Lizanne Barnard se album, Gevlerktes was vir ‘n Ghoema-Toekenning benoem in 2019 in die afdeling, Beste Kontemporêre album deur ‘n Vroulike Kunstenaar. Dit het haar aangespoor om te begin werk aan haar nuwe album wat sy graag voor die einde van 2020 uitgereik wil hê. Alhoewel die nuwe album, ‘Dwarshout’ getiteld gaan wees, spring sy die jaar weg met ‘n enkelsnit wat alreeds klaar is, genaamd “Ek’s Oppad”.
Die melodie het sy self geskryf en die lirieke was ‘n spanpoging saam met Pyjama Shark en Wayne Raath. Die inspirasie vir hierdie lied kom van Herman du Plessis se Facebook-blad waar hy ‘n storie gepos het met die titel, ‘Tert se Kersfeesverhaal’. Die liedjie beskryf elkeen se persoonlike lewensreis te midde van al die negatiwiteit tans rondom ons en waar elkeen hunker na ‘n plek van vrede.
Wat hierdie lied nog meer spesiaal maak is die mansstem wat saamsing en dan jou ore laat spits om te hoor wie dit kan wees. Niemand anders as die bekende akteur, Frank Opperman het ingestem om hierdie lied saam met Lizanne op te neem. Sy rou en growwe stem krap spore tot diep in jou hart waar jy dan elke woord diep kan verteer en begrawe.
‘Ek’s Oppad’ gaan deel vorm van dertien ander snitte op die album ‘Dwarshout’ waaraan sy tans werk. Al die liedjies op haar nuwe album vorm dan ook die klankbaan vir ‘n nuwe musiekteaterproduksie, ‘Barabbas by die Kruis’. Die teks van hierdie produksie is geskryf deur Professor Hans du Plessis, wat ons leer ken het met sy Griekwa-Psalms, asook Professor Bernard Odendaal. Al die toonsettings en verwerkings is gedoen deur Lizanne en mede-vervaardiger, Pyjama Shark.
‘Barabbas by die Kruis’ vertel die geskiedenis van die gebeure op die dag van Jesus se kruisiging soos gesien deur die oë van die veroordeelde Barabbas. Frank Opperman speel die rol van Barabbas in hierdie produksie.
Definitief iets om na uit te sien asook na Lizanne se nuwe album wat sy beskryf as progressiewe luisterliedere met orkes.
Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:
Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za