VAALDRIEHOEK-MUSIKANTE SPAN KRAGTE SAAM VIR TUINROETE-TOER

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Wat gebeur wanneer ’n solo-kunstenaar en musiekgroep bymekaar kom om saam musiek te maak..?

’n Splinternuwe kontemporêre musiekbeweging ontstaan, wat nie net gaan hulde bring aan die legendes van die hede én die verlede nie, maar ook lewe gaan blaas in die Suid-Afrikaanse (en veral die Afrikaanse) musiekmark.

“Ons vertoning is besonders, omdat dit ’n gesonde balans handhaaf tussen oorspronklike liedjies en gewilde treffers. Mense kan uitsien na kwaliteitmusiek deur talentvolle musikante,” sê Carla, die enigste roos en mede-voorsanger van die groep. “Daar gaan iets wees vir elkeen se smaak en ons sien uit daarna om lekker saam met gehore te sing en kuier.”

KLANKGOLF kombineer die uitsonderlike talent en ondervinding van die musikant, Carla van Wijk en die akoestiese musiekgroep, Victor Bravo (Weco van Basten enJopie Pienaar).

Dié passievolle trio, wat almal uit die Vaaldriehoek kom en mekaar in plaaslike musiekkringe ontmoet het, is baie opgewonde oor die geleentheid om vir die eerste keer in ’n meer amptelike en gestruktureerde formaat saam te werk en ’n onvergeetlike produksie op die planke te bring, waaroor almal nog lank sal praat.

“Om saam met vriende en musikante te werk vir wie ek soveel bewondering en respek het, maak my opgewonde en ek sien uit daarna om die eindresultaat met almal te deel,” sê Weco, wat sy plek as mede-voorsanger in KLANKGOLF gaan volstaan. “Om te toer is ’n lekker ervaring vir kunstenaars, wat die kans kry om hulle werk met nuwe mense te deel, asook gehore wat aan ’n nuwe tipe klank blootgestel word. Omdat ek weet hoe talentvol almal is wat by die projek betrokke is, was ek seker van wat die gehalte van dié produksie gaan wees en dis vir my ’n voorreg om daaraan te kan deelneem.”

Dié groep glo dat musiek ’n universele taal is, wat direk met die hart praat en daarom is die hooffokus juis om hierdie aspek in hulle eie werk weer te gee. Die treffende manier waarop hulle bestaande verwerkings aanpak, nuwe materiaal skep en verskillende klanke (elektriese kitaar, klavier, baskitaar, ritmekitaar en meer) soomloos kombineer, sal nie net ’n plesier wees vir elke oor wat daarna luister nie, maar ook ’n blywende indruk op musiekliefhebbers laat.

“Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” verklap Jopie, die meesterbrein agter die kitaar en baskitaar, oor wat gehore van hulle konserte kan verwag.

OOR DIE GROEPLEDE

CARLA VAN WIJK is in Vereeniging gebore, waar sy ook sover die meeste van haar lewe deurgebring het. Haar ma het haar op die ouderdom van agt gestuur vir klavierlesse, omdat sy nooit self as kind die geleentheid gehad het om dit te doen nie, en Carla was onmiddellik mal daaroor om die klank van stilte om te sit in pragtige geluide.

Alhoewel haar lesse onder die leiding van ’n gerespekteerde musiekonderwyser plaasgevind het, het dié student vinnig begin bevraagteken waar die reëls van musiek vandaan kom en hoekom sy dit presies moet speel soos ander mense. Dit is ook dan waar haar liefde vir liedjiesskryf gebore is en hoekom sy tot vandag toe nog musiek maak.

Sy was elf toe haar pa vir haar die basiese koorde (D, A en G) op die kitaar gewys het, waarna die internasionale treffer, When You Say Nothing at All, in 1999 haar geïnspireer het om behoorlik te leer speel (deur middel van die internet) en op dertien het sy haar eerste volwaardige liedjie geskryf. 

