Stefaans Burden – Karoo Spoor

 Wanneer jy net dink daar’s ‘n droogte in die musiekbedryf, kom sak daar ‘n sagte bui reën uit en voed ons siele. Dan bring iemand ‘n album uit wat swoel en vreugde bring; nes regte genadewater uit God se hemelruim op ons neerdaal en mens en dier voed.

Stefaans Burden is ‘n Predikant by die Worcester-Vallei gemeente, maar sy wortels lê diep begrawe in die Klein-Karoo, net duskant Oudtshoorn. Hy’t as kaalvoetkind grootgeword op ‘n plekkie met die naam, Volmoed. Wel, as jy nog nie van Volmoed gehoor het, kom ons gebruik dan maar die woordspeling en sê dat KAROO SPOOR jou gemoed gaan vol maak.

‘n Album gevul met liedjies, almal uit en oor die Karoo. Dis ‘n nostalgiese album wat ‘n liedjie het oor elke deel, liefde, moed, reën, verlange, ens. na die Karoo. Nie net gaan Karookinders gaande wees oor hierdie album nie, maar die bietjie wat jy van die Karoo weet, gaan jou laat smag na meer van sy vertes tot in die niet.

Om hierdie album nog meer interessant te maak, is daar drie voorlesings deur die immergewilde Amanda Strydom. ‘n Album van hoë gehalte; veral as jy sien wie betrokke was by die produksie. ‘n Riaan Steyn produksie met Mauritz Lotz op kitaar. Renate Riedemann as violis en tjellis was Dane Coetzee.

Stefaans het alreeds 4 ander albums die lig laat sien, waarvan 1 ’n  kinderalbum is, maar hier het hy tussen sy besige skedule as Predikant met sy uitdagings om siele te voed op ’n geestelike vlak, vir ons ’n musiekalbum geskep wat nostalgie gaan bring en jou siel op ’n ander vlak gaan voed.

Hierdie is beslis ’n versamelaarsalbum vir almal wat iemand ken in die Karoo, self daar groot geword het of ’n familielid daar het.

As jy nog nie die son sien sak het oor die Swartberge of die reën geruik het wat pas begin dans het in ‘n droë stofpad nie, dan gaan hierdie album jou ver wegvoer na ’n deel van ons land waaroor heeltemal te min gesing word.

Maak jou hart oop en laat Stefaans jou die pad na jou eie hart wys en dalk op ’n spoor sit wat jy nog op jou ‘bucket list’ gaan wil voeg.

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →