Sopraan eer haar ma se nagedagtenis met Janita Claassen-Treffer

Wat gebeur wanneer ’n uiters begaafde sopraan haar talente inspan om een van haar gunsteling Janita Claassen-liedjies op te neem?

’n Hoendervleismooi verwerking word geskep, wat nie net hulde bring aan dié oorlede sangeres nie, maar ook aan al die wonderlike ma’s daar buite.

Belia Lourens het pas haar weergawe van die treffer, LIED VIR MA, vrygestel en die eindresultaat beloof om luisteraars se asems weg te slaan.

“Niemand is of sal ooit vir jou so lief wees soos jou ma nie. Ons verstaan nie altyd hierdie tiepe liefde nie, maar ons kan altyd daarvoor dankie sê,” verduidelik dié Weskaapse musikant oor die boodskap wat sy graag met hierdie enkelsnit wil oordra.

Die lied, wat deur Janita Claassen en E.A. Marais geskryf is, lê haar ook na aan die hart omdat dit haar aan haar eie ma herinner. “My ma is agt jaar gelede oorlede. Sy was nie net my ma nie, maar ook my beste vriendin en ek mis haar nog elke dag,” deel Belia. “Ons kon saam lag, maar ek kon ook by haar huil. Ek kon haar raad vra en veilig voel in haar liefde en opregtheid. ’n Ma kan nooit vervang word nie en ek sal altyd dankbaar wees vir haar liefde.”

LIED VIR MA is die eerste enkelsnitvrystelling vanaf haar komende album, Belia Sing Janita Claassen, en bied voorwaar ’n treffende voorsmakie van wat luisteraars van die res van die inhoud kan verwag. Dit bevat ’n mengsel van gewilde en sentimentele verwerkings, wat tien van Janita se grootste treffers, twee Belia-bonussnitte en een klassieke liedjie, insluit.

Belia het in ’n musikale huis grootgeword, maar eers op vier-en-dertig haar musiekopleiding aan die Stellenbosch Konservatorium voltooi, nadat haar pa in ’n fietsongeluk dood is. “Ek het besef dat musiek die som van my bestaan is en ek moes gehoorsaam wees aan God,” getuig sy.

Sedertien het sy waarlik haar lewensdoel uitgeleef en na twee dekades in die musiekbedryf, het sy reeds verskeie albums op haar kerfstok, waaronder Kom dans Klaradyn, Leef met my eie liedjies, en Die Kroon van die Skepping. Oor die jare is sy vir verskeie toekennings benoem, insluitend Huisgenoot Tempo-, AMT- en Vonk-toekennings.

Sy was ook vir vier jaar lank Manuel Escorcio se sangmaat, waartydens die duo hulle vertoning, Sy en Satyn, meer as 200 keer opgevoer het. Op haar eie, het sy ook reeds by van die land se grootste funksies en musiekfeeste opgetree, soos Aardklop, KKNK en vele meer. 

Deesdae deel sy gereeld haar solo-produksie, ’n Skatkis vol juwele, by vrouefunksies. Verder is Belia ook ’n ambassadeur van The Princess Project. Dié projek, wat deur Erica Pienaar gestig is om matriekmeisies se drome waar te maak deur rokke aan hulle beskikbaar te stel, het reeds drie-en-dertig takke regoor die land. Dit is die sangeres se werk om bewusmaking hieroor te skep en mense te motiveer om nog takke te open.

Haar droom vir die toekoms, is om nie net vir plaaslike Suid-Afrikaners musiek te maak nie, maar ook vir landsgenote wat in ander lande woon. Sy sal ook nog graag in België wil optree en saam met Jo Black wil werk. “Dit sal nou wel ’n bietjie uit die boks wees, maar ek dink ons stemme kan saam iets baie interessant maak. Ek hou van sy uitkyk op die lewe.”

LIED VIR MA is ’n hartroerende ode aan merkwaardige vroue in die samelewing. Die enkelsnit stel nie net Belia se pragtige stem ten toon nie, maar getuig ook van haar veelsydigheid as musikant. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/Belia-Lourens-1857377031200904/

Instagram: @lourensbelia

Webblad: www.belialourens.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

STARBURST PROMOTIONS
Jacques Perie – ADMINISTRATION

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →