Dans onder die sterre by ikoniese Taalmonument Sterrekykpiekniek se fokus is op die skouspelagtige 47 Tucanae

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Kapenaars en besoekers kan in die nuwe jaar die skitterende sterrehemel – spesifiek die sterrebondel 47 Tucanae – van nader leer ken tydens ʼn somerpiekniek op Paarlberg op Saterdag, 18 Januarie 2020. Dit beloof om weereens ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ʼn goeie saak. 

Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die tema is ‘Dans onder die Sterre’, want die fokus is op 47 Tucanae, die tweede helderste sterrebondel wat pragtig in die suide sigbaar sal wees. Tucanae, vernoem na ʼn Suid-Amerikaanse voël, is 16 700 ligjare van die Aarde en bestaan uit minstens ʼn halfmiljoen sterre.

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Dit begin om 18:00, met ʼn begeleide toer van die monument om 18:30 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ʼn mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Dit sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning van dié projek te skenk. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word. 

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (wat in 45 jaar in 2020 vier), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Sterrekykpieknieks is op 22 Februarie en 21 Maart.

Related posts