Groot oes SAFTA-benoemings vir kykNET

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Die benoemings vir vanjaar se SAFTA’s (South African Film & Television Awards) is vroeër vandag bekend gemaak en kykNET skitter in bykans al die kategorieë met ‘n reuse totaal van 68 benoemings.

In die afdeling vir uitblinkers in die TV-wêreld het die volgende programme op die kykNET-kanale benoemings gekry:

In die afdeling vir telenovela’s is Arendsvlei benoem vir beste regie, draaiboek, klankbaan, kostuums, kunsregie en Crystal Donna Roberts is as beste aktrise en Roberto Kyle Meyer is as beste akteur benoem. Die reeks is ook as beste telenovela benoem.  

kykNET en kykNET&kie se gewilde sepies het ‘n heel paar benoemings ingepalm. Binnelanders is benoem vir beste regie, beste klank, Ben Kruger is as beste manlike byspeler benoem en die reeks is as beste sepie benoem. Getroud met rugby is vir beste draaiboek en best klank benoem. Suidooster se Denise Newman is as beste aktrise benoem en Ivan Abrahams as beste manlike byspeler. Die reeks is ook as beste sepie benoem.

kykNET se dramareekse het net so goed gevaar. Jaco Bouwer is as beste regisseur vir Dwaalster benoem en die reeks is ook benoem vir beste klank. Spreeus het benoemings gekry vir redigering, klank, klankbaan en kinematografie en die reeks is as beste TV-drama benoem. Alles Malan is benoem vir klank, klankbaan, hare en grimering. Deon Lotz is benoem as beste manlike byspeler vir sy rol as Albertus “Smiley” Kriel in Die Byl 2 benoem.

Kokkedoor is benoem as beste kompetisie-realiteitsprogram, Die Ware Naarheid as beste verskeidenheidsprogram en Emo: 30 Jaar in Musiek is as beste vermaakprogram benoem. Elders: Japan het ‘n benoemings as beste leefstylprogram gekry.

Rolprente waarby kykNET betrokke was, het behoorlik die benoemings ingepalm waaronder Die Begrafnis (beste kortfilm) en Droomman asook Stillenag (beste rolprente vir TV vervaardig). Die speelfilms Poppie Nongena, Fiela se kind, Die verhaal van Racheltjie de Beer, ‘n Ander mens en Die seemeeu het tussen hulle nie minder nie as dertig benoemings gekry nie. Die verhaal van Racheltjie de Beer, Fiela se kind en Poppie Nongena is die drie benoemdes in die kategorie best speelfilm. Sandra Prinsloo (Die Seemeeu), Zenobia Kloppers (Fiela se kind) en Clementine Zitha (Poppie Nongena) is as beste aktrise benoem en Stian Bam (Die Verhaal van Racheltjie de Beer) en Albert Pretorius (Die Seemeeu) is as best akteur benoem. Cintaine Schutte (Die Seemeeu), Anna-Mart van der Merwe (Poppie Nongena) en Wayne van Rooyen (Fiela se kind) is vir hulle ondersteunende spel benoem. Brett Michael Innes (Fiela se kind) en Christiaan Olwagen (Poppie Nongena) is as beste regisseurs benoem.

Die wenners in die tegniese-afdelings word op Vrydag 27 Maart aangekondig by ‘n glasfunksie by die Sandton Konferensiesentrum en die toekennings in die ander afdelings sal op Saterdag 28 Maart oorhandig word.

Related posts