Skrywer
en jogi vier Taalmonument se 45ste fees met fokus op vlees en gees
Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument
(ATM) se 45ste feesjaar bereik ʼn skeppende Zen-hoogtepunt op 29 Februarie 2020
wanneer die bekende woordwonderwerker Diana Ferrus en die groenvinger-jogi
Lizet Mulder saamspan om deur woorde, digwerk en begeleide strekposisies te
ervaar wat ‘Rotsvas in Afrika’ vir elkeen beteken. ‘Groen en Gesond’ vind plaas
in die Groen Galery – die buiteluggalery tussen die beeldskone granietrotse en
ou olienhoutbome – en beloof om ʼn unieke ervaring te wees.
Dié geleentheid wat deel is van die Taalmonument se naweeklange vieringe, is
volgens die begeleiers ʼn kans “om te skryf, te luister en ons lywe se
herinneringe op te roep tydens hierdie fees vir ‘n taal van vele vorms, kleure
en geure”. Ferrus is ʼn pryswennende skrywer, storieverteller en stigterslid van
die Afrikaanse Skrywersvereniging. Sy is veral bekend om haar 1998-gedig oor
Saartjie Baartman wat eindelik daartoe gelei het dat haar liggaam vanaf
Frankryk na Suid-Afrika gerepatrieer is. Haar derde boek, ‘Die vrede kom
later’, is verlede jaar gepubliseer. Mulder is ‘n ervare Paarlse joga-afrigter
(sy het onder meer opleiding in Indië en Thailand ondergaan) met ʼn agtergrond
in landskapsargitektuur. Sy bring haar liefde vir mense, stories en die omgewing
byeen deur jogaklasse in die buitelug aan te bied waar deelnemers stories kan
uitruil en saam kan speel om hul gemoed tot ruste te bring.
Die aktiwiteit begin om 10:00 en duur tot 11:30, maar deelnemers is vry om
enige tyd ʼn blaaskans te neem. Deelname is oop vir enigiemand met ʼn dagkaartjie
vir die dag van musiek, stories, kindervermaak en ʼn mark op die wonderskone
Paarlberg. Daar is boonop ʼn 5km-pretstap (om 08:00, R30 vir volwassenes en R10
vir kinders onder 13) asook jazz-vertoning om te verseker álmal het ʼn prettige
manier om een van Afrika se jongste tale te vier. Die veeltalige,
multikulturele program met onder andere Jak de Priester, Lungi, V.I.T.O en
Jaloersbokkies sal Afrikaans in al haar pragtige gedaantes laat pronk om
sprekers en nie-sprekers met ʼn unieke, gesellige gees te omarm. Naas die
speelparke en buitelugspeletjies vir kinders, hou ʼn paar energieke oppassers
die jongspan uit die kwaad met ʼn poppekasvertoning, gesigverf en meer.
Dagkaartjies kos R80 vir
volwassenes en R40 vir kinders onder 13 – dit sluit alle aktiwiteite, ook Groen
en Gesond, asook vertonings vanaf 10:00 in. Dit is vooraf te koop by die
Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en
aanlyn via Computicket (www.computicket.co.za). Helaas word geen eie kos of drank toegelaat
nie. Vir besonderhede oor die 2020-feesprogram, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/
Saterdag se feesdag volg op Vrydagaand, die 28ste, se rock-troniese musiek van
Akkedis Band – Afrikaanse rock met ʼn stewige skeut Afrika-, reggae en
blues-invloede – asook Die Heuwels Fantasties se futuristiese elektronika
ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Drank- en
kosstalletjies beskikbaar; onthou warm klere en komberse.
Die Taalmonument bestuur onder
meer ʼn geletterdheidsprojek, het ʼn skool ‘aangeneem’ ten bate van Nelson
Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede
by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat ‘Baie
Dankie!’ Gaste word ook aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek aan
die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die ‘Laat ons
Lees!’-projek.
Vir meer oor al die ander
opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel
021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is
beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle
Volmaanpieknieks insluit.