KykNet se Oktober 2019 HOOGTEPUNTE

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

FYNSKRIF – Begin Dinsdag 8 Oktober 20:00 op kykNET
Met Chris van Niekerk, Tinarie van Wyk Loots, Jacques Bessenger,
Cintain Schutte en Neels van Jaarsveld
Fynskrif is terug. Die tweede seisoen tel drie maande later op met Van Wyk en Vennote wat aan ’n draadjie hang na Hans (Chris van Niekerk) se aftrede. Lara (Tinarie van Wyk Loots) is so gefokus op nuwe kliënte werf dat sy nie die gaping raaksien wat tussen haar en Jaco (Jacques Bessenger) ontstaan het nie. Boonop sit Katrien (Cintaine Schutte) met Kobus se moordsaak wat dreig om haar lewe saam met Ben en die praktyk totaal te ruïneer. Corne (Beer Adriaanse) se toekoms is duister. Wian (Edwin van der Walt) en Anne (Kim Cloete) probeer hulle lewens herdefiniëer. Dolf (Charlton George) neem ’n groot besluit oor sy verhouding met Gertrude (Elana Afrika-Bredenkamp). Ben (Neels van Jaarsveld) probeer alles bymekaar hou terwyl Hans in sy studeerkamer sit en sy memoires skryf. Waar dit alles gaan eindig, bly ’n ope vraag.
Oor die loop van die seisoen moet Lara en Ben hulle verhoudings met hulle geliefdes en kinders weer van nuuts af ondersoek, moet Corne uitendelik besluit waarvoor hy staan en hoekom hy doen wat hy doen, moet Hans aftrede trotseer, Anne besluit of sy nog ’n prokureur wil wees en Wian sy definisie van familie herbesin. Al die karkaters – ook die kinders – leer ’n bietjie meer van hulself terwyl alledaagse krisisse trotseer word.
Die skrywers en vervaardigers, Albert Snyman en Louis Pretorius hoop dat die gehoor “nog verder en dieper sal reis saam met al die karakters. Fynskrif twee bou op die eerste seisoen en verbreed die persoonlike en regswêreld van die reeks.”


En natuurlik is daar ook ’n paar sake wat almal grys hare gee. Ivan Nel (Armand Aucamp) maak sy terugkeer as popster, wat Dolf teen die mure uitdryf. Egskeidings, intellektuele eiendom geskille, onregverdige afdankings en aanranding is maar net ’n paar probleme wat ons prokureurs moet trotseer.
Twee nuwe karakters sluit ook by Van Wyk en Vennote aan. Lilani (Lea Vivier) is ’n klerk wat haar terugkeer tot die praktyk maak na ’n jaar se sabbatsverlof. Sy het maar nog altyd emosioneel gesukkel en veral sy en Corne het ’n donker geskiedenis. Simon (De Klerk Oelofse) is ’n groot nuwe kliënt wat ’n pad stap saam met Katrien en baie ander se lewens raak.

Ons boere, ons inspirasie
Leefstyl
Begin Donderdag 3 Oktober 21:00 op kykNET
Met Eloïse Pretorius en Fanie Cronjé as aanbieders
In ’n nuwe leefstylreeks Ons boere, ons inspirasie gaan kykNET en SARIE-tydskrif ’n vars blik gee op die moderne Suid-Afrikaanse boer.
Dié nuwe reeks volg op ’n gelyknamige projek wat die SARIEspan in 2018 in hul tydskrif en platforms geloods het. SARIE het gewys dat vandag se boer stylvol, skeppend en innoverend is, terwyl hulle ook in voeling is met hul wêreld én ingestel is op die lewe daarbuite.
Nou vat SARIE met kykNET hande om dit groter te maak en saam met GWK, McDonald’s en John Deere gaan daar 13 plase oor 13 episodes besoek word. Boere – van Boshof tot Douglas – gaan aan kykers wys dat boerdery ’n gesofistikeerde onderneming is en dat hulle ook terugploeg in plaaslike gemeenskappe.
Elke episode sal die kollig laat val op ’n boer wat ’n storie het om te vertel en ’n eie stukkie inspirasie deel, wat deur wereldklas-fotografie in SARIE uitgebeeld sal word.

