ook die leisels oor by Luré Delport (wenner van Apprentesses SA 2018) wat ook die aanbieder van die program was.
JAENETTE is ‘n sielvolle dertigjarige donkerkop wat al vele uitdagings oorkom het. Sy is ’n gesondheids- en veiligheidsverkoopsbestuurder wat haar werk terdeë geniet. ’n Passie om werklik ’n verskil te maak, het haar op VIA TV en Apprentesses SA se lys van twaalf finaliste laat beland vir die splinternuwe realiteitsreeks, Ster-Status. Sy is ook aangewys as SterBeïnvloeder van die reeks.
Wanneer sy begin gesels oor hoekom sy vir hierdie kompetisie ingeskryf het, raak sy baie ernstig: “Met hierdie platform wil ek ander inspireer en die stem wees vir gebroke vroue wat nie vir hulleself kan praat nie. Ster-Status is vir my soveel meer as net ’n kompetisie – dis ’n roeping. ’n Geleentheid om te kan teruggee.”
Hierdie natuurliefhebber, is ook ’n aspirant-skrywer wat graag haar gedagtes neerpen en mal is daaroor om in die bosveld te kuier. Sy is opreg lief vir mense en leef elke dag asof dit haar laaste is.
As sy enige ander beroep kon kies, sou sy beslis ’n televisieaanbieder wou wees. Daar is vir haar niks so lekker soos om iemand aan die ander kant te oortuig van wat sy ervaar nie. Sy sal egter meer oor al die aspekte van die vermaakbedryf wil leer en kennisse opbou in die industrie.
Dienslewering, werkskepping en skoolopleiding is van die eerste kwessies wat sy sou kafdraf as sy president kon wees. Dis vir haar belangrik dat die slegte omstandighede in die land aangespreek moet word, sodat daar ’n geleentheid op ’n beter toekoms vir almal kan wees.
Vir haar is dit ’n riem onder die hart wanneer vroue haar kontak vir raad, of wanneer hulle haar net wil eer as iemand wat hulle inspireer. Sy voel dat as sy net ’n klein verskil kon maak deur één vrou aan te moedig om nooit op te hou droom nie, dit vir haar genoeg sou wees.
Oor uitdagings kan sy baie getuig. Haar pa is oorlede voor haar matriekjaar en dis vir haar ’n bitter pil om te sluk dat hy nie saam met haar in die paadjie sal kan afstap op haar troudag nie. Sy was ook al in die hartseer posisie waar ’n sprokiesverlowing in ’n gebroke hart opgeëindig het.
Haar ervaring op Ster-Status was harde werk, maar dit het haar opnuut laat besef dat ՚n mens opofferings moet maak en moet teruggee aan die gemeenskap. “’n Droom is ’n prentjie van wat moontlik is. Jy moet ’n sterk hart en doelgerigte denke hê om dit om te skakel in ’n realiteit. Jy gaan val, opstaan, foute maak en daaruit leer. Wees mens, wees jouself,” sê dié Goue-wenner oor wat sy uit hierdie wonderlike ervaring geleer het. “Ek is so dankbaar vir almal wat in my glo en wat hierdie pad saam met my gestap het. Dit is hartroerend hoeveel liefde en ondersteuning ek ontvang het.”
Die lewe het vir JAENETTE gewys dat dit nooit te laat is om oor te begin nie en dat jy uit jou foute kan leer. Haar geloof speel ’n belangrike rol en sy gee God al die eer vir alles wat sy tot dusver bereik het.
STER-STATUS is die eerste van sy soort op Suid-Afrikaanse bodem en fokus daarop om jong vroue (millenniërs) aan die vermaakbedryf bekend te stel deur middel van werkswinkels, opleidingsessies en verskeie uitdagings om hulle voor te berei op ’n suksesvolle lewe in die kollig.
Kyk die her-uitsending van die finaal op VIA TV, Kanaal 147 op:
21 September om 15h30
28 September om 20h00
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/jaenette.jacobs.7
Instagram: @jaenettejacobs
SOSIALEMEDIASKAKELS VIR DIE PROGRAM
Facebook: https://www.facebook.com/Apprentesses/
Instagram: @apprentessessa
Webblad: www.apprentesses.co.za
Hutsmerke: #sterstatus #viatv #apprentessessa
PUBLISITEIT EN BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST