Sit dit aan, sit dit aan! Optredes deur Die Gereformeerde Blues Band (en ‘n paar Trawante).

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Digters, liedjieskrywers en ander kunstenaars vervul ‘n kritieke rol as die gewete van ‘n nasie. Soms het hulle ‘n bietjie hulp nodig om hul rol ten volle te vervul.

Die Gereformeerde Blues Band, almal uitmuntende musikante, het die voorreg gehad om gedurende die laat 80’s op te tree as ‘n soort musikale springplank vir die liedjies van Johannes Kerkorrel. Die Gereformeerde Blues Band, so gedoop deur Kerkorrel self, het gehelp om sy optredes te groei van klein kabaretvertrekke, na die groot verhoë van ruk-en-rol toere en opelug konserte. Daar sou derduisende jong, en veral wit afrikaners, wat dikwels reeds ‘n behoefte gehad het om weg te breek van die eng en onderdrukkende sfeer geskep deur die bewind van die dag, blootgestel word aan Kerkorrel se baanbrekende insig en idees.

Johannes Kerkorrel is ongelukkig nie meer met ons nie, en Gereformeerde Blues Band optredes is ‘n rariteit. Maar met die onlangse 30-jarige herdenking van die Voëlvry Toer het die GBB besluit om tog weer van hulle te laat hoor. Deels omdat hulle soveel plesier put daaruit om hierdie wonderlike en dikwels tydlose materiaal met ander te deel, maar ook omdat hulle steeds ‘n behoefte het om ‘n bydrae te lewer aan die huidige diskoers, met ‘n samelewing wat vinnig besig is om te verval in soortgelyke slaggate as waarteen hulle in die 80’s geprotesteer het, aldan vandag sonder die euwel van apartheid.

Daar het wel groot politieke vooruitgang plaasgevind in die afgelope 30 jaar, en met al die kritiek op vandag se tenger situasie vergeet ons soms hoe lang ‘n pad ons alreeds gekom het, alhoewel die soeke na menslike waardigheid vir almal wel nog ‘n voortdurende raaisel bly. Vandag se kwessies is aansienlik meer kompleks, maar in ons steeds gepolariseerde samelewing sou Johannes Kerkorrel se strewe na liefde, versoening en verdraagsaamheid tog weer aanklank vind. So, terwyl daar altyd ‘n groot fokus op JK se uitsonderlike materiaal sal wees, bied die Gereformeerde Blues Band graag hul vaardigheid en aansien as platform vir hedendaagse liedjieskrywers wat in die trant van Johannes Kerkorrel die nek uitsteek en in Afrikaans die issues van die dag aanspreek.

Die GBB is trots om op te tree saam met afrikaner kolossus Churchil Naude uit Mitchells Plein op die Kaapse Vlakte, ‘n digter en rymkletser van formaat. Churchil (met een el), ‘n skrynwerker, het ‘n diep insig in die dilemmas van menswees, en spreek dit aan in pragtige liedjies, wat breek deur kleur- en kultuurgrense. Die GBB is oortuig dat Johannes Kerkorrel sy werk hoog sou aangeprys het.

Churchil se liedjies word meestal getoonset deur liedjieskrywer Riku Lätti, wat die GBB bystaan op klavier en sang. Ons kry ook ondersteuning van Riku se vrou en nagtegaal, Jackie Lätti op agtergrondsang. Riku en Jackie is ook mede-produsente/kurators van “Die Wasgoedlyn”, ‘n projek wat oorspronklike afrikaanse kunstenaars (insluitende Bacchus Nel, Churchil Naude, Frazer Barry, Gert Vlok Nel, wyle Piet Botha, Jolyn Phillips ens.) bymekaarbring vir televisie en verhoogoptredes.

Moet dit nie misloop nie!

Die Gereformeerde Blues Band:

Sang: Karla Krimpelien (Tonia Selley)
Kitaar: Mnr Volume (Willem Möller)
Baskitaar: Piet Pers (Gary Herselman)
Dromme/tromboon: Hanepoot (Jannie van Tonder)

Die Trawante (vars gehaal van Die Wasgoedlyn):

Klavier en sang: Die Kunstenaar voorheen bekend as Die Kavalier (Riku Lätti)
Rymklets: Kroeskop (Churchil Naude)
Sang: Bettie Blatjang (Jackie Lätti)

Optredes:

Sondag 27 Oktober 20h00
Gereformeerde Blues Band
Barnyard Teater, Tygervallei
Kaartjies: https://www.barnyardtheatre.co.za/show.aspx?sid=1058&vid=5

Vrydag ‌29 Nov 19h00
Shifty Records bied aan: Die Gereformeerde Blues Band (met support act The Kêrels)
Pirates Bowls Club, 4 Cruden Bay Road, Greenside
Kaartjies: https://www.howler.co.za/…/shifty-presents-gereformeerde-bl…

Sondag 1 Des 10h00
100th Park Acoustics met The Narrow, Jack Parow, Gereformeerde Blues Band
Voortrekker Monument Nature Reserve, Pretoria
Kaartjies: https://plankton.mobi/…/c621f695-6c1d-e911-80c2-0cc47a93d288


Related posts

Leave a Comment