Vier saam-saam Taalmonument se 45ste jaar in 2020

ʼn Fabelagtige fees vir oud en jonk wink op die pragtige Paarlberg

Die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se feesjaar spring op 28 en 29 Februarie 2020 weg met ’n naweek van musiek, stories, kindervermaak en ʼn mark op die wonderskone Paarlberg. Daar is boonop ʼn pretstap, joga, jazz en digkunsklas om te verseker álmal het ʼn prettige manier om een van Afrika se jongste tale te vier. Die veeltalige, multikulturele program sal Afrikaans in al haar pragtige gedaantes laat pronk om sprekers en nie-sprekers met ʼn unieke, gesellige gees te omarm.

Vrydagaand die 28ste is Akkedis Band se Afrikaanse rockmusiek met ʼn stewige skeut Afrika-, reggae en blues invloede eerste aan die beurt. Op hul hakke volg Die Heuwels Fantasties se futuristiese elektronika ineengevleg met subtiele kitaarelemente en intelligente lirieke. Drank- en kosstalletjies beskikbaar; onthou warm klere en komberse.

Saterdag, Skrikkeldag, begin met ʼn ‘45 Minute vir Afrikaans’-pretloop waartydens deelnemers stap-stap die pragtige fynbosbedekte berghange en onbekende paadjies kan verken. Diegene wat dit binne 45 minute voltooi, ontvang goue medaljes, maar talle geluktrekkings met kontantpryse is op die spel vir álmal. ʼn Kos-, kuns- en kunsvlytmark sal in talle behoeftes voorsien terwyl ‘Groen en Gesond in die Groen Galery’ (die buiteluggalery tussen die rustige granietrotse en olienhoutbome waar opkomende Afrikaanse skrywers se werk uitgestal word) aan dieper behoeftes aandag gee. Die bekende woordwonderwerker Diana Ferrus bied ʼn meestersdigkunsklas vir een en almal aan, maar vir diegene wat meer poëties met hul lywe wil omgaan, is ʼn jogaklas die Zen-ste opsie.

Naas die speelparke en buitelugspeletjies vir kinders, hou ʼn paar energieke oppassers die jongspan uit die kwaad met ʼn poppekasvertoning, gesigverf en meer. Dit terwyl die res die klassieke klanke van Paarl Vallei Eisteddfod se talentvolle musikante aanhoor aan die voet van die indrukwekkende, simboliekgelaaide beeldhouwerk wat erkenning aan Afrikaans se Europese, Suidoos-Asiatiese en Afrika-wortels gee.

Die middagprogram om 13:00 sluit ʼn kort verwelkoming deur Jawaahier Pietersen, akteur en sanger, asook Michael Jonas, direkteur, in. Daarna spring Jaloersbokkies op die verhoog, so eg Kaaps soos breyani en koesisters, soos ghoema en winterreën. Volgende is Vito Heyn oftewel V.I.T.O aan die beurt. Dié jong rymkletser van Namakwaland maak vinnig opgang danksy sy oorspronklike inheemse Nam-Afrikaanse lirieke en Boheemse styl.

Elias P Nel, die ‘bek sonner brieke’ is die bobaasstorieverteller wat almal aan sy lippe laat hang danksy verhale gevul met bittersoete én uitbundige humor. The Unknown Dance Crew volg hom op; gewapen met handskoene en maskers, vergas en verras dié groep malse teatrale dansers hul gehore keer op keer met hul onverwagse, snelvloeiende uitvoerings op die maat van oorspronklike musikale kombinasies.

En dan is dit Jak de Priester. Sedert hierdie sanger en digter se debuutalbum het talle nommer-een radiotreffers, toekennings, benoemings en suksesvolle albums gevolg – hoor self waarom ‘Jak’ en ‘sangsensasie’ gewoonlik in dieselfde asem genoem word.

Nog ʼn hoogtepunt van die dag is die jazzkonsert in die Tuinteater, die perfekte klankbaan vir ʼn soel laatmiddag. Lungelo Motaung, oftewel Lungi, is ʼn gewilde kunstenaar by musiekveneus en word geloof vir haar vokale reikwydte, verhoogpersoonlikheid en interpretasie van ʼn wye verskeidenheid items. Daarna volg Ramon Alexander, ʼn musikale maestro wat nuwe lewe in Kaapse jazz blaas met oorspronklike komposisies en vingers wat flatervry oor die klavier se akkoorde gly. ʼn Weergalose sononder-bederf is dus op hierdie skrikkeldag-spyskaart!

Kaartjies (R150/R70 vir Vrydag en R80/R40 vir Saterdag) is vooraf te koop by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Paarl (021 872 3441/863 0543) en aanlyn via Computicket (www.computicket.co.za). Vir besonderhede oor die 2020-feesprogram, sien www.taalmuseum.co.za/feesprogram-1975-2020/

Die Taalmonument bestuur onder meer ʼn geletterdheidsprojek, het ʼn skool ‘aangeneem’ ten bate van Nelson Mandela en borg gratis vervoer na die monument. Deur bloot die feesgeleenthede by te woon, ondersteun gaste die uitreikprogramme, so by voorbaat ‘Baie Dankie!’ Gaste word ook aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek aan die Besoekersentrum te skenk ter ondersteuning van die ‘Laat ons Lees!’-projek.

Vir meer oor al die ander opwindende geleenthede, buiten die 2020-vieringe, by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →