Antonio Banderas is puik in die nuwe Pedro Almodóvar rolprent, Pain & Glory!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Genre: Drama 

Directed by: Pedro Almodóvar 

Starring: Antonio Banderas, Asier Etxeandia, Leonardo Sbaraglia, Penélope Cruz.                                 

Running Time: 124 mins

Film rating: 16 D L N

Die nuwe Pedro Almodóvar rolprent, PAIN AND GLORY,  is ’n studie van aanvaarding, openbaring en versoening; dit gaan oor flieks se verhouding met die verlede en die krag wat dit het om herinneringe te herskep en aanvaarding te bewerkstellig. Dié prent is ook Spanje se amptelike Oscar-inskrywing vir die Buitelandse Rolprent-afdeling en het reeds twee toekennings ingepalm by die Cannes-filmfees vir Best Akteur (Antonio Banderas) en Beste Komponis (Alberto Iglesias).  Die Oscar nominasies word op 13 Januaraie 2020 bekendgemaak en die amptelike Oscar geleentheid vind plaas op 9 Februarie 2020.

Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=pEjFOkCKb3g

Photo credit Manolo Pavón

Antonio Banderas lewer puik toneelspel as die regisseur en rolprentlegende, Salvador Mallo, en is ook regdeur die fliek te sien in Almodóvar se kleurvolle hemde en skoene. Die akteur, met ’n bos hare en baard wat plek-plek grys word, groei en krimp saam met die storielyn en vang dus die karakter se sterk- en swakpunte perfek vas.

Salvador ly aan verskeie kwale wat op die ou einde veroorsaak dat hy nie meer films kan maak nie. Fisiese en emosionele pyn, veroorsaak dat hy in ’n siklus van depressie verval. “Ek ken die vrees daarvan om nie in staat te wees om flieks te maak nie baie goed en kan daarmee vergelyk,” verduidelik Almodóvar vanuit ’n persoonlike perspektief.

’n Toevallige ontmoeting, plaas hom in kontak met een van sy oud-kollegas, Alberto (Asier Etxeandia), wat van hom vervreem geraak het as gevolg van sy dwelmverslawing. Alberto het nog nie volkome van sy verslawing genees nie, maar Salvador se risiko om in verslawing te verval is baie hoër as syne. Hulle nuutgevonde vriendskap word getoets nadat hulle bedwelm by die voorskou van een van hulle ou rolprente opdaag, met katastrofiese en skreeusnaakse gevolge.

Nadat hy ’n persoonlike monoloog op Salvador se skootrekenaar sien, oortuig Alberto vir Salvador om hom toe te laat om dit op te voer as ’n eenman-vertoning. Salvador stem in, op voorwaarde dat hy nie as skrywer gelys word nie. Hierdie eenvoudige aksie, het ’n reeks gebeure tot gevolg wat lei tot ’n merkwaardige en baie teer herontmoeting.

PAIN AND GLORY het twee storielyne: Die huidige, waarin Salvador en Alberto hulle vriendskap hervat en hy verslaaf raak aan heroïene, pynmedikasie en alkohol, wat hom dieper-en-dieper in ’n wêreld van herinneringe laat verval – waaruit die tweede storielyn voortspruit.

Die terugflitse onthul geleidelik hoe Salvador en sy ma, Jacinta (Penelope Cruz), tydens sy kinderjare in ’n armoedige grotagtige huisie gebly het. Julieta Serrano, wat ’n puik vertolking lewer as sy ma in haar 80’s, verklap in ’n helder oomblik dat hy nooit ’n goeie seun was nie.

PAIN AND GLORY word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 6 Desember 2019, maar geesdriftige ondersteuners van Almodóvar se werk kan reeds die film by die Europese Filmfees gaan kyk wat sal plaasvind by die volgende Ster Kinekor Teaters vanaf 30 November tot 4 Desember 2019:

RESENSIE – LEON VAN NIEROP

PAIN AND GLORY

Wat gebeur as ‘n seun, wat onbewus is van sy seksualiteit, op ‘n ontvanklike ouderdom besef wat begeerte is? Die ervaring is so intens, dat die kind sy bewussyn verloor van skone baldadige verwondering. Hierdie bewuswording en self-ontdekking oorweldig die gehoor.

