Pretoria, die spoke wag vir jou . . . op Saterdag, die 19de

“Die storie-vertellings is nie fiksie of uit die duim gesuig nie. Alles is gebaseer op ware verhale

Verbeel jou, dit is ‘n donker aand daarbuite. Jy en jou vriende sit in die Pierneefteater in Pretoria en teug aan ‘n koppie koffie. Onderlangs hou jy die vreemde skaduwee’s dop wat die kerslig teen die mure teken.

‘n Lang, skraal man verskyn op die verhoog. Hy dra ‘n geplooide wit hemp wat herinner aan die Victoriaanse tydperk.

Sy naam is Jaco Hough-Coetzee, stel hy homself bekend. Hy het vanaand sy storieboek saamgebring propvol spookstories en ander ware verhale van die bonatuurlike, sê hy. Vertellings wat jou kop in ongeloof saI laat skud, of ander wat koue rillings deur jou lyf kan stuur.

Nee! dink jy bekommerd. Dit kan tog nie wees nie? Maar dan begin hy te vertel.   

Is hierdie net jou verbeelding, of is dit ‘n realiteit, wonder jy . . .

Wel, jou verbeelding kan realiseer indien jy die verhoogproduksie DIE-anner-LEWE op 19 Oktober by die Pierneefteater in Pretoria bywoon.

Dit word aan jou gebring deur SPOOKSTORIE-produksies wat die baie suksesvolle pta- SPOOKBUS-uitstappie reeds vir die afgelope 10 jaar onafgebroke maandeliks in die Jakarandastad aanbied. Jou storieverteller op die Pierneefverhoog is natuurlik weereens Jaco Hough-Coetzee. Hy is ook die skrywer van die roman Van Skoolbank Tot Bordeelbed wat vier jaar gelede ‘n topverkoper was en steeds in boekwinkels beskikbaar is.

Jaco sê daar was ‘n tyd – lank, lank gelede – toe mense nog nie aan TV- of selfoonskerms verslaaf was nie. “Toe families en vriende saans in die kuierkamer, op die stoep of langs die kampvuur bymekaar gekom en die heerlikste spookstories, aangrypende staaltjies en bo-natuurlike legendes uit die verlede met mekaar gedeel het. Tussendeur die stories is daar ook langspeel-plate op die draaitafel gesit en na nostalgiese musiek geluister.”

Dit is presies wat die verhoogproduksie DIE-anner-LEWE nou aan mense bring. ‘n Aand van spookstorievertellings wat afgewissel word met die musiek van die sangpaar Die Venster (Charl en Carla Erasmus) met tydlose treffers en goue oues deur die jare.

Charl vertel toe hulle die produksie se musiek-repertoire saamgestel het, het hulle spesifiek welbekende liedjies gekies wat almal ondertone van die spookverhaal-genre het. “Dit sluit in klassieke musiektreffers soos onder andere All I ask of you (Andrew Loyd Webber), Skadu’s teen die muur (Koos du Plessis), Kerse teen die donker (Amanda Strydom) en Murder Song (Aurora). Dit is alles liedjies wat die vertellings aanvul.”

Jaco beklemtoon die stories wat op die gehoor wag is nie fiksie of uit die duim gesuig nie.

“Enige skrywer kan grusame spookverhale fabriseer. Die stories wat ons egter na die Pierneefverhoog bring is ware verhale wat deur gewone mense, soos ek en jy, waargeneem is. Baie van hierdie stories is in boeke, koerante en tydskrifte gepubliseer. Ander is weer persoonlik aan my vertel. Dit is alles stories van hiérdie ander lewe.”

Jaco beskryf die vertoning as ‘n unieke verhoog-ervaring deurweef met die interessante geskiedenis van Pretoria.
“Dit is ‘n aand uit wanneer ons terug stap in tyd; terug op die voetspore van hulle wat lank voor ons hier gewoon, gewerk en geleef het – maar waarvan sommiges vergeet het om te vertrek.”

Hy nooi mense uit: “Kom beleef dié spookstorie-vertellings-ondervinding . . . anders sal jy dit nooit verstaan nie.”

Maar Jaco waarsku ook: “Nadat jy jou sitplek ingeneem het, die saalligte afgeskakel is en die verhoogligte aangaan, is daar geen omdraaikans meer nie. Indien jy dan reeds huiwerig raak en verkies om eerder huiswaarts te keer, het ek ongelukkig slegte nuus. Want dan is die deure agter jou reeds dig gesluit. Dan kan jy nêrens heen gaan nie. Soos in nêrens nie.”

  • Die storievertelling-aand DIE-anner-LEWE, gemeng met tydlose sangtreffers, word op Saterdag 19 Oktober om 19:00 by die Pierneefteater in Pretoria aangebied. Die deure open om 18:30.
  • Kaartjies kos R150 per persoon.
  • Verversings tydens pouse by die teater se koffiekroeg beskikbaar. 
  • Meer besonderhede asook aanlynbesprekings by https://www.spookbus.co.za/oorsig-anner-lewe/
  • Besprekings kan ook by die teater gedoen word (012 329 0709).
  • Kyk hier na ‘n vinnige 3 minuut-voorsmakie van die vertoning: https://youtu.be/c-MfoTfrcJ4

KONTAKBESONDERHEDE

Samantha Cronjé (kantoorbestuurder): spookbus@gmail.com

Jaco Hough-Coetzee (storieverteller): 082 404 7229

Jopie Koen (Pierneefteater): 012 329 0709

Adres: h/v Mogg en Pierneefstrate, Villieria, Pretoria

Vriendelike Groete,


STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →