Dit is vanjaar 40 jaar sedert Anton Goosen sy eerste opnames uitgereik het tydens die destydse Musiek en Liriek-beweging.
40 JAAR liedjieboer innie langpad is ‘n feesviering van die liedjieboer se vier dekades in Afrikaans: ‘n handvol nuwe opnames, ‘n handvol minder bekende weergawes en ‘n handvol alternatiewe opnames uit sy oeuvre.
In Maart 1979 is die oorspronklike Kruidjie-roer my-nie (die tema-liedjie uit “Pretoria, o Pretoria”) uitgereik. Drie dae later is dit verban nadat ‘n ministersvrou gebel en gekla het. ‘n Ander liriek is geskryf en opgeneem, weer voorgelê, aanvaar en het dit ‘n top 10-treffer geword. Die solus-sewe het 40 000 (dubbelgoud) verkoop en die pad gebaan vir die eerste singer-songwriter album in Afrikaans, Boy van die Suburbs wat 80 000 verkoop het. Die oorspronklike verbande weergawe, Pretoria, o Pretoria, is op 40 Jaar ingesluit, asook ‘n rock ‘n ‘roll 1980-weergawe van Boy van die Suburbs.
Op daardie debuutalbum was Blommetjie gedenk aan my – die eerste rock song in Afrikaans. Die Rock-medley is ook in 1980 opgeneem, bestaande uit Blommetjie, Byeboerwa en Harlekyn.
Vier dekades later vertel die Liedjieboer steeds verhale in sy liedjies soos met die heel nuutste Swart Water (die vloek van Boontjieskraal). Die Overberg-mense ken hierdie legende goed: ‘n Reisiger en sy gesin het aangeklop vir skuiling op die plaas Boontjieskraal in die Overberg, naby Caledon. Die rivier was in vloed en die reisiger het gevra of hulle daar kan oornag. Die versoek is geweier en die reisigers moes die rivier aandurf. Volgens die legende het sy kinders verdink, maar in ander weergawes het sy vrou ook verdrink. ‘n “Vloek” is toe uitgespreek oor die manlike erfgename van die plaas.
• Pieter de Wet was in 1932 die eerste “slagoffer” toe hy in sy Model T-Ford van ‘n lae brug afgery het en gesterf het
• Sy oudste seun, Hendrik Christoffel (genoem Henry), gebore 21 April 1887, was die tweede “slagoffer”. Hy het op 5 Desember 1945 op die plaas met ‘n dorsmasjien verongeluk.
• Hendrik se enigste seun, Pieter Daniel, het in ‘n ingevoerde linkerhandstuur Packard in digte mis op die pad naby Boontjieskraal van agter teen ‘n vragmotor vasry. Hy het op 29 Junie 1959 gesterf.
• In 1971 was Hendrik Christoffel die vierde een aan die beurt. Sy BMW het teen ‘n berg afgerol. Hy is ernstig beseer. Hy het die hele nag hulpeloos gelê voordat iemand hom gevind het. Hy was lank bewusteloos. Hoewel hy herstel het, was hy daarna ‘n invalide. Hy het ‘n bestuurder gekry om sy motor te bestuur. By geleentheid kon hy die versoeking om sy nuwe BMW te bestuur nie weerstaan nie. Op dieselfde pad waar sy vader en oupa gesterf het, het hy op 24 Junie 1972 in ‘n botsing met ‘n ander motor gesterf. (http://westggsa.blogspot.com/2007/06/intressanthede-uit-die-e-sagi-3.html)
(https://af.wikipedia.org/wiki/Die_vloek_van_Boontjieskraal)
Ook splinternuut op 40 JAAR is Skippietjie Skommel wat die lewe van die “trawlers” (treiler)-vissers uitbeeld, ‘n Veer uit die Klein Karoo wat die tema is van ‘n Koos Roets-dokumentêr oor die glansryke destydse verepaleise-tydperk in die Klein Karoo en die temaliedjie uit die internasionale rillerfliek The Lullaby/Siembamba van Andre Frauenstein asook die tema uit Die Laaste Tango (‘n duet met Lise Swart wat gereeld saam met die Liedjieboer sing) van Deon Meyer is ook ingesluit.
Daar is ‘n duet, The Road, met Piet Botha en die Engelse weergawe van Josie Josie – beide uit Goosen se Danzer tydperk, African Day uit die Bushrock-album waarop onder andere Gito Baloi van Tananas en Isaac Mtsali van Stimela en Graceland-faam gespeel het, bygestaan deur die Soweto College Choir.
Toonsettings van twee digters is ingesluit, (Gee hom) ‘n hemel vol blou akkers van Ingrid Jonker (Plant vir my ‘n boom, André) en Breyten Breytenbach se Ek sal jou ‘n leeu gee (Die blinde is onsigbaar en Yin uit Lotus).
“Ek sien uit na die volgende 40 jaar” sê die liedjieboer, “die pad is nog lank en ver…”
Uitgereik deur Vonk Musiek
Vir enige navrae kontak Lydia Winchester / 082 553 8453 / lydiaw@mweb.co.za