Berei jou voor op ‘n fees van die oë. Nie noodwendig ooglekkergoed nie, maar ‘n stimulasie van die sintuie. Dié flambojante bossiekop-rolprentmaker hou van helder kleure. Lakens was nog nooit so engel-wit en vol herinneringe nie. En ‘n kralegordyn lyk soos ‘n rolprent-reënboog.

Rooi is nog een van Almodóvar se gunsteling-kleure. Hy onthou veral in rooi hoe ‘n ontluikende filmmaker ‘n medium ontdek het wat suurstof aan sy siel bied en hom laat verstaan het dat film lewe is. Dit definieer wie hy is en praat ‘n kragtige taal. In plaas van ‘n kwas, verf hy nou met beelde.

Al klink dit dalk baie geleerd en hoogdrawend, is dit nie die geval nie. Pain and Glory is een van Almodóvar se mees toeganklike en vermaaklike films.

Hy besin oor ‘n rolprentmaker, (dalk hy self?), knap onderspeel deur Antonio Banderas, wat na 32 jaar vrede maak met ‘n dwelmverslaafde akteur, gespeel deur Asier Etxeandia.  Salvador probeer Alberto (Etxeandia) oorhaal om hul gerestoureerde rolprent voor ‘n gehoor aan te bied.  Maar twee vulkane bots en herinneringe spoel soos water oor humeure.

Water is ‘n sentrale motief wat die gedagtestroomtegniek verteenwoordig. Tonele speel af wanneer hulle nodig is, nie soos ‘n draaiboekstruktuur vereis nie.

Salvador se grootste probleem is om vrede te maak met sy ma (Penelope Cruz) wat nooit gepraat het oor haar seun se seksualiteit nie. Sy spreek dit aan voordat sy stilweg na die anderkant oorstap in een van die mees aandoenlike tonele wat nog op film verewig is. Ander temas soos politieke onderdrukking onder Generaal Franco, sosiale probleme, kuns wat emosies uitbeeld en die hantering van fisieke en innerlike pyn, word ook aangespreek.

Die doel van pyn – dus die verstaan van jouself deur jou emosies in film te verwerk, vorm nog een van die temas in hierdie aandoenlike, verbluffende kommentaar op die krag van film en huldeblyk aan menswees.  *****    5/5

Leon van Nierop

Rolprent vertoon op die datums:

JHB (SKT Rosebank Nouveau):

30 Nov at 20:45

4 Dec at 20:15

PTA ( SKT Brooklyn Nouveau)

1 Dec at 18:15

4 Dec at 20:00

CPT (SKT V&A Nouveau)

30 Nov at 20:15

4 Dec at 20:00

PAIN AND GLORY  is Pedro Almodóvar se beste en mees persoonlike werk tot op datum.  Dit is verhaal van herinneringe, spyt en aanvaarding enlaat die lyne tussen kuns en lewe vervaag.  Dit is ’n mengsel tussen outobiografiese inligting en fiksie, met ’n kragtige effek. Soos die titel verklap, is die eindresultaat ’n warrelwind van hartseer en vreugde, wat kykers – van begin tot einde – sal boei.

PAIN AND GLORY WYS IN DIE VOLGENDE TEATERS VANAF 6 DESEMBER 2019:

STER KINEKOR:

Rosebank Nouveau

Boorklyn Nouveau

V&A Nouveau

NU METRO

Hyde Park

V&A Waterfront

INDEPENDENT

Labia Orange St.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook: @PainAndGloryMovie

Twitter: #DolorYGloria

Instagram: @dolorygloriait

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

www.starburstmusic.co.za

STARBURST PROMOTIONS
Jacques Perie – ADMINISTRATION

Related posts