
’n Jong paartjie se planne vir ’n romantiese naweek in New York word in die wiele gery wanneer sonskyn in donderstorms verander en dinge nie volgens plan verloop nie. ’n Reeks toevallige ontmoetings en skreeusnaakse tonele nooi kykers om saam te gaan op hierdie romantiese avontuur.
A RAINY DAY IN NEW YORK, uit die pen van die regisseur Woody Allen, is ’n romantiese komedie met Timothée Chalamet (Gatsby) in die rol van ’n skatryk man van New York wat nie kan kies tussen sy universiteitsliefde (Elle Fanning) en ’n verleidelike aktrise (Selena Gomez) nie.
Die rolprent is die drie-en-tagtig-jarige Allen se nege-en-veertigste vrystelling en is dié regisseur en skrywer se weergawe van die klassieke styl Hollywood Romanse. “Ek was nog altyd mal oor daardie tipe flieks,” sê hy. “Hierdie is ’n liefdesverhaal en ek was opgewonde oor die idee om dit te skilder teen die agtergrond van ’n reënerige, romantiese New York.”
Chalamet is puik in die rol van die tipiese anti-held – ’n neurotiese, maer, kritiese en sjarmante New Yorker – wat soos ’n tipiese rykmanskind in stille opstand kom teen sy welgestelde gesin. Hy kom saam met sy meisie Ashleigh, ’n borrelende joernalistiek-student, stad toe omdat sy ’n onderhoud met die legendariese rolprentmaker, Roland Pollard (Liev Schreiber), moet voer.

Gatsby is ’n ou siel wat lief is vir die geskiedkundige besieningswaardighede in New York en hy beplan vir hulle ’n reis vol klassieke uitstappies vir hulle tydjie in New York. Sy goedbeplande skedule word egter omver gegooi met die verloop van die lang reënerige dag en hulle sien mekaar byna nooit nie. Terwyl Ashleigh hard aan die werk is aan haar groot storie, beland Gatsby alleen in die strate van New York.
Terwyl Ashleigh ’n dag vol ongelooflike ontmoetings beleef, wat haar lei van Pollard na die draaiboekskrywer Ted Davidoff (Jude Law) tot by die filmster Francisco Vega (Diego Luna), spandeer Gatsby – as gevolg van ’n reeks gebeure – die dag saam met sy eks-vriendin se jonger sussie, wat met verfrissende selfvertroue en ’n aantreklike plat-op-die-aarde-persoonlikheid deur Gomez uitgebeeld word.

Wat die gehoor en die karakters wil sien, is nou gekoppel aan hierdie motief van identiteit. “Die karakters het ’n behoefte daaraan dat mense verby hulle uiterlike moet kyk om te sien wie hulle aan die binnekant is,” sê Allen. “Dit is ’n algemene ding in die lewe. Jy is mal oor iemand, maar hulle sien jou nie raak nie. Natuurlik sien hulle jou fisies, maar jy het nie ’n emosionele impak op hulle lewens nie.”
A RAINY DAY IN NEW YORK verbind karakters en situasies op so ’n slim manier, dat dit gou duidelik raak dat elkeen van die rolspelers kwessies het met hulle eie identiteit. Elke karakter ervaar hulle eie krisisse, en selfs Gatsby se ma (Cherry Jones) is ’n totale ander mens as wat hy gedink het sy is.
In ooreenstemming met karakters wat sukkel om erkenning te kry vir wie hulle regtig is, verbloem die kinematograaf, Vittorio Storaro, die karakters se gesigte op ’n slim manier deur hulle dikwels in die skaduwee te plaas. Hy gebruik ook verskillende soorte lig- en kamerabeweging om die verskille tussen Gatsby en Ashleigh se persoonlikhede te beklemtoon.

Buiten vir die sterk rolverdeling, speel sowel New York se reën ook ’n belangrike rol in die film. “Ons wou hê dat reën ’n simbool van romanse en liefde op die prent moet wees,” sê Allen. “New York is baie mooi op daardie grys, mistige of reënerige dae. Daar is iets bekoorliks aan die sagte beligting en die gedagte dat die strate skoon gewas word. Die reën dui ook op die verskillende maniere waarop Gatsby en Ashleigh die lewe sien. Ashleigh beskou die reën as somber, terwyl Gatsby dit as romanties beskou,” sê Allen.
Die rolprent is ’n spitsvondige en bekoorlike bittersoet komedie, met puik toneelspel deur van die grootste sterre van die huidige generasie.
A RAINY DAY IN NEW YORK word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 25 Oktober 2019.
Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=Iim8YnZRm2Y
SOSIALEMEDIA
Vir meer inligting oor A RAINY DAY IN NEW YORK, insluitend die amptelike lokprent, hou http://www.facebook.com/sterkinekorent dop en gebruik die hutsmerk #ARainyDayInNewYorkFilm_SA om oor die fliek te gesels.
INTERNASIONALE SKAKELS
Twitter: @ARainyDayNY
Instagram: @arainydayinny
PUBLISITEIT EN BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za