Na skool was die sanger vir drie jaar betrokke by RST Drie-Riviere Gemeente se kerkorkes en moes sy vinnig leer hoe om dromme en baskitaar, as plaasvervanger, te speel waar nodig.

’n Klavier-oudisie by Duck Chowles, mede-eienaar van die nasionale Barnyard-teatergroep en Shaky Russell Productions, het vir haar die geleentheid gebied om deel te wees van Shaky Russell se Simply the Best-produksie wat by die Oosrandse Boma-teater opgevoer is. Weens gesondheidsredes moes Carla ongelukkig uit dié vertoning onttrek, wat haar laat bevraagteken het of ’n musiekloopbaan werklik vir haar beskore is. Dit kon egter nie haar voorliefde vir liedjiesskryf stuit nie, en tussen die ouderdom van een-en-twintig en ses-en-twintig, het ongeveer 200 oorspronklike werke uit haar pen gevloei.


Nadat ’n goeie vriendin haar gedruk het om in 2018 aan die Local is Lekka-projek by Barnyard Vereeniging deel te neem, is sy deur Maxus Music Company genader om vir haar lewendig optredes te reël. Dit was die begin van ’n hele rits suksesvolle optredes, waarmee sy nie net naam gemaak het vir haarself nie, maar ook paaie gekruis het met Weco, Jopie en Janes (wat ook by haar laaste drie vertonings vir haar baskitaar begin speel het). 

Alhoewel sy al baie tyd in Johannesburg en Kaapstad spandeer het, het sy verlief geraak op die kleindorpiemense van Vereeniging wat sy nog altyd sien as die mees opregte en ordentlikste mense in die wêreld. “Net omdat jy van ’n klein dorpie af kom, beteken dit nie jy hoef ’n kleindorpiementaliteit te hê nie.” Haar liefde vir eg wees en ordentlikheid is iets wat sy baie graag in musiek en haar optredes wil weergee, omdat sy voel dat daar ’n tekort is daaraan in die internasionale musiekbedryf.

Voorsanger, liedjieskrywer, ritmekitaar- en klavierspeler van die groep Victor Bravo, WECO VAN BASTEN, kom uit ’n musikale familie wat gereeld saamkuier om die braaivleisvuur met ’n kitaar in die hand en ’n liedjie om te deel. Die oud-Sasolburger het van kleins af musieklesse geneem, in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan al wat kunswedstryd en konsert is. Gedurende die laaste twee jaar van sy laerskoolloopbaan, was hy ook lid van die Drakensberg Seunskoor.

Omdat hy nog altyd passievol was daaroor om mense te vermaak en die stories in sy hart op papier te deel, is hy na skool Amerika toe om Drama en Engelse Kreatiewe Skryfkuns te studeer. In hierdie tyd, was hy deel van die akoestiese groep, Victim, wat gereeld in en rondom Houston opgetree het. Die finale twee jaar van sy Taalstudies, is by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi, waar hy ook sy vrou ontmoet het.

Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, sonder hy kunstenaars R.E.M., Cat Stevens, Sarah McLachlan, Eric Clapton, Ted Hawkins, Karen Zoid, Klopjag, Eminem, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, 2nd Life en Jo Black uit as musikante wat, vir verskeie redes, sy eie styl tot dusver beïnvloed het.

Hy verklap verder dat enigiets hom kan inspireer om ’n liedjie te skryf op die regte oomblik. “Alledaagse dinge, soos koudkry, braaivleis en vriende, gee my soms idees vir lirieke. Maar dis die rou menslike oomblikke, daardie hartverskeurende mooi insidente waar die menslike weerloosheid naak lê vir almal om te sien, wat my die meeste tref… en dan moet ek skryf.”

Buiten vir Victor Bravo se twee oorspronklike liedjies – Breakway Line (wat op verskeie radiostasies speeltyd geniet en vir elf weke nommer een was op die Springbok Top 20) en Skemer – is hy ook die skrywer van die trap-kunstenaar, BOON, se tweede enkelsnit, Boontasties.

