Coffee Snobs – Sal jy

In ‘n tyd waarin ons verswelg word deur ‘n stormsee van liefdeloosheid, wantroue en geweld, is daar skielik ‘n veilige hawe van stilte en rus. Ek het dit gevind in die COFFEE SNOBS se nuwe enkelsnit SAL JY.

COFFEE SNOBS, die sangpaar Vernette en Marius Wessels, het reeds in Suid-Afrika bekendheid verwerf met hul sensitief-intelligente lirieke en die intimiteit van hul musikale aanslag.SAL JYhet alles daarvan, én meer. Dit konfronteer die luisteraar met die vraag of jy bereid is om ‘n ander persoon by te staan, ook wanneer dit nié goed gaan nie. Die liriek is gestroop van sentiment, dit is sober en eerlik. En meedoënloos – soos alle goeie kuns behoort te wees.

Vernette vertel dat sy en Marius vanjaar 10 jaar getroud is en dat die liriek ook oor hul eie verhouding gaan. Liriek wat die universele vraag van ware liefde, in álle verhoudings, vra: Sal jy my dra, al is dit swaar? Sal jy my vashou, sal jy my regop hou?

SAL JY word begelei met ‘n musiekvideo waarin die aangrypende verhaal van Tania van Twisk vertel word. Tania was 8 jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk, waar in sy haar rug en nek gebreek het. Teen alle verwagting het sy dit oorleef, maar moes van voor af leer om die basiese dinge te doen, soos sluk en regop sit. Sy is op pad na herstel, maar sou dit nooit kon regkry sonder die liefdevolle ondersteuning van haar naaste mense nie.

Hulle het die vraag, “Sal jy?”  met onbaatsugtige liefde beantwoord:  Ek sal.

Riana Scheepers

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →