Eers moes ons nege maande wag vir die koms van hierdie sprankelende Vrystaat-meisie (Zastron) met die naam, Marli. Nét om weer nege maande later te hoor haar naam is verander na Heidi. Toe moes ons weer wag – vir tyd – tyd om Heidi te gee om as boeremeisie te speel, te groei en haar smeulende, eg Country-stem te ontwikkel. Toe is daar nog wag wat kom. Ons moes haar tyd gee om haar eerste album op te neem en haar voete te vind in die baie kompeterende Afrikaanse Musiekbedryf, maar met Vrystaatwater wat in haar are loop en haar borrelende, lewenslustige persoonlikheid, steel sy harte en haar debuutalbum, Wat ‘n hart laat lag, val dadelik op die Ghoema-tafel en kry ‘n benoeming as “Beste Pop-ablum deur ‘n Vroulike Kunstenaar”!
Toe is daar nog ‘n gewag…want ‘n toekenning en debuutalbum beteken nie noodwendig jy het dit nou gemaak nie, maar weer leef Heidi haar droom en passie en laat skryf sy, deur die befaamde Johan Oberholzer, vir haar ‘n trefferlied getiteld; ‘n Hele week!
‘n Hele week gaan meer as net ‘n week boer op die treffersperades vir 2020. Behalwe vir die lig Country-styl in haar stem, weerspieël dit nie noodwendig die lied as ‘n Country lied nie. Dis modern en vars soos net Johan dit kan doen en ons glo dit gaan baie op die dansvloere gehoor word ook.
Behalwe vir aansteeklike melodië, is daar altyd diepte weggesteek, op ‘n ligte manier, in ‘n Hele week. Die liedjie is ‘n eg-liefdeslied wat oor tyd gaan. Twee mense wat uitsien na elke dag van die week. Wat wag vir elke geleentheid wat hul saam kan spandeer. Dis op ‘n speelse manier geskryf met elke dag van die week as ‘n saam-ding-doen tema wat eerstens maak dat hierdie lied aanklank gaan vind by elkeen wat weet wat die liefde aan ‘n mens kan doen, maar dit ook treffersmateriaal maak wat jy gaan onthou of herken as jy dit hoor.
Heidi se sprankelende persoonlikheid bars dwarsdeur haar uiterlike skoonheid. Sy het alles wat dit vat om een van ons land se nuwe name op almal se lippe te word.
Ons moes wag vir ‘n ster om gebore te word. En hier is sy met ‘n trefferlied wat die uitsien en opgewondenheid, en ook die gewag vir liefde lekker maak.
Die gewag is verby – Heidi is hier om te bly!
Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:
Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za