KERSFEES SKOUSPEL VANJAAR IN PRETORIA EN KAAPSTAD

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Grand Arena, GrandWest, Jakes gerwel-rylaan 1, Goodwood, Kaapstad | Saterdag, 14 Desember 2019 @ 20:00

Sun Arena @ Time Square, Menlyn Maine, Aramistlaan 209, Menlyn, Pretoria | Maandag, 16 Desember 2019 @ 15:00

met spesiale gaskunstenaar Leo Sayer

en Alwyn Oberholster | Granville Michaels | Jak de Priester | Joshua na die Reën | Mathys Roets | Monique | Nianell | Pieter Smith | Scott Engelbrecht | Steffie le Roux | Taschè

Musikale regisseur: Jaconell Mouton | Regisseur: Frans Swart

Besprekings: Computicket by 0861 915 8000 of www.computicket.com

Groepe van 10 of meer teen afslag: Skakel 011 815 3000 of e-pos admin@lefra.com

Meer inligting by: www.lefra.com

Lefra Produksies kondig met trots aan dat vanjaar se Kersfees Skouspel by die Grand Arena van GrandWest in Kaapstad op Saterag, 14 Desember om 20:00 aangebied word, en daarna terugkeer na die Sun Arena, Time Square in Pretoria op Maandag, 16 Desember om 15:00.  Meer as 15 top kunstenaars gaan in hierdie produksie optree en dit gaan ‘n wonderlike Kerskonsert wees in die ware Boney M-styl van Kerskonserte.  Noot vir Noot se Jaconell Mouton is weereens die regisseur en Frans Swart, wat bekend is as regisseur van al die skreeunsnaakse klugte soos My Oom se Vrou se Plekkie is die regisseur met ‘n volle orkes.  Besprekings kan gedoen word by Computicket 0861 915 8000 of aanlyn by: www.computicket.com.  Groepe van meer as 10 kry ‘n lekker afslag – skakel Monica by (011) 815 3000 of epos aan admin@lefra.com  Maatskappye kan ook losies vir hulle gaste of personeel koop – skakel Charl by (011) 815 3000 of eops aan charl@lefra.com   Lees meer by www.kersfeesskouspel.co.za   Kersfees Skouspel word aangebied met die vriendelike samewerking van Renegades Removals, RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren-wyne, Ambassador Executive  en WS Pianos.

Kersfees Skouspel spog vanjaar met die room van Suid-Afrikaanse sangers en teatergangers gaan ‘n fees van talent sien en hoor, met Alwyn Oberholster, Granville Michaels, Jak De Priester, Joshua Na Die Reën, Mathys Roets, Monique,  Nianell, Pieter Smith, Scott Engelbrecht, Steffie Le Roux en Taschè op die verhoog.  Lefra het ook so pas aangekondig dat die wêreldbekende Leo Sayer Suid-Afrika toe kom in Desember om as internasionale gaskunstenaar op te tree in vanjaar se Kersfees Skouspel-konserte.

Leo Sayer het werklik geen bekendstelling nodig.  Hy het in sy 40 jaar-loopbaan die wêreld deurkruis! Van die Olimpiese Stadion in Moskou deur na Central Park in New York, die Las Vegas Hilton, Wembley Arena tot by die Royal Albert Hall in Londen.  Hy het saam met die baie bekende Muppets en The Wiggles opgetree.  Omtrent elke liedjie wat Leo opgeneem het, was ‘n groot treffer.  Om maar net ‘n paar te noem: When I Need You, Can’t Stop Loving You, More Than I Can Say, One Man Band en die immergewilde dansliedjie, You Make Me Feel Like Dancing.  Leo skryf die meeste van sy liedjies self en het ook vir heelwat ander kunstenaars geskryf soos Tina Turner, Dolly Parton, Jennifer Warnes en Gene Pitney.  So saam met sy eie besige skedule het hy ook onder andere Cliff Richard se massiewe treffer, Dreamin geskryf.  Die besige Leo Sayer het ook so pas weer ‘n nuwe album op die rak met die titelsnit, Selfie!

Alwyn Oberholster is ‘n gunsteling in die Afrikaanse musiekbedryf.  Alwyn se passie vir musiek kom al van jonk af en het in ‘n huis vol musikante groot geword.  Alwyn is al veertien jaar lank in die bedryf en is gewild onder sy aanhangers.  Sy Afrikaanse album “Maak of Breek” doen tans baie goed, maar Alwyn is ook gewild en bekend onder gehore vir sy briljante vertolking van die ouer treffers deur name soos Billy Joel, Neil Diamond, Allen Jackson, die Staccatos, die Bee Gees en vele meer.  Alwyn het in 2015 die voorprogram gedoen met die Vengaboys se toer deur Suid-Afrika.  Alwyn is ook ‘n jaarlikse instelling op die Oppiwater Kunstefees, en het daar opgetree met produksies soos Beautiful Noise – A Tribute To Neil Diamond en Soen My, Druk My.  Na sy suksesvolle Goue Oues in 2017 en Goue Oues 2 tydens verlede jaar se Oppiwater, is Alwyn terug met nuwe “goue oues” in Goue Oues 3 by die Oppiwater Kunstefees 2020.

Granville Michaels het dalk in die stowwerige strate van Grassy Park groot geword, maar sy musiek het om al na die grootste verhoeë in die land geneem, en is sy wonderlike talent ook vanjaar op die Kersfees Skouspel-verhoog te siene.  Granville is die jongste van ses kinders en reeds van jonks af het musiek ‘n groot invloed op sy lewe gehad.  “My oorlede pa, Isak, het ‘n ongelooflike stem gehad en was gereeld besig om sy vriende in ons tuin te vermaak,” sê Granville.  “Terwyl my pa gesing het, dink ek dat die evangelieklanke die werklike groot invloed destyds was.  Ek was ‘n groot aanhanger van die REAL Sisters saam met wie ek later getoer het.  Ek was was veral betrokke by ‘n klomp jazz-orkeste en daar was soveel groepe in Kaapstad, maar my gunsteling was Jonathan Butler s’n.  Ek het die kans gekry om saam met hom op te tree by die destydse Nico Malan in 1996.”  Gedurende die 90s was hy lid van die evangeliegroep Enco’Rage voordat hy met sy sololoopbaan begin het, en uiteindelik die prys vir die Beste Manlike Kunstenaar tydens die Hope SA-toekennings in 1997 gewen het.  “Dit was opwindende tye vir my,” sê hy. “Enco’Rage het in 1995 Johannesburg toe gekom vir TV-opnames, en Granville het besluit om Johannebsurg toe te verhuis, en het daarna vir ‘n klompie jare vir die Barnyard-teaters opgetree, voordat hy sy eie paadjie as vryskutmusikant begin volg het.

Jak de Priester, wat in Parys in die Vrystaat grootgeword het, is al van kleins af doenig met musiek, die verhoog en liedjiesskryf. Sy loopbaan het in 2003 afgeskop, nadat hy die ATKV-Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album, getiteld Sally Williams Nougat, op te neem wat ’n groot treffer met dieselfde naam opgelewer het.  Jak het in 2017 sy vyftende jaar in die musiekbedryf gevier met ‘n CD wat heel gepas 15 jaar heet.  Sy volgende album verskyn in Februarie volgende jaar en gaan Oppiwater-feesgangers die geleentheid kry om saam met Jak die nuwe vrystelling te geniet in die vertoning My Suikerste Bossie

Joshua na die Reën behandel uiteenlopende temas in sy musiek – van vrolike tot introspektiewe. Die liriese inhoud van sy musiek is gebaseer op persoonlike ervarings en is ten alle tye eerlik, onpretensieus en outentiek.  Joshua na die Reën se agtergrond as uitvoerende kunstenaar tel in sy guns wanneer hy die ateljee betree. ‘n Mens hoor deesdae selde ‘n snit op radio wat nie gemanipuleer is deur middel van tegnologiese kulkunsies nie. Teenstrydig met hierdie tendens voel Joshua na die Reën gemaklik om agter die klavier in te skuif en ‘n liedjie vas te vang met slegs een opname. Dit laat hom toe om die volronde, organiese klank van die verhoog af deur te trek en vas te vang in die ateljee.