JOPIE PIENAAR, hoofkitaarspeler en sanger van Victor Bravo, is ’n passievolle musikant met ’n natuurlike talent om van die kitaar een van die hoofrolspelers in enige musiekproduksie te maak. 

Musiek was nog altyd deel van sy lewe en iets wat hom kon laat goed voel in enige fase of situasie waarin hy homself bevind het. Nadat hy op die ouderdom van veertien sy eerste rockkonsert (Straatligkinders) bygewoon het, het hy ’n kitaar aangeskaf en homself leer speel.

Op hoërskool was hy deel van die band, Mad About You, en was hy ook betrokke by verskeie musiekprojekte by die skool en kerk. Dit is egter die tye, rondom die braaivleisvuur saam met Weco, wat vir hom uitstaan en wat hy beskou as die amptelike ontstaan van Victor Bravo.

Wanneer hy nie besig met optredes nie, is hy ook ’n fiksheidsinstrukteur by CrossFit Razmig en werk hy daaraan om sy eie talent en selfvertroue as sanger en liedjieskrywer verder te ontwikkel.

Buiten vir sy groot liefde vir Bluesmusiek, meen hy dat groepe soos Blink 182, Fokofpolisiekar, Dire Straits, Pink Floyd, Lynyrd Skynyrd en Kings of Leon die grootste invloed op sy kitaarstyl gehad het.

“Tans luister ek na Spoegwolf. Hulle manier van skryf en hoe hulle musiek opbou en vloei, is baie goed. Ek hou ook van Rainbow Kitten Surprise se vreemde styl, metafore en die hoofsanger se stem,” vertel hy.

Jopie was ook te sien in die hoofrol van Victor Bravo se musiekvideo wat tans op kykNET NOU! te sien is.

KLANKGOLF kombineer ’n hele rits oorspronklike werke (deur Carla en Victor Bravo), asook ’n wye verskeidenheid bekende kuiermusiek wat beloof om enige gehoor en oor tevrede te stel.

Die toer vind plaas vanaf 6 tot 12 November 2019 en sluit vertonings in by:

*Outsiders B&B, Nieu-Bethesda – 6 November 2019 – 19h00 tot 23h00

*La Dolce Vita, Oudtshoorn – 7 November 2019 – 20h00 tot 23h00

*Locals Pub & Grill, Grootbrak – 8 November 2019 – 18h30 tot 22h00

*Caspita Mediterranean Restuarant, George – 10 November 2019 – 12h00 tot 15h30

Die res van die plekke moet nog bevestig word, maar bespreek nou jou tafel om teleurstelling te voorkom!

Daar sal ook ’n proef-/ openingskonsert wees hierdie Sondag (27 Oktober) by Cow & Bull in Drie-Riviere, Vereeniging vanaf 13h00.

Sonder borge, sal so ’n toer natuurlik nie moontlik wees nie. Ons wil graag dankie sê vir:

Phakisa Holdings, Lindsay Saker Vereeniging en Clouds End Guest House & Spa asook Tradeworx197 wat ons droom ondersteun.


Tradeworx 197 is a majority woman-owned organization specializing in the Construction industry. Our services include:

All aspects of road construction
Civil construction work
EarthWorks
Asbestos Removal
Concrete Works
Maintenance

Vir meer inligting oor ons borge besoek : Tradeworw197 by http://www.tw197.co.za/about-us.html

Phakisa Holdings : https://www.phakisaholdings.co.za/

Linsay Saker Vereeniging : https://www.lindsaysaker.co.za/vereeniging

Clouds End Guest House & Spa: http://www.apexcom.co.za/

BESPREKINGS

Annelien van Basten

Sel: 082 863 6817

E-pos: klankgolf@gmail.com

TOERBESONDERHEDE

Facebook: @Klankgolf

Instagram: @klankgolf_musiek

Klankgolf Team I 082 863 6817 I klankgolf@gmail.com

Facebook: @klankgolf I Instagram: @klankgolf_musiek

Related posts