Vat jou goed en trek
Begin Vrydag 4 Oktober 17:30 op kykNET
Leefstyl
Met Henck Conrey as aanbieder
Eiendom is ’n groot belegging, maar hoe gemaak wanneer jou huis nie meer aan jou behoeftes voldoen nie? Jy vat jou goed en trek! In die vyfde seisoen help die Vat jou goed en trekspan 13 families om binne 72 uur die waardes van hulle eiendomme te lig en hul huise te verkoop.

Glam Guru
Begin Dinsdag 8 Oktober 20:00 op kykNET
Leefstyl
Met Hannon Bothma as aanbieder
Hannon is terug vir die 17de seisoen van Glam Guru om weer ‘n rits vrouens se lewens met ‘n oormaaksessie te verander. Hy en sy span wys kykers hoe maklik dit is om goed te lyk (en voel!). Van ‘n ma wat haar identiteit as ‘n vrou in ma-wees verloor het, iemand wat breinkanker oorwin het, maar ‘n gehoorprobleem oorgehou het, en ‘n entrepreneur wat ‘n voorsprong kort in ‘n kompeterende wêreld tot ‘n vrou wat deur ‘n traumatiese egskeiding is, iemand wat op haar beste wil lyk vir haar 24ste huweliksherdenking en ‘n vrou wat te veel hooi op haar vurk het – die stories wat deel van hierdie seisoen van Glam Guru is, sal kykers inspireer en diep raak.

Oppi Kassie
Begin Sondag 6 Oktober 20:00 op kykNET
Dokumentêr
Voor die eerste uitsending in 1976 was die gedagte van TV volksvreemd. Oppi Kassie is ’n dokumentêre reeks wat fokus op die geskiedenis van TV in Suid-Afrika.
In die tweede reeks van Oppi Kassie word daar gekyk na TV nadat M-Net begin het. kykNET word ook onder die vergrootglas geplaas.

Hier gaan ons alweer
Begin Maandag 7 Oktober 17:30 op kykNET
Hengel
Met Petri de Wet
In die 18de reeks van die uiters gewilde program Hier gaan ons alweer kan kykers uitsien na die beste vars en soutwater hengel in Suid afrika en ook in ons buurlande.
Protea-hengelaar Petri de Wet en sy gashengelaars toer na Namibia daaarna tot Angola en dan weer terug na SuidAfrika vir uitsonderlike plaaslike hengel. Om die 18de reeks te vier, kom hengel ‘n paar top kunstenaars saam en die publiek hengel ook saam gedurende die heel eerste opedag op Saterdag 14 September. Soos altyd, wys Petri die beste in aas- en kunsaashengel.

Liefde sonder grense
Begin Maandag 7 Oktober 20:00 op kykNET
Gesels
Met Rian van Heerden as aanbieder
Liefde Sonder Grense is ‘n geselsprogram wat fokus op die lewens van paartjies wat in verhoudings is wat ander mense maar vreemd sal vind. Van harige liefde en langeraat liefde tot liefde ten spyte van geskendheid of verslawing…Hierdie eerste reeks van Liefde sonder grense bewys sonder twyfel dat ware liefde alles kan oorwin!

Afskaal
Begin Donderdag 10 Oktober 17:30 op kykNET
Ook vanaf Donderdag 17 Oktober 21:00 op kykNET&kie
Realiteit Met Elana Afrika-Bredenkamp as aanbieder
Afskaal is ‘n realiteitsprogram van 13 episodes wat die lewens volg van vier oorgewig mense (20-50kg oorgewig), wat die behoefte het om hulle lewens te verander.
Ontmoet die kriminele ondersoeker van Boksburg, Beverley, Noelien van Meyerton wie se gewig van haar ‘n kluisenaar gemaak het, die teddiebeer van Randfontein, Hennie, en Jandri van Pretoria, wie se verhouding met haar suster weens haar ekstra kilogramme agteruit gegaan het. Hulle reis vind plaas oor ‘n periode van 16 weke met ‘n uiteindelike wenner wat aangewys word. Ons sien al die drama terwyl hulle deelneem aan ‘n verskeidenheid van uitdagings wat hulle toegewydheid om gewig te verloor, toets.