Mathys Roets het sy musiekloopbaan in 1989 begin toe hy met sy kitaar in die hand, in ‘n winkelsentrum in Pretoria, vir fooitjies gesing het. In 1996 maak hy ‘n belangrike deurbraak met sy debuutproduksie op die KKNK. In hierdie vertoning, Nokturne, sing hy die musiek van Koos du Plessis. Die musiek van Koos du Plessis het Mathys, met sy donker fluweelstem, soos ’n handskoen gepas. Deur sy loopbaan het Mathys bekendheid verwerf vir sy sielvolle vertolkings van die wêreld se mooiste ballades, veral die musiek van Leonard Cohen, Roger Whittaker en Neil Diamond. Die pad wat hy gestap het, was nie maklik nie. Hy het harde bene gekou, self luidsprekers rondgedra en van restaurant na restaurant gegaan om daar te sing, maar toe hy uiteindelik raakgesien word, het dinge behoorlik vir hom vlam gevat.

“Ek is die tipiese girl-next-door, wat jy sien is wat jy kry”, sê die sjarmante Monique.  “Ek het n sagte plek vir diere en ek hoop in my geselskap voel jy altyd goed oor jouself.  My gawe in die lewe is onvoorwaardelike liefde en ek glo dat mens elke dag iets nuuts kan leer en altyd maar altyd dankbaar en gegrond moet lewe.  Ek sal sing tot ek nie meer kan nie en dan sal maar fluit!  Ek hoop julle geniet die musiek wat ek maak, dit kom uit my hart uit en van ‘n baie eerlike plek af.”  Sy het harte gesteel met haar goue album Ek Val Vir Jou en spog met onder andere n MK-, Ghoema- en sommer twee Tempo-toekennings. Daarna volg haar tweede solo album Pienk Champagne en platinumverkope in die groep 4Werke.  Haar nuuste solo album Mosaïek is sedert 2017 beskikbaar en haar beste nog!  Dit sluit die radio treffer Hartseer in, asook haar nuutste enkelsnit, Die Boom.

Hoor jy die naam Nianell, weet jy presies wie die formidabele diva is van wie daar gepraat word!  Sedert haar treffer Who Painted the Moon Black in 2002, tot nou toe, het Sonia Nel die land betower met haar suiwer stem.  Nianell se optredes is deesdae, uit keuse, baie minder as voorheen.  Haar drieling is vanjaar 12-jaar oud, en sê sy dat sy haar grootste lewenslesse by die drie geleer het.  Sy het pas haar tweede boek Life Simplified bekendgestel, waarin sy praat oor hoe om jou selfwaarde te besef.  Sy het die afgelope paar jaar wegbeweeg van die hoofstroom-vermaakbedryf, en eerder haar musiektalent gebruik om mense te help met genesing.  “Die ding wat my die gelukkigste maak in die hele wêreld, is om mense te leer hoe om hulleself te vind.  Ek is lief vir sing, maar dit gee my nie naastenby soveel vreugde soos om mense oor hierdie goed te leer nie”, sê sy.

Pieter Smith is ‘n ou bekende op die Afrikaanse musiekgebied.  Hy het kitaar begin speel toe hy 4 jaar oud was en vanaf sewejarige ouderdom professionele afrigting ontvang. In 1993 het Pieter sy skoolloopbaan voltooi aan die Hoërskool Gimnasium, waar hy deel gevorm het van verskeie Rock Bands.  Vandat hy agtien jaar oud is, tree hy professioneel op. Na skool het hy sy tersiêre opleiding in Musiek- en Musiekonderwys voltooi waarna hy as gekwalifiseerde musiekonderwyser by die Laerskool Queenswood afrigting gegee het in kitaar, koor en revue.  Pieter is een van ‘n handjievol kunstenaars wat self sy lirieke skryf en toonset. Boonop is hy die vervaardiger van al sy CD’s – wat iets verklap oor sy musikale talent asook sy verbasend wye musiekkennis.

