Sharoney het beslis geen bekendstelling nodig in die Afrikaanse musiekbedryf nie. Oor die afgelope vyf jaar, het sy nie net diep in die harte van musiekliefhebbers kom kruip nie, maar ook twee Ghoema- en Huisgenoot Tempo-benoemde albums en sewe groot radiotreffers uitgereik.
Nóú is hierdie talentvolle ster, met haar borrelende verhoogpersoonlikheid en onblusbare energie, terug met die eerste enkelsnit en musiekvideo vanaf haar komende album wat beslis op elke musiekspeellys gaan koning kraai.
21 VIREWIG spog met ’n splinternuwe volwasse klank en is ’n unieke Pop-nommertjie, wat hemelsbreed verskil van dít waaraan aanhangers gewoond is. “Hierdie snit val lekker op die oor en is ’n saamsingtreffer, wat jou voete sal laat jeuk om te dans. Dit is daardie tipe liedjie wat jy orals sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym,” gesels sy oor dié langverwagte vrystelling.
Die liedjie, uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer, het ’n baie positiewe boodskap en gaan daaroor dat die menslike gees nooit werklik verouder nie. Dat jy spontaan moet leef en die beste moet maak van elke oomblik, want op die ou einde van die dag is jy net so oud soos wat jy voel.
“Ek onthou my een-en-twintigste so goed soos gister, want ek bestempel dit as die ouderdom waarop jy regtig ’n volwassene word. Dan is jy jonk genoeg om dié tyd van jou lewe te geniet, maar oud genoeg om die herinneringe vir altyd te koester. Soms wens ek dat ek net vir ’n dag die horlosie kon terugdraai om weer so te voel. Toe ek 21 VIREWIG vir die eerste keer hoor, het ek net geweet dit moet deel wees van my volgende album, want die tema is van toepassing op elkeen van ons… jonk en oud,” deel Sharoney wat baie opgewonde is om haar nuwe musiek met die wêreld te deel.
Fathom Media, saam met wie sy al ’n hele paar projekte aangepak het, was die kreatiewe brein agter die musiekvideo wat eersdaags op die kassie te sien sal wees. Dié video spog met ’n vars, moderne aanslag en wys vir kykers ’n hele nuwe kant van die sangeres. “Sharoney was nog altyd gewillig om nuwe dinge te probeer en ek glo dat hierdie ’n groot tree voorente gaan wees vir haar en haar loopbaan. Hierdie is net die begin,” sê Fathom Media se Jay Loots.
Volgens Sharoney was die doelwit van hierdie video om iets in Afrikaans te doen wat nog nie voorheen gesien is nie. Daarom het hulle besluit op ’n dansmusiekvideo wat voldoen aan internasionale standaarde. “Ons sien nie gereeld Afrikaanse musiekvideos wat maande se oefening, doelgemaakte kledingstukke en choreografie met ander dansers insluit nie, wat hierdie een dus baie uniek maak,” sê Jay.
Park Bench Studio was die perfekte plek om lewe te gee aan hierdie idee en Sharoney en haar vier dansers kwyt hulle skitterend van hulle taak om die kyker deel te maak van die prettige atmosfeer op die skerm. “Die enigste boodskap wat hierdie musiekvideo inhou, is om die lewe te geniet en volluit te leef. Om nie een oomblik terug te staan nie, kanse te vat en dapper te wees. Alles word natuurlik uitgebeeld met die gebruik van baie helder kleure en teksture,” verduidelik die kunstenaar.
21 VIREWIG volg op die musikant se vorige gewilde vrystelling, Crush, wat baie goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word. Die musiekvideo het reeds meer as 40 000 trefslae op YouTube gehad en is baie gewild onder die jongklomp.
Crush was die derde snit vanaf haar album, Skyn, wat in 2018 benoem is vir ’n Ghoema-toekenning vir Beste Popalbum Deur ’n Vroulike Kunstenaar. Die titelsnit het ook die nommer 1-posisie op Lekker FM se treffersparade beklee. Verder was dit ook verskeie weke onder die top 10 op Bosveldstereo se Afrikaanse Top 20, die kykNET Top 20 en VCR se Baanbrekers. Die musiekvideo kan steeds gereeld op die kassie gesien word.
Sharoney het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, wat deur ADAM se Hugo Ludik en Reynardt Hugo geskryf is, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan, al wat ’n treffersparade is, gekuier het.
Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en dit was ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het. Prinses, haar tweede enkelsnit uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo, was ook baie gewild en het dadelik lugtyd gekry oor die radio en ook op televisie. Die derde en vierde enkelsnitte, Fairytale en Wees My Held, het kort daarna gevolg en haar plek in die harte van Suid-Afrikaners verstewig en voortgebou op die sukses wat sy reeds bereik het.
Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy baie betrokke by liefdadigheidswerk. Verder is sy ’n gereeld gesig by funksies en feeste regoor die land. Tans is sy hard aan die werk met die opname van haar nuwe album, wat in 2020 vrygestel word, en is sy dankbaar vir elke geleentheid en hoogtepunt in hierdie hoofstuk van haar loopbaan.
Alhoewel 21 VIREWIG ’n sorgvrye tema en ’n moderne aanslag het, getuig dit ook van hoeveel Sharoney en haar musiek oor die jare gegroei het en dien dit as die perfekte lusmaker van die nuwe en opwindende rigting waarin haar loopbaan beweeg.
Olka Bolka E-Tydskrif het ‘n onderhoud met Sharoney gedoen om bietjie meer oor haar uit te vind.
Waar is jy gebore en het jy grootgeword?
Ek is gebore in die Oos Rand, in ‘n ou myn dorpie met die naam van Springs. Ek was in Laerskool Pam Brink en in Hoërskool Hugenote. Ek woon steeds in die Oos Rand en herleef my kinder herinneringe elk dag
Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?
Ek is tans finale jaar student en studeer BA Komminukasie Wetenskappe aand die Universiteit van Suid Afrika.
Vertel my van jou nuutse enkelsnit?
My splinternuwe enkelsnit geskryf deur Jattie de Beer ook deel van die groep Douvoordag getitle 21 Vir Ewig is heeltemal iets anders as waaraan Sharoney aanhangers gewoond is. Die enkelsnit is soo vars en soo gepas in die tyd waarin ons nou leef met musiek wat soo vining ontwikkel. Die enkelsnit se klanke is baie internasionaal en dit maak my opgewonde om sulke musiek in Afrikaans te kan maak. Die enkelsnit word die 24ste Jan op Die Groot Ontbyt vrygestel gevolg deur ander ekslusiewe vrystellings ook, die enkelsnit sal ook bekikbaar wees op talle digitale platforms gereed om regoor Suid Afrika in elke huis of kar te speel.
Skryf jy self jou liedjies?
Ek voel liedjie skryf kom met ervaring, gebeure en ondervinding. Ek self het nog nie die pen opgetel en begin skryf nie, maar ek het ongelooflike skrywers wat my soo goed ken en wat liedjies skryf wat vir my voel asof ek dit self geskryf het. Dis vir my sooo groot voorreg om lewe te gee aan ander skrywers se lirieke en dan my eie te maak.
Wanneer is jy op jou gelukigste?
Ek sien myself as iemand wat altyd geluk eerste plaas en kies om gelukkig te wees, maar ek dink ek is op my gelukkigste wanneer ek omring is met my harts mense, familie en vriende. Ek is mal daaroor om kwaliteit tyd saam my mense te spandeer, gewoonlik om ‘n braaivleis vuurtjie.
Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?
Ek sien myself as iemand wat my hart op my mou dra, ek is ‘n ekstrovert met ‘n klein hart. Ek is baie lief vir kinders en diere. Ek spandeer graag tyd in die natuur waar ek net weer kop kan skoon maak. Ek geniet ‘n lekker braai wanneer die tyd dit toelaaat. Ek is ‘n tipiese kaalvoetkind maar ‘n paar mooi skoene vang altyd my oog. Ek hou daarvan om te lag en glo dit hou mens jonk.
Waarna luister jy en hoekom?
Ek is baie lief vir Afrikaanse musiek, veral ‘n wanneer ek so bietjie kan lang arm. Ek het ook ‘n groot liefde vir die moderne country styl musiek en vind dat die lirieke die mooiste stories vertel. Anders luister ek na verkillende genres van musiek.
Som jou musiekstyl in een sin op?
My musiek is pop Afrikaans, dis vars, dis musiek wat lekker op die oor val, die tipe musiek wat jou voete laat juk om te dans en jou hande laat kruwel om saam te klap en dan jou lippe kry om saam te sing.
Watter invloed wil jy hê moet jou musiek op mense het?
Ek wil groot voetspore in die musiek bedryf agterlos, voetspore van hoop, positiwiteit, voorspoed en inspirasie. Ek hoop dat my stories en musiek menses al inpireer om aan te hou droom en om hard te werk om hul drome te bewaarheid.
Waarmee is jy op die oomblik besig?
Ek is baie opgewonde om aan ‘n nuwe album te begin werk. Ek is kinderlik opgewonde en sien uit om nuwe musiek en materiaal vry te stel.
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
My toekom is blink, glo ek elke dag en droom ek groot. Harde werk betaal sy loon en ek is kinderlik opgewonde om te sien waarheen my loopbaan op pad is. EK kan wel nog baie albums en nuwe musiek belowe met baie vertonings regoor die land. Vir nou fokus ek op die nuwe enkelsnit en nuwe album wat 2020 vrygetel word.
Wat inspireer jou?
Ek glo nog altyd dis die klein dingetjies in die lewe wat my inpireer. Ek voel ook ‘n mens kan altyd iets by almal leer.
As jy saam met enigeiemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?
Hierdie vraag is altyd soooo moeilik, want my lysie
is sooo lank. Ek het al die voorreg gehad om verhoë met baie inspirerende
kunstenaar te deel. Ek het in 2016 die geleentheid gehad om te toer saam Ray
Dylan, ek het die verhoog al gedeel saam Elvis Blue, Joe Black, ADAM, Elandré.
Dis net om ‘n paar te noem. Dis vir my onmoontlik om een enkele kunstenaar uit
te sonder. Ek moet sê vroulike kunstenaars soos Kelly Clarkson, Tina Turner,
Cher is groot inspirasie daar word na hulle verwys as ‘’ power houses’’ en dis
wat ek ook eendag as ‘’legacy’’ wil agter laat.
Wat is jou gunsteling:
Tipe Musiek
Ek is lief vir musiek oor die algemeen, Afrikaans bly my gunsteling maar verleen ook my hart aan country. Ek hou van musiek wat my laat goed voel en wat met tyd ook my hart snare kan roer.
Sanger
Chase Rice, Elandré, Luke Combs, Theuns Jordaan
Sangeres
Kelly Clarkson, Cher, Laurika Rauch
Band
Dan & Shay, ADAM
Gunsteling liedjie
Dit sal afhang van dei bui waarin ek is.
Rolprent
I Can Only Imagine
Akteur
Chris Hemsworth
Aktrise
Emma Stone
TV reeks en karakter
This Is Us, my gunsteling karakter in die reeks sal die Pa Jack wees
Kos en drankie
Ek is baie lief vir eet en het ‘n groot verskeidenheid smaak wanneer dit by kos kom. My gunsteling drankie sal ‘n goeie Whiskey met Soda water en twee of drie skuifies lemoen
Ontspanning
Vir ontspanning hou ek daarvan om weg te breek. Ons het ‘n plaas tussen Vaalwater en Ellisras en dis vir my lekker om te ontspan in die natuur.
Boek
Ek moet bieg ek is nie die grootste leser nie, maar het al ‘n boek Pienk Bikini gelees en was mal daaroor
Vakansie bestemming
Ek voel ek moet darm iewers oor ‘n Desember vakansie my voete in die seesand druk en ‘n lekker swem in die see van en hou daarvan om Hartenbos / Mosselbaai te besoek.
Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.
- Ek hou nie van konflik nie en is nie die beste in konflik hantering nie
- As iemand waarvoor ek baie omgee ongelukkig is of deur storm tye gaan dan krimp my hart.
- Wanneer iemand disrespekvol is, veral teenoor ouer mense dan krap dit my so bietjie om.
- Die een ding wat ek nie eet nie is tong, ek kon nog net nie vat kry om die dis te geniet nie.
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/www.sharoney.co.za
Twitter: @Sharoneymedia
Instagram: @sharoney01
Webblad: www.sharoney.co.za
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za