Boer soek ‘n Vrou
Realiteit
Begin Donderdag 17 Oktober 20:00 op kykNET
Met Leah as aanbieder
Boer soek ‘n Vrou is reeds in sy twaalfde seisoen en steeds so gewild onder kykers soos altyd. Vroeër vanjaar het boere die geleentheid gehad om in te skryf en die inskrywings het ingestroom. Die Top 10 boere is gekies en mans en vrouens het die geleentheid gehad om vir die boer van hul keuse te ontmoet.
Binnekort gaan kykers die Top 10 boere beter leer ken en reeds in episode twee uitvind watter van dié boere die meeste briewe ontvang het om uiteindelik een van die Top 5 boere te wees.
Oor die volgende 13 episodes gaan Leah saam met die boere liefde soek en kyk of hulle hul pasmaat sal vind.

Tydelik Terminaal
Begin Woensdag 30 Oktober 20:00 op kykNET
Ligte drama
Met Carla Smith, Eve Nthabiseng Rasimeni, Hendrik Nieuwoudt, Anna-Mart van der Merwe en Frank Opperman

Tydelik Terminaal is ’n 13-episode ligte dramareeks wat handel oor hoe ’n twee-en-twintig jarige honneursstudent, Kittie Claassen, die lewe navigate ná sy met kanker gediagnoseer word. Dis “die beste kanker om te kry”, soos Dokter Pillay haar verseker. Kortom is dit ses maande se hel, en dan weer life as usual. Die probleem is dat dit haar honneursjaar is, en ’n kinkel in haar akademiese kabel gaan beteken dat sy haar toekomsdrome van Pulitzer-prys bekroonde joernalistiek moet uitstel as gevolg van Hodgkin en sy ontydige siekte.

Die reeks speel af oor die ses maande waartydens sy chemoterapie ondergaan, besties raak met die oues van dae, haar studies probeer voltooi, en boonop onverwagse lewenservaring en -wysheid opdoen.

Kittie en haar twee beste vriende, Mandy en Fanie, bevind hulleself in daardie deurmekaar tussen-fase van die lewe voor jy die sogenaamde grootmenswêreld betree. Dis ’n tyd van kindwees agterlaat, maar steeds pret hê; somber beplan vir ’n toekoms, maar uiters onseker wees van hoe daardie toekoms gaan lyk.

In hierdie drukgang van volwassewording, word elk van hierdie karakters met hulle eie mensewees gekonfronteer en staan hulle voor die vraag van wie hulle nou eintlik is.

Tydelik Terminaal put inspirasie uit die skepper van die reeks, Elanie Rupping, se eie stryd teen kanker. “Ek het geleer dat die lewe se swaarkry en beproewinge soms ook sy grootste geskenke is, omdat dit ons die empatie gee waardeur ons met mense kan connect. Die beste manier hoe ek dit kan doen, is deur middel van stories. Daarom het ek een van die swaarste goed wat nog ooit met my gebeur het as voertuig gebruik om mense, hopelik, te laat voel dat hulle nie alleen is nie. Dat dit ’n gedeelde ervaring is en dat daar altyd hoop is.”

Etienne Fourie behartig grootliks die regie van die reeks. “As ek terug dink aan die verfilming van Tydelik Terminaal, is dit vir my ’n advertensie-tipe montage, ’n blur van Johannesburg (ek het vir tien weke daar gewoon om die reeks te verfilm), Carla Smith se lag en die reuk van die hospitaal waar ons baie van die tonele verfilm het. Dit was ’n moeilike maar vervullende, onvergeetlike ervaring. Ek kan nie wag dat gehore Tydelik Terminaal kan sien nie. Dit is ’n belangrike – maar tog kleurvolle – en opregte storie met karakters wat die meeste van ons sal herken. Dit spreek ’n reeks ernstige kwessies aan, maar met deernis en humor. Loki Rothman se musiek is iets wat my oor die algemeen opgewonde maak, maar om dit in die reeks te hê, om dit in die konteks van die reeks te sien, is besonders lekker vir my. Ek kan nie wag dat mense dit hoor nie.”

Carla Smith, wat die rol van Kittie vertolk, is ’n bekende teateraktrise, wat al te sien was in Altaar, Die maan val bewusteloos, Sewe Deugde, nee minder en Fiela se Kind. Sy het ook al ’n gasrol vertolk in die sepie, Binnelanders.

Eve Nthabiseng Rasimeni en Hendrik Nieuwoudt vertolk die rolle van Kittie se beste vriende, Mandy en Fanie. Eve is veral bekend vir haar rolle in reekse, soos Isibaya, Rhythm City, Dwaalster en Suidooster. Hendrik se teaterrolle sluit in Made you look, Raponsie en Hoekom is die badkamer vloer nat. Hy was ook al te sien in die kortfilm, Kloof.

Bekendes wat ook in Tydelik Terminaal te sien is, sluit in Anna-Mart van der Merwe en Frank Opperman as Julie en oom Len. Oom Len het prostaatkanker – Julie, sy busy body-vrou wat hom (en later vir Kittie) in die stryd teen kanker bystaan.

Almar Müller is te sien in die rol van Joubert, ’n ou liefde wat weer vir Kittie ’n steunpilaar wil wees, Arno Greeff as Drikus, die aantreklike jong LLB student wat Mandy aanhoudend uitdaag, en Ruan Blum is Louis, Fanie se kêrel van die Kaap.

Kyk ook uit vir verskynings deur Anel Alexander, Zane Meas, Stiaan Smith, Francois Jacobs, Tiffany Barbuzano, Jack Devnarain, Reginah Dube, David Reese en Henriëtta Gryffenberg.

Nouvanaand Films vervaardig Tydelik Terminaal. “Ons is opgewonde om weer die geleentheid te kon kry om ’n ligte drama vir kykNET te vervaardig. Onder die innoverende regie van Etienne Fourie en Elanie Rupping, bied Tydelik Terminaal ’n vars blik op die ongewone ervaringe van ’n 22-jarige jong meisie op die drumpel van haar ‘grootmens’-lewe. Met ’n vars uitkyk oor studentwees en ongemaklike identiteitsvrae, lei Tydelik Terminaal die kyker deur Kittie se chemoterapie-reis na fisieke genesing asook emosionele bevryding.’

Tydelik Terminaal word Woensdae om 20:00 vanaf 30 Oktober op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. Deel die goeie nuus met jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #TydelikTerminaal. 

Huis Lelieveld
Komedie
Begin Woensdag 30 Oktober 20:30 op kykNET
Met Lizz Meiring, Willie Esterhuizen, Hélène Truter, Wynand van Vollenstee, Cobus Visser en Yvonne Schoeman

Molly van Molly en Wors en Ouboet en Wors het haar werk as tandartsassistent verruil vir dié van matrone! In Willie Esterhuizen se nuutste komedie, Huis Lelieveld, kry Molly werk as matrone van die aftreeoord Huis Lelieveld, en kan kykers uitsien om ’n paar ou gunstelinge, sowel as nuwe gesigte te sien.
Gielie, wie kykers in Ouboet en Wors as Wors se goedgelowige nutsman en drywer leer ken het, kry ook werk by die aftreeoord, want hy het ’n baie sagte hart – veral as dit by die oumense kom.
’n Groot bederf wat vir kykers voorlê, is Hélène Truter wat terugkeer as Tannie Poppie, een van die inwoners van Huis Lelieveld. Die inwoners van Huis Lelieveld sluit in Fleur Pot , Gielie se ma, Martha Goosen, Brand Louw en Blaartjie Louw.
Daarmee saam gaan kykers ook die Huis Lelieveld-personeel goed leer ken. Dominee Dou Droel, wat onder sensuur geplaas is vanweë sy swakpunt vir vrouens, Spanner Proes, die kleurryke faktotum wat ’n interessante lewe buite die oord het, en Koekie de Kok, Ds Droel se assistent en deeltydse paaldanseres, gaan sorg vir hope pret.

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) is ’n verskeidenheidskanaal wat beskikbaar is op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premiumpakkette. Die kanaal bied outentieke kykgenot vir die hele gesin asook eksklusiewe inhoud wat nog nooit vantevore op lug gesien is nie.

Die Kasteel 1
Komedie
Begin Saterdag 5 Oktober 19:30 op kykNET&kie
Met Hannes Muller, Dorette Potgieter, Cintaine Schutte, Pulane Sepeke en Solomon Cupido
Eckhard en Tina-Marie de Wet besit ’n herehuis in Waterkloof, Pretoria. Ses maande gelede, het Eckhard belê in ’n ponzi skema wat gevou het. Hy het alles verloor, behalwe die huis. Sedetdien het hul die huis omskep in ’n Boutiek Hotel. Met die hulp van hul donskop dogter, Michellay, hul naïewe tuinier, Wilson, en hul sarkastiese huishulp, Cecilia – moet hul week na week ’n kleurvolle klomp gaste in hul huis verwelkom, nou bekend as Die Kasteel. Daar is net een problem: Niemand weet wat de hel hul doen nie!

Jan Braai vir Erfenis 9
Leefstyl
Begin Maandag 7 Oktober 21:30 op kykNET&kie
Met Jan Scanell as aanbieder
In seisoen 9 van Jan Braai vir Erfenis deurkruis Jan en die span die wêreld opsoek na nuwe avonture, pragtige plekke en lekker braairesepte. Hoogtepunte sluit in die geelstert-seisoen aan die Suidkus, subtropiese vrugte seisoen in die Laeveld en somer in Madagaskar.

Die Republiek van Zoid Afrika 4
Gesels
Begin Dinsdag 8 Oktober 20:30 op kykNET&kie
Met Karen Zoid as aanbieder
Kykers kan hul paspoorte afstof vir ’n onvergeetlike besoek aan Die Republiek Van Zoid Afrika.
In dié reeks vergroot President Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes.
Van die gaste in hierdie reeks is Eben Etzebeth, Refentse, Johnny Clegg, Jo Black, Minki van der Westhuizen, Patricia Lewis, Yvonne Chaka Chaka en Johan Stemmet.

Die Ware Naarheid 2
Satire
Begin Saterdag 12 Oktober 21:00 op kykNET&kie
Met Schalk Bezuidenhout as aanbieder en Bibi Slippers, Erns Grundling en Piet Matipa as korrespondente
Die Ware Naarheid is ’n satiriese nuusprogram, aangebied deur die komediant Schalk Bezuidenhout en sy korrespondente, Erns Grundling en Bibi Slippers. Piet Matipa sluit hierdie seisoen by die span aan as die nuwe korrespondent.
In tipiese TV-nuussatire-styl word die nuus van die week die grap van die jaar. Van ‘n ernstige politieke skandaal tot ‘n lawwe insident op ‘n klein dorpie: Die Ware Naarheid kyk niks mis nie en maak biltong van elke heilige koei. Ja, dit beteken wel dat knoppies gedruk word (en ons bedoel dit nie net figuurlik nie).
Die kommentaar op sosiale media is testament tot die feit dat die program gesprek ontlok en menings stimuleer. Schalk gesels ook tydens die program met bekendes, media-figure en soms selfs familielede om ’n alternatiewe blik op die jongste nuus te kry. Alhoewel die program propvol grappe is, is dit beslis nie ’n grap nie: dit sal jou help om sin te maak van alles wat aangaan sonder om jou te bedruk of te verveel.
Met Die Ware Naarheid kry jy jou weeklikse dosis nuus met ’n goeie skeut humor in – want dis soms die enigste manier om die nare waarheid te verteer.

