Wilhelm Lichtenberg – Taal van my hart

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Die hart is die orgaan wat bloed deur ons are pomp, wat die suurstof neem na elke sel in ons liggaam. ‘n Orgaan waarsonder lewe onmoontlik is. Die hart is nie net fisiek ‘n noodsaaklikheid nie, maar kan ook metafories ‘gebreek’ word deur die liefde. Wanneer die hart fisiek probleme gee, het jy ‘n chirurg nodig en wanneer emosies hom breek, woorde van genesing deur middel van ‘n liedjie, ‘n skrywer of ‘n sanger. En hier kom twee wêrelde bymekaar wanneer ‘n hartchirurg nie net elke kamer van die hart ken nie, maar ook daaroor kan sing!

Wilhelm Lichtenberg is ‘n Kardiotorakale Chirurg in sy privaatpraktyk in Kaapstad. Dié gebore Vrystater het sy MBChB in Geneeskunde behaal aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna gradueer hy in 2006 met ‘n meestersgraad in Kardiotorakschirurgie vanuit die Christiaan Barnard Departement aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het ook onlangs ‘n nagraadse sertifikaat in Regsgeneeskunde aan dieselfde universiteit behaal.

Sy vader ‘n gesiene lid was van die regbank en ‘n beskermheer van die kunste, het hom van ‘n vroeë ouderdom aangemoedig om ook met sy musiektalent te woeker. Hy het tydens sy studentejare trompet in die Vrystaatse Jeug- en SUKOVS-somfonieorkes gespeel. In Kaapstad het hy vyf jaar gelede met sanglesse begin by die befaamde mezzosopraan Violina Anguelov.

Hierdie talentvolle chirurg het tyd in sy besige skedule, waar hy mense se harte genees, ingeruim om kragte saam te snoer met die internasionaal bekroonde sanger en liedjieskrywer, Stef Bos om ‘n nuwe verwerking van TAAL VAN MY HART op te neem. Dié lied is enkele jare gelede deur Stef Bos self opgeneem, maar hierdie aangrypende nuwe verwerking deur Riaan Steyn gee ‘n unieke gestalte aan ‘n lied wat klop met passie, deernis, eerlikheid en selfondersoek. Hier kom twee wêrelde bymekaar. Twee aparte genres, een ‘n man met ‘n rasperstem en vlaamse aksent, die ander ‘n glashelder, suiwer, klassieke tenoorstem ontmoet en verenig, naatloos verweef met elegante klassieke strykersbegeleiding en die besielende klanke van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugkoor. Die eindproduk laat die musikale bloed nog beter vloei, en laat die genesende harmonie vand die musiek in jou hart insypel.

As jy na die passie in sy stem luister, hoor jy ‘n man wat die hart ken van alle kante. Dr. Wilhelm kan nie net jou hart se probleme oplos nie, maar hom ook aanraak met sy suiwer stem wat vloei en sweef soos die selle in jou are.

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Related posts