Scott Engelbrecht is gebore op die 31ste Desember 2008 en is die tweede oudste van vier seuns.  Scott was nog altyd ‘n musikale kind wat, selfs as ‘n kleuter dikwels voor die klavier gesit en sy eie liedjies met oorgawe gesing het.  Op sesjarige ouderdom het Scott sy opera stem ontdek nadat hy saam met sy gesin die Paul Potts-fliek gekyk het.  Hy het sy bes probeer om Nessun Dorma soos Paul Potts, wat bekendheid verwerf het op Brittan’s Got Talent, te sing.  Met opgemaakte woorde het hy al die kuiergaste, vriende en familie vermaak.  Scott begin kort hierna opleiding ontvang onder Yulia Patrascoiu, ‘n Russiese operasangeres.  Sy rig Scott af vir die afgelope amper drie jaar af en hy het nou ‘n wye klassieke opera repertoire van Italiaanse, Latynse en Russies liedjies.  Scott sing ook Engels en Afrikaans liedjies en sy huidige gunstelinge is Hier is ‘n Mens deur Gè Korsten, en was hy ook deel van die onlangse Gè Sing: Hoor My Lied!-konsertreekse. Alhoewel Scott net 10 jaar oud,  is sy sangvermoë en lewendige optredes uitstekend en ver bo sy ouderdom.

‘n Dinamiese, pret, positiewe, energieke en passievolle kunstenaar – dis wie Steffie le Roux is.  Die oopkop, kreatiewe karakter met haar goeie sin vir humor, sal enige uitdaging of geleentheid met groot ywer aanpak.  Steffie was gebore en het grootgeword in die Klein Karoo, waar die wye, oop vlaktes en gretige plaaslike gehoor haar eerste ondervinding as ‘n kunstenaar en aktrise gebrei en gevorm het. Principia College het die fondasie vir Drama, Musiek en Kuns gelê in Stephanie se lewe. Groot rolle in verskeie produksies, onder leiding van mnr. Ronald Burton, het haar geïnspireer om na skool, musiek te studeer by die Universiteit van Potchefstroom.  Sy tree verskeie kere op in plaaslike produksies soos Little Shop of Horrors, Iolanthe, Animal Farm, Annie en Sound of Music, onder leiding van Ronald Burton. Sy besluit om musiek te swot by Noordwes Universiteit, waar sy haar graad in Musiek ontvang. By die universiteit het sy ook deel uitgemaak van die Alabama-studentegroep, wat die land deur getoer het. Sy was ook deel van die vroulike a capella groep, Cutt Glass.

Die 19-jarige Tasché het geskiedenis gemaak deur die jongste en eerste vrou te word wat The Voice SA gewen het.  Die deeltydse kelnerin van Brackenfell, was gedurende die kompetisie die gunsteling.  Tasché sing al van kleintyd af, en nadat sy verlede jaar gematrikuleer het, het sy sanglesse begin neem en professioneel begin optree.  Sy was onlangs ‘n groot treffer by die huldigingskonserte oor Gè Korsten, Gè Ding: Hoor My Lied!  Sy het onder andere staande toejuigings ontvang vir haar vertolking van Frans Swart en Chanie Jonker se Gè Sing, ‘n liedjie vir Gè Korsten.

Regisseur, Frans Swart sê hy is baie opgewonde oor die sterk span sangers en musikante wat in Kersfees Skouspel gaan optree.  “Deur die jare was Kersfees Skouspel nog altyd ‘n skouspel van klank, kleur, kostuums, musiek, sang en beslis ‘n skouspel van Kersmusiek.  Kersfees is so ‘n wonderlike tyd met die viering van Jesus se geboorte en dit is so ‘n voorreg om hierdie produksie net voor Kersfees aan te bied.  Ons nooi al ons mense uit om Kersfees te kom vier met die wonderlikste kunstenaars en die mooiste Kersmusiek wat nog ooit geskryf is. 

Jaconell Mouton, Musikale Regisseur, sê dit is elke jaar vir haar so opwindend om aan Kersfees Skouspel te werk.  “Elke jaar het ons nuwe kunstenaars wat ‘n totale nuwe dinamika na die produksie toe bring.  Kunstenaars sing duette saam, daar is lekker groep liedjies en ek wil nie te veel uitlap nie, maar toeskouers is in vir ‘n hele paar verrassings!”

Bespreek onmiddellik by Computicket 08619158000 of www.computicket.com.  Groepe meer as 10 teen afslag – skakel Monica by (011) 815 3000 of epos aan admin@lefra.com

UITGEREIK DEUR:

MEER INLIGTING/ONDERHOUDE/KOMPETISIES:

CHARL SENEKAL | BEMARKINGSBESTUURDER

TEL: (011) 815- 3000 | SEL: 061 616-6138 | E-POS: admin@lefra.com

Related posts