Tyd met Aleit 4
Leefstyl
Begin Donderdag 17 Oktober 21:30 op kykNET&kie
Met Aleit Swanepoel as aanbieder
Trou- en funksiebeplanner Aleit Swanepoel is terug vir ‘n vierde reeks van die immergewilde reeks, Tyd met Aleit. Soos met vorige reeks wys Aleit vir kykers hoe enige geleentheid in ‘n elegante geleentheid omskep kan word.
In dié seisoen loer Aleit weer in by ‘n rits Suid-Afrikaanse persoonlikhede se huise, insluitende sanger en aanbieder, Katlego Maboe, sanger Andriëtte Norman, akteur De Klerk Oelofse en sjef, Tiaan Langenegger. Nie net deel hulle hul stylwenke met Aleit nie, maar verklap hulle ‘n paar interessante feite oor hulleself.
Aleit pak ook ‘n glytoer, oftewel zipline, buite Ceres aan, toets ‘n glamping tent en beplan ‘n tuinpartytjie vir Paastyd. Boonop sorg twee bekende varke vir ‘n interessante storie.

Slank 4
Leefstyl
Begin Donderdag 17 Oktober 21:30 op kykNET&kie
Met Leandie du Randt as aanbieder
Vier bekende Suid-Afrikaanse families word oor ‘n tydperk begelei deur geneeshere en dieetkundiges om ‘n gesonde leefstyl van lae koolhidrate en gesonde vette aan te moedig. Die families se eetgewoontes kom onder die soeklig by geleenthede soos verjaarsdagpartytjies, uitstappies, kuiertjies deur vriende en selfs kospakkies skooltoe. Die outeur van drie kookboeke, Iné Reynierse, gee raad aan die families oor hoe om ‘n gesonde leef- en eetstyl vol te hou.

Megaboere 5
Leefstyl
Begin Donderdag 17 Oktober 21:30 op kykNET&kie
Met Kabous Meiring as aanbieder
Megaboere doen moeite om ook in buurlande, met soortgelyke omstandighede as Suid-Afrika, ’n draai te maak. In Afrika bly landbou ’n uitdaging, want hier gaan dit nie net oor wins, omset, kaart en vervoer nie. In Afrika gaan kosvoorsiening veral oor aanpasbaarheid. Kabous doen dus moeite om boere se aanpasbaarheid by klimaatsverandering, droogtes, maatskaplike uitdagings en die politiek uit te beeld.
Soos in die vorige reekse besoek sy ook ’n verskeidenheid boerderye in verskillende dele van die land. Die klem verskuif hierdie keer na boere se vermoë om verandering as uitdaging te aanvaar. Die boerderye wissel van groot semi-korporatiewe sakebedrywe, tot boere wat op tradisionele grond boer en nooit die titelakte van sy grond gaan besit nie – almal boere wat hulself op die een of ander manier van ander onderskei en op verskillende maniere kwalifiseer om die Megaboer-etiket te dra.

kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) is die plek vir lekker tunes en goeie vibes. Dis beskikbaar op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premiumpakkette én op DStv NOW.

Foster & Allen: Putting On The Style
Musiek
Sondag 13 Oktober 10:30 op kykNET NOU!
Die legendariese Ierse Folk duo Foster & Allen toer al vir meer as 40 jaar die wêreld vol. In hulle loopbaan het Foster & Allen al meer as 22 miljoen albums verkoop waarvan baie goud en platinum status bereik het. Die duo is bekend vir treffers soos Maggie en A bunch of thyme en nou vir die eerste keer op Suid Afrikaanse televisie, geniet Putting On The Style; spesiale optredes vanaf hulle bekroonde Foster & Allen TV program.

Legendes van Afrikaanse musiek: Lydia Winchester
Sondag 27 Oktober 10:30 op kykNET NOU!
‘n Musikale reis saam met die legendariese skakelbeampte, Lydia Winchester, deur haar drie dekades in die Afrikaanse musiekbedryf. Ons hoor stories van haar loopbaan, vertel deur legendes soos Anton Goosen, Rina Hugo, André Schwartz en vele meer.


Related posts

Leave a Comment