Posduif se langverwagte derde enkelsnit is uiteindelik hier!

FOTO KREDIET:                                                            Tyler Walker – Big Red Photography

POSDUIF, die moderne multikulturele musiekgroep met die unieke naam, het pas hulle langverwagte derde enkelsnit vrygestel en dit is reeds besig om soos ’n veldbrand onder aanhangers te versprei!

LAAT VAL DIE WATER, wat deur die groep beskryf word as ’n snit met ’n “lekkerluister-aanslag”, spog met dieselfde opbouende boodskap en unieke klank waarvoor POSDUIF bekendheid verwerf het.   

Volgens die musikante is hierdie ’n liedjie van hoop en dra dit die boodskap dat moeilike tye makliker oorkom kan word deur in die toekoms van Suid-Afrika te glo, eerder as om negatiwiteit te help versprei. “Daar is so baie negatiewe stories en mense wat uit die land uit vlug,” sê kitaarspeler en sanger, Nick Jordaan.LAAT VAL DIE WATER gaan daaroor om die lig te wees en ’n voorbeeld te stel vir die mense rondom ons. Ons woon in ’n pragtige land en moet saam staan, ongeag van wat ons ras, kultuur of geloof is. Almal staar dieselfde probleme in die gesig en kan saam daarby baat wanneer dit opgelos word.”

LAAT VAL DIE WATER, uit die pen van Jordaan en James Boland en vervaardig deur Brendan Campbell – met die hulp van Hugo Ludik en Vaughan Gardiner (Muse Productions) op die finale produk, is ’n liedjie wat fokus op die positiewe en hoop gee. “Ek vind regtig aanklank by hierdie tema,” verduidelik Jordaan. “Mense neem graag aan dat die gras groener is aan die anderkant en is bereid om iets baie spesiaal agter te laat, wat hulle nooit oorsee sal kry nie.”

POSDUIF is in 2018 gestig en het die musiekbedryf betree met die enkelsnit en musiekvideo, Brandy Special, wat deur meer as 300 000 mense gesien is, gevolg deur hulle tweede enkelsnit en musiekvideo, Een Vir My, wat net so goed ontvang is.  Dié liedjie is pas genomineer in die kategorie Liedjie van die Jaar vir die opkomende Bokkie toekennings deur Bok Radio en die ensemble is ook genomineer as Groep van die Jaar.  Dié toekenningsgeleentheid vind plaas by die Grand West Casino in die Kaap op 6 Oktober 2019.

Die groep bestaan grotendeels uit lede van die gewilde musiekgroep RUBBER DUC – Jordaan, Amiel Gopal (baskitaarspeler), Sheldon Sham (saksofoonspeler), Leeroy Sauls (dromspeler) en Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler), met die toevoeging van Boland as voorsanger.

Boland verduidelik wat hierdie sesstuk-groep uniek maak: “Ons het almal verskillende musiekinvloede, wat wissel van Gospel tot Pop en Jazz, en dit alles word op ’n manier gekombineer om ’n unieke klank vas te vang. Wat dit interessant maak, is dat ons almal verskillende voorkeure en idees het as gevolg van ons verskillende kulturele agtergronde. Ons is waarlik ’n multikulturele groep in elke sin van die woord.” 

Tans is hulle besig om te werk aan die groep se debuut-album. “Ons spandeer baie tyd in die ateljee om liedjies te skryf en op te neem vir die album. Ons is baie opgewonde oor die klank en rigting wat dit aanneem,” sê Boland.

Net soos met Brandy Special and Een Vir My, gaan LAAT VAL DIE WATER aanklank vind by ’n wye gehoor. Hierdie goedvoelliedjie sal luisteraars nie net in ’n goeie bui plaas nie, maar die unieke plaaslike ritme sal hulle ook uitnooi om saam te sing en dans.

Die liedjie sal vanaf 30 September op alle digitale platforms beskikbaar wees en ‘n musiekvideo is ook oppad.

POSDUIF sal ook op 12 Oktober 2019 in aksie te sien wees by Weiveld in Pretoria en beloof om ‘n ennergieke vertoning te bring soos nét hierdie 6-stuk groep kan!  ‘n Ondervinding wat enige musiekliefhebber beslis ne moet misloop nie!  Kaartjies kos R70 per persoon en kan by Ticketpro gekoop word, maar sal ook by die deur beskikbaar wees.  Deure open 19h00 en die vertoning sal om 20h30 begin.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:  https://www.facebook.com/PosduifLive/

Instagram: @posduif_live

Twitter: @Posduif14

Webblad: https://posduif.live/

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za


STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →